Onderstaande is ’n uittreksel – met toestemming van die skrywer – uit ’n brief van vriende wat van die Vrystaat af na De Aar gery het. Die beskrywing van die droogte is uitmuntend.

“Vandag groet ons jou hier vanuit De Aar in die Noord-Kaap. Op pad hierheen het die droogte van die landstreek soos ’n taai lap om ’n mens se lyf kom klou. Hoe nader ons aan die dele beweeg waar die reën wegbly, hoe kaler raak die aarde en skraler die veld. Mettertyd sien jy hier en daar ’n droë bossie, maar tussenin net harde, bar stukke grond wat lyk of die gebrek aan reën kloue ingeslaan en die vrugbaarheid van hierdie grond neergevel het.

“Daar is nie skape te sien in dié andersins ryke skaapwêreld nie. Net droë vlaktes wat droogte en dors uitskree. Die spruite, damme en riviere is krukdroog en roep ten hemele vir lafenis van oorvloedige, welkome reën. Selfs die windpompe kreun hulproepe uit met die draai van die wiele op die wind.

“Dit breek ons harte en ons bid hardop sommer so in die ry en smeek God om asseblief genadig te wees, soos net Hy kan. En ons wéét net ons Here kan reën stuur – op Sy tyd.”