Daardie oproep het ons meegedeel dat ons broer en skoonsuster op hul plaas ’n ent buite Elliot vermoor is. Daardie dag het in ’n dwaal verbygegaan. Ons was verslae, maar diep dankbaar oor hul tweejarige dogtertjie se lewe wat daardie aand gespaar is.

My man, wat sy beste vriend daardie dag verloor het, my eie pa en die bure wat met stukkende trane hulle uit die huis gaan haal toe die polisie klaar is . . . Dít was lank die beeld wat in my kop vasgesteek het.

Ons was kwaad, hartseer, stukkend, woedend, en ons het gehaat. Tydens die vonnisoplegging het al vyf mans twee lewenslange vonnisse gekry, maar dit was ’n klein oorwinning in die oë van ons wat na ’n leë plaas moes teruggaan en die stukke probeer optel.

My man kon maande lank nie slaap nie omdat hy nie die smalende gesigte van daardie vyf mans in die hof – een van hulle ’n plaaswerker – uit sy kop kon kry nie. Die duisende vrae van hoekom kon hulle nie net alles gevat en hul lewens gespaar het nie, het ons byna gek gehad.

My hart het gebreek vir my man, in daardie stil, alleen tye, wat elke oggend moes opstaan en soontoe gaan waar sy broer dae gelede nog kool geplant het, sy mielies pragtig op die land, sy melkbeeste wat elke oggend wag om gemelk te word . . . Twee lewens wat stilgemaak is, maar ’n plaas wat aanhou lewe het, maar ongelukkig later verkoop moes word.

Nog ’n stukkie van my man wat daardie dag stil geraak het. Begin 2017 kom besoekers van Korrektiewe Dienste en deel my man mee dat twee van die mans in die tronk oorlede is, maar dat die ander drie nou vir parool in aanmerking kom. Hulle vereis egter briewe van ons familie waarin hulle kwytskelding vergun word.

Weer ’n wroeging vir my man. In sy hart het dit hom so lank gevat om op die punt te kom waar hy hulle kon vergewe. As hy dit weier, gaan dit nie teen die wil van ons Vader nie? Maar daar moet gevolge vir hul dade wees. Ons het wel briewe geskryf, maar dit baie duidelik gemaak dat ons meen hulle verdien hul straf en dat ons as familie hulle geen kwytskelding gun nie.

Dus bly hulle vir eers waar hulle verdien om te wees.

’N ANDER ONTHOU

Maar dit is nie wat belangrik is nie. Eers nou, ná baie jare, onthou ek daardie oggend heeltemal anders. Ek onthou al die bure en ons familie wat ’n laer om ons getrek het. Die gemeenskap van Elliot wat ons met liefde omvou en saam met ons getreur het.

Ek onthou ’n kerk wat stampvol mense was – mense met omgeeharte soos net plattelandse mense kan hê. Ek onthou die plaaswerkers wat stil in die kerk gesit het en hoe ek gesnik het toe die voorman voor in die kerk so mooi in Xhosa gepraat het. Ek onthou hoe seer dit was toe ons die twee kiste op die plaas gaan begrawe het.

Maar tussen al die seer het ons gekies om ook al die mooi tye in ons harte te onthou, en daar was so baie van hulle! Dit maak my dankbaar dat ek hier kan bly waar ons bly. Ja, daar is nie groot winkels en die opwinding van die stad nie, maar dit wat ons hier het, kan geen geld koop nie.

Al lyk ons dorp nou soos ’n rommelhoop omdat die mense wat in beheer is, al maande lank onder mekaar baklei en dit so maklik is om moedeloos te raak, is dit juis die tyd om op ons knieë te bly en nie oorweldig te raak met wat in die wêreld aangaan nie.

Dit is vir my die lewe wat ons Vader vir ons wil hê – om deel te wees van ’n gemeenskap waar mense nog vir mekaar omgee. Ja, ons moet bewus wees van alles om ons – die geweld, die korrupsie, die onsekerheid van die politieke situasie, veral met plaasonteiening sonder vergoeding.

Dit is alles dinge wat ons en ons kinders se toekoms bepaal, maar ons moet nooit vergeet dat ons Vader klaar by môre is nie. Hy weet klaar wat môre gaan gebeur, en Hy is in beheer. Dalk is ek naïef, maar ek glo dit met alles in my, want sonder ons geloof is ons tog niks.

Dit wys net weer hoe belangrik dit is dat ons as families op ons knieë moet bly, dat ons as vroue vir ons mans en ons kinders sal bid en vir ons werkers en hul gesinne. Dat ons met dankbare harte die ongelooflike genade uit ons Vaderhand elke dag sal koester, veral vir die dae wanneer dit minder goed gaan, want dit hou ons nederig.

Dit breek steeds ons harte elke keer wanneer ons blomme op daardie graf gaan sit op die plaas wat nou aan iemand anders behoort. Niks sal hulle ooit weer terugbring nie. Ons treur steeds oor al die verlore tyd saam hulle – die leë plek aan ons tafel Kerstyd en dat ons kinders nooit die voorreg sal hê om hulle te ken en saam met hom op die plaas te werk nie.

Maar ons bid: Here, gee my vandag rusplek by U voete, waar ek voor U grootheid kan buig en net stil kan word om by U vrede te vind.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.