As die vrou van ’n saaiboer het ek ’n paar vrae oor die statutêre heffing op sojabone wat deur saadtelers gebruik moet word vir verdere saadontwikkeling.

Ek verstaan dat groot saadmaatskappye, soos Pannar en Monsanto, absoluut net op wins ter wille van die aandeelhouers konsentreer en daarom nie graag navorsing wil doen in ’n land waar hulle nie hibriedesaad kan lewer nie en boere geredelik en met goeie gevolge saad kan terughou.

Dit maak ook sin dat kleiner maatskappye en private saadtelers nie die nodige geld het om navorsing vol te hou nie. Maar hoe word hierdie heffing op grondvlak – silovlak – prakties toepas? Wat gebeur wanneer die boer se trekker en wa by die silo inry?

Dikwels is die drywer ’n werker wat nie weet watter saad hy in die wa het nie. Kry die boer ’n afskrif van die indieningsdokument? Hoe weet die boer dat die heffing wel na sy saadteler toe gaan en nie na een van die groot maatskappye nie? Hoe word moontlike bedrog met hierdie heffing voorkom?

Ek kan net dink op hoeveel plekke foute kan insluip. Ons het reeds daarmee te doen gehad toe die administrasieklerk van ’n silo nie van die spesifieke saadteler kennis gedra het nie en bloot ’n ander maatskappynaam ingesleutel het.

Daar was ook ’n ander geval waar geen verwysing na die heffing in die leweringskontrak gemaak word nie. Dit is mos onaanvaarbaar. Of is dit waar die landbou in Suid-Afrika nou is? Net nog ’n korrupte staatsmasjien?

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.