Jou kans om deur ’n tornado getref te word, is groter as die kans dat jy ’n polisieman, enige tyd van die dag, sal sien patrollie ry. In die laaste twee jaar is daar nou al twee tornado’s deur my grond.

Wel, op 29 Desember het van die boere maar self die nag patrollie gery en op nie een nie, maar twee polisievoertuie afgekom. Hulle wou egter nie stop en met die boere gesels nie.

Die een het weggejaag en by nadere ondersoek is gevind dat die drade sowat 500 m van waar die ander een gesien is, geknip is.

Op 30 Desember, die volgende aand, ry ’n boer weer patrollie. Hy word deur ’n polisievoertuig voorgekeer en gedreig met inhegtenisneming, want hy as boer het nie die reg om patrollie te ry nie.

Is dit net ek of dink ander ook die man is deur sy vriende van die vorige aand aangesê om van die boere wat hulle pla, ontslae te raak?

Voorheen moes ’n polisievoertuig ’n register aanhou waar aangedui is hoeveel kilometer hy in ’n skof afgelê het. Ons leef in tye waar ons stelsels, soos Tracker, het. As elke polisievoertuig van só ’n stelsel voorsien word, kan die bevelvoerder mos sien hoe ver en waar sy voertuie gery het. Daar kan tot maandverslae aan hom voorsien word om aan te dui watter voertuie buite hul gebiede gery het.

As die stelsel afgeskakel word, kan daar dadelik ’n SMS aan die bevelvoerder gestuur word om dit aan te dui. As hy binne ’n uur nie aandag daaraan gee nie, kan ’n SMS aan sy bevelvoerder gestuur word. As niemand daaraan aandag gee nie, kan die kantoor van die Minister van Polisie binne vyf uur ná die voorval plaasgevind het, ’n SMS daaroor ontvang.

Die probleem is net: Hoe kry ’n mens die polisie sover om dit te doen?

As jy tans bel, word jy net gesê daar is geen voertuig beskikbaar nie. As jy só ’n stelsel instel, kan die voorval met die stasiebevelvoerder bespreek word, en hy kan met een navraag sê waar sy voertuie was en hoekom hulle jou nie kon help nie.

Dit lyk tans asof niemand weet waar die voertuie rondry nie. Hulle kan tot as taxi’s of in rooftogte gebruik word en niemand sal daarvan weet nie.

Is die inwerkingstelling van só ’n stelsel by die SAPS nie die soort aksie waarvoor die VF Plus en Agri SA moet voorbrand maak nie? Of moet ons AfriForum om hulp nader?

* Hierdie brief is geskryf deur Maarten Kruger van Potchefstroom.