Is ons te selfsugtig, of wat? Die geoganiseerde landbou het ’n paar jaar gelede ’n beroep gedoen dat boere minder mielies plant, maar dan gaan ander boere en huur grond by. Ek dink dit is tyd dat ons mooi dink oor hoeveel mielies ons moet plant. Ons plant ons bankrot. Jy dink mos jy is so diep in die skuld dat jy alles móét beplant.

Die prys is waar hy is omdat ons boerderypraktyke so verbeter het en die saad se opbrengs so verhoog het dat die verbruik van mielies nie so vinnig kon groei soos die opbrengs nie.

Ek het ’n som gemaak wat wys dat dit gaan betaal om 30% minder mielies te plant. Byvoorbeeld, jy plant 1 000 ha teen ’n insetkoste van R8 000 per ha en jy stroop 4,5 ton per ha teen ’n produsenteprys van R1 800 per ton. Dan is jou wins R100 000.

As jy 700 ha plant teen ’n insetkoste van R8 000 per ha en jy stroop 4,5 ton per ha teen ’n prys van R2 800 per ton, is jou wins sowat R3,2 miljoen. Jy is dus R3,1 miljoen beter af. Jy het boonop 30% van jou lande laat rus, wat sal meebring dat jy volgende jaar beslis ’n opbrengsverhoging sal hê.

Ons moet volgens die verbruik plant sodat die prys na invoerpariteit toe beweeg en ons volhoubaar kan boer. Ek hoop dat ál die boere só kan dink.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.