PHILIP JONKER van Weltevrede skryf: Baie geluk en welgedaan aan Landbouweekblad se span. Daar gaan nog baie terugverwys word na hierdie twee dae. Geluk dat julle dit reggekry het. Die wêreld kyk, en ek weet baie sal hieruit voortspruit.

Dit sal goeie vrugte afwerp. Ons sal eers in komende jare besef watter verskuiwing oor hierdie twee dae plaasgevind het – in mense se harte én struktureel in die vorming van Suid-Afrika. Dit is opwindende tye om oor grense te tree en dit buite ons gemak- sone te waag om mekaar aan die ander kant te vind. Welgedaan met hierdie aksie en dat dit so goed uitgevoer is.

NICK SERFONTEIN van die Sernick-groep skryf: Ek het regtig nie genoeg woorde om julle geluk te wens nie. Ek glo nie iemand besef wat dit geverg het om hierdie beraad ’n werklikheid te maak nie. Die momentum moet daar bly. As julle hulp nodig het, skree.

FRANCOIS STRYDOM van Senwes skryf: Baie geluk. Julle kan baie tevrede wees met die beraad. Welgedaan. Ek is baie gelukkig met ons blootstelling en die gehalte van wat ons beleef het. Hierdie beraad sal as ’n draaipunt in die landbou ont- hou word!

JOHAN GROBLER van Senwes skryf: Dit is nou die spreekwoordelike stilte ná die storm. Net ’n woord van gelukwensing met ’n puik beraad. Dankie dat Senwes deel kon wees van dié geskiedkundige oomblik.

NAUDé PIENAAR van Agri Noordwes skryf: Baie geluk en baie dankie vir ’n inspirerende en suksesvolle geleentheid. Dankie vir al jul harde werk.

TOBIAS FOURIE van Limpopo Dairy skryf: Ek wil julle gelukwens met die twee dae lange beraad. Weereens dankie vir die geleentheid. Welgedaan!

BEN ALBERTS skryf: Wel, manne, waar begin ek? As die herlewing in die Kaap gaan begin (ek dink dit het reeds), het die reformasie op 23 Augustus in Bela-Bela begin. Wat goed kan uit Nasaret uitkom? Wel, dis ons God se manier. Boer ná boer het opgestaan en getuig hoe hulle met een klip vir Goliat ’n stofwolkie laat uitwaai het.

Boer ná boer het halfpad deur hul PowerPoint-aanbiedings begin stotter soos die salwing van God hulle tot trane gedryf het. Wie sou kon dink dat die man wat almal so verdag dop-hou (adj.pres. David Mabuza) sou opstaan en ’n staats- mantoespraak lewer?

Wie sou kon dink die direkteur-generaal van die Landbou sou bid dat die Heilige Gees ons almal vervul en dat Hy die antwoord is waarop ons almal gewag het? Wie sou kon dink dat die Here ’n swart man sou gebruik om die boere uit te daag om die hele volk (nie net die boere nie) die beloofde land in te vat.

En wie sou kon dink dat die Here ’n voormalige Dopper- dominee sou gebruik om die sluis oop te maak? Hy kon be- swaarlik ’n meer gepaste naam as Petrus gehad het. Manne, die garsoes se eerste are is ryp, die jubeljaar is op ons! Blaas die basuin.

EDDIE PRINSLOO van Heuningkrans skryf: Baie geluk met ’n puik en geslaagde beraad. Dit is vir ons as familie lekker om met julle geassosieer te wees.

DR. LANGELIHLE SIMELA van Absa-Agribesigheid skryf: Baie dankie vir ’n historiese “goedvoel”-gebeurtenis in die landbou. Dit was ’n opbouende gebeurtenis. Ons is lank met pessimisme gebombardeer en dit was so verfrissend om op die ongelooflike verhale van welwillendheid in ons sektor te kon klem lê.

MICHRIS JANSE VAN RENSBURG van Bultfontein skryf: Baie, baie geluk met Landbouweekblad se dinge die afgelope week. Julle kan regtig trots wees. Julle maak ’n verskil!

DR. FAFFA MALAN skryf: Baie, baie geluk. Dit is so lekker om deel te wees van ’n wenspan! Ek is dankbaar ek kon die historiese gebeurtenis bywoon.

PETA THORNYCROFT van The Daily Telegraph skryf: Jul grondberaad is werklik wonderlik.

GCINA MADASA skryf: Welgedaan met die beraad. Ek noem dit die beraad wat Suid-Afrikaners bymekaargebring het en wat die Mandela-nalatenskap dra. Dit is die ware Suid-Afrika wat prakties trots is op ons land, en die ware ondersteuners van die Grondwet wat verklaar die land behoort aan almal wat hier woon – swart en wit.

DOMINIQUE BOTHA skryf: Dit was ’n inspirerende dag en ’n merkwaardige prestasie. Ons voel trots en dankbaar. BOK ERASMUS skryf: Ek sa- lueer Landbouweekblad en sy redaksie, met al sy borge, sprekers en rolspelers, wat ’n enorme bydrae gelewer het om op te tree teen die Regering se potensiële grondgrype.

