As hoof van die plaas is jy 100% verantwoordelik vir jou en jou mense se veiligheid. Die polisie kan jou nie beskerm nie, soos al oor en oor bewys is.

Wees te alle tye gewapen met die wapen aan jou lyf. Maak seker jou huis en veral die slaapgedeelte is behoorlik beskerm met staalsekuriteit by vensters en toegangsdeure. Hou altyd ’n paar groot honde buite aan, en ’n keffertjie binnenshuis. Moet nooit uitgaan om ondersoek in te stel nie en moenie ná sonsondergang buite sit nie, veral as daar nie skerp ligte is wat weg van jou af skyn nie.

Hou spreiligte wat weg van die huis skyn, dwarsdeur die nag aan. Maak seker dat die kragvoorsiening nie afgeskakel kan word nie. Moenie dat vreemdelinge naby jou kom nie. Afstand help om nie gewond te word nie.

Goeie langtermynverhoudings met jou werkers is noodsaaklik. Wees altyd paraat. Moet nooit dink dit kan nie hier gebeur nie. Die toestande gaan nie verbeter nie. Inteendeel. Daar is tans elektronika en selfone wat suksesvol vir plaassekuriteit gebruik kan word.

RISIKO’S EN SKADE

Ek het in die 42 jaar op die plaas en in die stad ál die risiko’s beleef, maar het ’n volledige boerderyeenheid van niks af opgebou. Ek het te make gehad met talie diefstalle, inbrake (en selfs ’n kaping) in Bryanston en op die plaas. Skape is gesteel en beeste is op die plaas geslag.

’n Polisiekluis is met ’n slypsteen oopgesny en die inhoud verwyder. My hele huis is al leeg gestroop en die gordyne is aan die brand gesteek. Wonderbaarlik het die huis behoue gebly. ’n Skuur is oopgebreek en twee motorfietse gesteel. Ek het met buiteligte aan en ’n jaggeweer – patroon in die loop, maar nie oorgehaal nie – voor my bed geslaap.

Met elke voorval is die polisie ontbied. Hulle arriveer met ’n bakkie, gewoonlik ná ’n lang gesoek ten spyte van duidelike aanwysings en die plaasnommer wat aan hulle gegee is. ’n Vorm kom te voorskyn en ’n verklaring word afgeneem. Dan die vraag: “Who is the suspect?”

Ek het een keer self die diewe by die vendusie geïdentifiseer en in hegtenis laat neem. Die polisie se taak “afgehandel”. Die vorm is ingevul. Geen speurwerk word gedoen nie. Hulle vertrek, jy kry later die saaknommer op jou selfoon, en dis die einde van die storie.

TYD VIR OPTREDE

Daar is in die verlede baie geskryf en gesê oor plaasaanvalle. Waar laat dit ons kosbare boerderygemeenskap? Die tyd is verby vir mooipraatjies wat geen resultate opgelewer nie. Sê in ondubbelsinnige taal dat die boeregemeenskap homself van nou af gaan beskerm met wat ook al nodig is, met ander woorde selfverdediging.

Ons kan nie ’n dag langer toelaat dat misdadigers ons land se kosprodusente uitmoor en gruwelik mishandel nie. Gee boere raad oor veiligheidsreëls en selfdissipline, soos hierbo uiteengesit. ’n Tyd terug is my tweede plaas se verkoop geregistreer. Uit die boerdery uit.

Wat hou ons familie oor? Net wonderlike herinneringe van kuiers met familie en vriende, vleisbraai, perdry, motorfietsry, ontspanning en familietyd vry van die stadsgejaag. Net jammer dat dit nie in ’n beskaafde land kan voortduur nie! Sukses vorentoe.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.