Suid-Afrika se ekonomiese herstel berus in ’n groot mate op die skep van ’n meer bemagtigende sake-omgewing en om die regte strukturele ekonomiese hervorming in te stel. Suid-Afrika moet voorkeur gee aan dié hervormings wat op kort en lang termyn resultate lewer. Die neiging van die regerende party om na ideologiese denke terug te keer, moet opsy geskuif word ten einde die ekonomie te red.

Die landboubedryf was een van die helde van 2020. Terwyl die meeste bedrywe in die eerste nege maande van verlede jaar gekrimp het, het die landbou met 11% gegroei. Landbou-uitvoer het verlede jaar $10,2 miljard beloop — ’n toename van 3% vergeleke met 2019.

As die bedryf egter ’n rol wil bly speel in die ekonomiese herstel van Suid-Afrika, waaronder die vermindering van werkloosheid, moet die regering ’n meer bemagtigende omgewing bied. ’n Aantal wette en regulasies onder die vaandel van grondhervorming en herverdeling van grond – wat die vuurwarm gedebatteerde wetsontwerp oor onteiening insluit – skrik beleggings in kommersiële boerdery met goeie rede af. Kommersiële boere het ’n waarborg nodig dat hul grond nie blindelings onteien sal word nie wanneer hulle nuwe beleggings oorweeg.

Pogings tot grondhervorming moet gerig wees op die oordrag van eienaarskap aan opkomende boere sodat hulle toegang tot finansiering kan kry. Dit sal egter ’n ideologiese verskuiwing in die regerende party vereis.

Om die vermoë te verseker om landbouprodukte uit te voer, moet die land toesien dat sy hawe-infrastruktuur voldoende in stand gehou word en dat doeaneprosesse vaartbelyn is om groter doeltreffendheid te verseker.

Hoewel die landboubedryf een van die suksesverhale van die plaaslike ekonomie in 2020 was, is dit nie onaangeraak deur die gevolge van die Covid- 19-pandemie nie. Sekere sektore van die bedryf, waaronder druiwe, gars en mielies vir die produksie van wyn, bier en whisky, is ingrypend geraak deur die verbod op alkoholverkope.

Landbou-indiensneming in baie provinsies het gedurende die jaar afgeneem.

Die verhoogde brandstofheffing – die jongste verhoging van 27c per liter word saamgestel uit 15c per liter vir die algemene brandstofheffing, 11c per liter vir die heffing op die Padongelukkefonds, en 1c per liter vir die heffing op koolstofbrandstof – gaan bykomende druk op die landboubedryf plaas. Hierdie verhogings, wat gewoonlik op plaasvlak geabsorbeer word, plaas verdere druk op die bedryf, aangesien dit kort op die hakke volg van ’n 16%-loonverhoging en 15%-verhoging in elektrisiteitstariewe.

Wat die melkbedryf betref, sal die prys wat aan die boer betaal word vir 1 liter melk, nie enige van hierdie verhogings weerspieël nie. Wat die situasie vererger, is die feit dat plaaslike melkboere wat prys betref, meeding met ingevoerde produkte uit lande met goed gesubsidieerde suiwelprodukte. Een moontlike oplossing hiervoor is ’n invoertariefooreenkoms om die speelvlak gelyk te maak vir plaaslik vervaardigde goedere.

Stygende insetkoste, onder meer in die vorm van verhoogde energiepryse en landbouvoerpryse, sal uiteindelik ’n impak hê op voedselprysinflasie wat, indien moontlik, in die huidige omgewing vermy moet word.

Die landboubedryf vra al lank vir meer steun aan opkomende boere. Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het R896,7 miljoen opsy gesit om voorsiening te maak vir ondersteuning aan opkomende boere wanneer hulle gevestig is. Hierdie syfer sal die werwing van ongeveer 10 000 ervare voorligtingsbeamptes insluit om opkomende boere by te staan.

Benewens advies moet die regering egter ook toesien dat opkomende boere, veral kleinboere, toegang tot finansiering het. Sonder toegang tot bekostigbare finansiering is dit bykans onmoontlik om nuwe kommersiële boerderybedrywighede te vestig. Agri SA vra al lank vir ’n uitkomsgebaseerde finansieringsbenadering wat gekoppel is aan tegniese en mentorsteun.

Baie kommersiële boere vertrou op die Land Bank vir bekostigbare finansiering. Die bank is tans verantwoordelik vir ongeveer 28% van die bedryf se landbouskuld. Dit het ’n reddingsboei van R7 miljard in die jongste begroting ontvang. In die lig van die noodsaaklike rol van die bank in die bedryf is dit noodsaaklik dat sy volhoubaarheid op lang termyn verseker word deur behoorlike oorsig en bestuur. Die ideaal sou wees deur ’n openbare-private vennootskap.

Daar ly geen twyfel nie dat ’n vooruitstrewende landboubedryf noodsaaklik is vir die eko- nomiese herstel van Suid-Afrika. In ’n veeleisende omgewing moet die regering egter nie net meer sekerheid oor beleid bied nie. Dit moet ook minder beperkende regulasies verseker om die groei van die bedryf moontlik te maak.