Daar is geëis dat hul tradisionele grond wat aan hul voorvaders behoort het, aan hulle teruggegee word. My vraag is: Aan wie moet dit teruggegee word? Moet dit aan hulle as ’n gemeenskap teruggegee en in ’n trust bewaar word wat deur hul leier (stamhoof, kaptein of koning) volgens sy gesag en na sy goeddunke beheer word?

As dít is wat hulle vra, is dit nog geen grondhervorming nie. Hulle bly pagters op grond waaroor hulle nie werklik beheer het nie en bly uitgelewer aan die giere van iemand anders. Grond moet aan ’n individu gegee word met kaart en transport. Dít is wat hulle moet vra. Net dan het grondhervorming plaasgevind.

Dit het ook duidelik geword dat die ANC-regering die grootste vlieg in die salf is as dit by grondhervorming kom. Al die gemeenskappe in Namakwaland wat kom vra het dat hul grond aan hulle teruggegee word, se grond behoort meestal aan die staat en die res aan uitgediende mynmaatskappye.

Daardie grond kan sonder om die Grondwet te wysig en sonder om vergoeding te betaal, aan lede van die gemeenskappe teruggegee word. Hoekom sittings oor moontlike wysings aan die Grondwet hou? Hoekom nie ophou geld mors en tot die daad oorgaan en die grond met kaart en transport aan die lede van die gemeenskappe oordra nie?

Of klou die ANC nog altyd vas aan die Afrika-tradisie en Julius Malema se standpunt dat alle grond aan die staat moet behoort? Is die hele proses van sittings hou net ’n verkiesingsfoefie?

Dit het ook duidelik geword dat die ANC homself in ’n netelige posisie geplaas het, want met die hele kwessie van onteiening sonder vergoeding het hy ’n monster losgelaat wat baie moeilik gestuit gaan word. Ten spyte van mooi voornemens deur die ANC was daar reeds landwyd pogings om grond te gryp.

Dit is duidelik dat daar mense is wat meen as die Grondwet gewysig word sodat onteiening sonder vergoeding moontlik is, sal hulle links en regs grond kan gryp. Ek is seker daar is baie mense wat grond met rykdom verbind en meen as hulle grond gryp, gaan hulle rykdom daarmee saam kry.

Dit is wat in Zimbabwe gebeur het. Zimbabwe sou vandag baie beter af gewees het as hy die pad, soos voorgestel in my vorige brief (“Planmatige hervorming nodig”, LBW, 6 Julie 2018), gevolg het. Die Regering sal die hele proses wat nou gevolg word, versigtig moet bestuur, anders kan daar in die toekoms groot probleme op ons mooi land wag.