Ek praat van die onlangse inisiatiewe deur Agri SA en Landbouweekblad. Daar was nie ’n beter tyd as juis nou vir die landbou om reguit met pres. Cyril Ramaphosa en die Regering oor grondhervorming te gaan praat nie.

As ek die berigte reg verstaan, het ons landboumanne hul siening en standpunt oor grondhervorming en alles wat daarmee gepaardgaan, baie duidelik en reguit, maar op ’n beskaafde manier aan die Regering en die President gestel.

Dit is ook verblydend dat hulle dit duidelik gestel het dat die wit boere geensins teen grondhervorming is nie en dat hulle dit aanmoedig en bereid is om daarmee te help, mits dit ordelik geskied en die nuwe boere titelaktes vir hul grond kry. Daardie kanale moet tot elke prys oop gehou word.

Die tweede inisiatief wat tot uitvoering gebring is, is die twee dae lange grondberaad wat deur Landbouweekblad en Agri SA aangebied is. Dit was ’n wonderlike platform waar mense uit alle sfere van die bevolking wat ’n belang by die landbou het, bymekaar kon kom, mekaar reguit in die oë kon kyk en eerlik oor die landboutoekoms van ons pragtige land kon gesels.

Die gesprekke moet voortgesit word. Dan kan dit ’n sneeubal van sinvolle grondhervorming word wat oor die land rol tot almal se voordeel. Om dit te verwesenlik, moet elke boer egter skouer aan die wiel sit en die boodskap van sinvolle grondhervorming op hul plaas uitdra.

Dit is uiters noodsaaklik dat alle plaaswerkers, heeltyds of seisoenaal, die boodskap van sinvolle grondhervorming, soos voorgestel deur Agri SA, hard en duidelik hoor. Hulle moet presies verstaan waar hulle in die prentjie pas en watter moontlikhede die toekoms vir hulle inhou.

Ordelike grondhervorming is vir hulle net so belangrik as vir die boere.

Daarom wil ek voorstel dat Landbouweekblad die leiding neem om ’n beleidstuk oor die voorgestelde grondhervormingsinisiatief op te stel met die samewerking van Agri SA. Dit moet dan aan elke boer beskikbaar gestel word. Geen steen kan onaangeroer gelaat word nie. Dié saak is té belangrik vir ons land.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.