Die meeste dele van Suid-Afrika het onlangs goeie reënval gekry. Dit moet egter nie gesien word as ’n groen lig vir die onverskillige gebruik van water nie, aangesien water steeds ’n skaars en onvervangbare natuurlike hulpbron is.

Tans is daar byna oral genoeg water, met enkele uitsonderings in sommige dele van die Noord- en Oos-Kaap. Dit moet egter nie veroorsaak dat mense oorgerus raak en vergeet in watter situasie Suid-Afrika hom net ’n paar jaar gelede bevind het nie.

In 2018 het die Stad Kaapstad ernstige watertekorte ondervind as gevolg van ’n drie jaar lange droogte. Die Stad se watervoorraad het opgedroog en het amper die gevreesde Dag Zero bereik. Wat in Kaapstad gebeur het, moet altyd in ons agterkop bly.

Die Oos-Kaap ervaar steeds waterprobleme weens die gebrek aan reënval in sy opvangsgebiede. Ja, die reën val vrylik uit die hemel, maar dit kos ’n fortuin die oomblik as dit die grond raak. Daarom moet ons water te alle tye goed oppas. Daar is geen waarborg dat die land volgende week steeds reën gaan kry nie weens aardverwarming en die voortdurende verandering van weerpatrone wat met uiterstes gepaardgaan.

Mense moenie optree asof daar ’n maand van nou af steeds soortgelyke reënval sal wees nie. Waterbesparing begin nóú, terwyl daar nog water beskikbaar is – nie andersom nie.

Dit is die verantwoordelikheid van munisipaliteite en waterrade om voorkomend op te tree wat betref die opgradering en instandhouding van waterinfrastruktuur. Dit moenie dae tot maande duur voordat ’n gebarste waterpyp aandag kry of herstel word nie. Gemeenskapslede en waterverskaffers het ’n plig om water en die infrastruktuur wat gebruik word om water te voorsien, te beveilig.

Mense word aangemoedig om enige geval waar waterinfrastruktuur gevandaliseer word, by die wetstoepassingsowerhede aan te meld. Dieselfde geld waterdiensverskaffers wat verantwoordelik is om water aan gemeenskappe te lewer. Indien hulle versuim om aandag te gee aan waterverliese as gevolg van gebrekkige infrastruktuur, moet dit by die departement van water en sanitasie aangemeld word. Die tolvrynommer om dit aan te meld is 0800 200 200.

Wêreldwatermaand is in Maart gevier met die tema: Waardeer water. Ons moet besin oor die belangrikheid van water in ons daaglikse lewe, die ekonomie en die omgewing waarin ons woon. Almal moet hulself afvra watter rol hulle speel om hierdie skaars hulpbron te bewaar.

* Brief uit Engels vertaal. - Red.