DIRK STRYDOM van Graan SA skryf: Baie dankie vir jul reëlings, geloof en geduld met die grondberaad. Julle het in twee dae Suid-Afrika weer hoop gegee en die land verander. Ek is dankbaar vir jul bydrae. Julle het ’n verskil in Suid-Afrika gemaak.

LIZETTE DU PLESSIS BREMER skryf: Baie geluk, Chris Burgess en jou span. Julle het baie waarde toegevoeg tot hoop vir die toekoms. Ons almal wat die beraad bygewoon het, is verander en sal saamwerk aan ’n toekoms vir ons nageslag. Baie dankie dat ons geleenthede en oplossings kan sien en dankie dat julle nuwe verhoudings bou as ’n grondslag vir ’n goeie uitkoms.

LIZETTE PRINSLOO skryf: Baie, baie geluk. Dit was fantasties, baie positief en nodig vir ons land. Jul reëlings was puik en alles was van topgehalte. Julle kan julself op die skouer klop. Uitstekend! Ek wens elke boer kon dit bywoon.

HENDRIK SMITH van Graan SA skryf: Welgedaan, goeie spanpoging!

JAPIE GROBLER skryf: Die land is vanoggend ’n beter plek. Dankie, en moenie ophou nie.

WILLEM VAN HEERDEN skryf: Goeie werk, Landbouweekblad. Ons boere sal die grondkwessie laat werk!

KOBUS LAUBSCHER skryf: Baie geluk. Julle het die proses na ’n volgende vlak geneem deur geleentheid te gee vir debat en deelname. Die beraad is net nog ’n voorbeeld van waar die waarheid onverskrokke gesoek word.

ROBYN WHITTAKER van Partners for Possibility skryf: Ek verkondig dit wyd dat om hierdie beraad by te woon, een van die hoogtepunte van my jaar was. Ek het dit beslis nie verwag nie! Ek was al selde so diep geraak deur die suiwer menslikheid van ons as Suid-Afrikaners. Om die buitengewone werk van burgerskap te sien plaasvind in gemeenskappe wat vir so lank deur sulke moeilike tye is (na albei kante toe) en so gebrandmerk is, was pragtig verby.

JAN-LOUIS PRETORIUS van Partners for Possibility skryf: ’n Groot dankie aan Chris Burgess van ons almal vir sy groot hart, sy buitengewone ondersteuning vir Partners for Possibility, en dat ons by die grondberaad teenwoordig kon wees.

GERRIT VAN VUUREN skryf: Beste Chris en die span van Landbouweekblad, baie dankie vir die voorreg om die beraad te kon bywoon en vir jul uitstekende reëlings. Baie geluk met die inisiatief wat julle geneem het en jul leierskap om grondhervorming op hierdie wyse in die regte perspektief te plaas. Julle het hiermee voorwaar daarin geslaag om Landbouweekblad se plek as die voorste landbou- tydskrif te herbevestig.

PATRICK SEKWATLAKWATLA van die Sernick-groep skryf: Baie dankie vir jul gasvryheid en vir die reël van ’n puik byeenkoms.

SUSARI TEUBES van Graan SA skryf: Baie geluk met ’n uiters geslaagde grondberaad. Hier by ons gons dit behoorlik daaroor.

MARLON ABRAHAMS van Senwes skryf: Net ’n kort nota om dankie te sê vir ’n fantastiese en heel waarskynlik geskiedkundige beraad. Sterkte vorentoe.

ANNELIZE CROSBY van Agri SA skryf: Julle is ’n ongelooflike span. Dit was ’n groot voorreg om saam met julle aan die grondberaad te werk. Baie geluk en baie dankie.

LARDUS ERASMUS skryf: Baie dankie en geluk met ’n uiters inspirerende en suksesvolle geleentheid.

RINA EN NORMAN BELCHER skryf op Facebook: Ons is hier. Dis ons beste besluit nóg! Wat ’n ongelooflike en opwindende byeenkoms. Geluk aan die organiseerders. Een van die bestes wat ons al bygewoon het.

PRELINE SWART van Graan SA skryf op Facebook: Dag 1 is verby. Dit was ’n ongelooflike dag waaroor lank gepraat sal word. Elke spreker se hartklop en passie kon duidelik gehoor en gevoel word wanneer hulle in hul eie taal hul unieke stories aan ons vertel het. Ek is superoptimisties . . .

Een ding wat vandag vir my uitgestaan het, is dat boere in diepe afhanklikheid van God leef en dit weet. Elke verhaal was uniek, maar tog kom dit daarop neer dat elkeen ’n verskil maak in sy of haar omgewing. Nederige oomblike. Dankie aan Landbouweekblad en Agri SA dat julle hierdie broodnodige beraad moonlik gemaak het in dié tyd waarin ons as boere die goeie stories moet hoor.

Ek glo daar is hoop.

DR. CHARL VAN DER MERWE skryf: Ek glo die beraad was ’n Goddelike ingryping. Ek wil julle bedank dat julle gehoorsaam was en dit gereël het. Baie geluk met die beraad – dit was op alle vlakke ’n groot sukses. Ek dink die geskiedenis sal hierna verwys as ’n keerpunt. Ek bid vir julle wysheid en insig toe om vorentoe te gaan.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.