In November 2019 geneem op mnr. Coenraad Kotze sr. se plaas, Simon’s Hope, by Griekwastad in die Noord-Kaap terwyl daar met Dorperskape gewerk is, is dié beeld van die boer wat na ’n Dorperlammertjie kyk in ’n landskap waar die weiding lankal op is, een wat diep emosies by enige veeboer uitlok.

Die foto is heel gepas bekroon as die foto van die jaar in BKB en Landbouskrywers SA se jaarlikse fotokompetisie. Een van die boere wat diep deur die foto geraak is, is oom Frans Conradie van die vrugteplaas Koelfontein naby Ceres in die Warm Bokkeveld.

Terwyl dié deel van die Boland meer bekend is om sy vrugteboerderye, is daar ’n lang tradisie in dié geweste van boere wat met hul skaaptroppe in die winter uit die koue van die Warm en Koue Bokkeveld na die warmer, ekstensiewe gebiede in die aangrensde Tankwa-Karoo en Ceres-Karoo getrek het om ook die weidings op die tuisplase deur die winter te laat rus. Dit is juis dié tradisie, ook gevolg deur oom Frans in sy dae as aktiewe boer, wat die foto besonder treffend vir hom gemaak het.

Om sy emosies oor die foto akkuraat vas te lê, het oom Frans homself na die digkuns gewend, en ’n paar gepaste gedigte gekies. Die eerste is By Pramberg blêr ’n moflam deur die Afrikaanse digter Boerneef, wat self op ’n plaas in die Ceres-omgewing grootgeword het – die bekende Boplaas, die oudste familieboerdery in Suid-Afrika, wat sedert 1742 deur die Van der Merwe-familie besit word:

By Pramberg blêr ’n moflam

van hongerte en dors

by Pramberg vrek ’n moflam

dit is vanjaar die stryk

sny keelaf wat nog lewe

dis hoeka sukke tyd

by Pramberg blêr ’n moflam

maar die jakkals hou jolyt

Die tweede gedig, Karoo-Golgota, is ook deur ’n Boland-boorling, Johann Müller, ’n voormalige hoof van die Laerskool FD Conradie op Prince Alfred Hamlet:

Eindlot van die Kro’lam

Soos die Paaslam met Sy kruisdors

oorgegee op eie Golgota se droë aardkors?

Moet hy ook so gekruisig word

op waterloos droogte van die aarde?

Die mens kyk hulp’loos toe

Hoe die aarde druppelloos sy lot beklink

om hierdie bitterbeker leeg te drink

Heer, laat die vlieswolk van belofte

tog sy droë tong benat

en vol verlossing oor hom

die droë land bespat!

Ek kyk biddend toe, en vra:

“Help my om droogtekruis van hier

tot by sý Golgota te dra!”

Laastens het oom Frans en sy vrou, tannie Philda, ook pen op papier gesit met hul gedig Boeresmart:

Goeiemôre Oubaas se Lammertjie

Is jy honger my Skapie

Waaaar is jou Mamma?

Daar loop sy en los jou net hier

Sy het nie melkies vir jou nie

En sal ook nie môre hê nie

Moet ek jóú ook van jou lyding verlos?

Soos ek en my knipmes

Al met soveel voor jou moes doen