Ek voorsien deur ons plaaslike abattoir reeds die afgelope 14 jaar “Free Range Karoo Lamb” aan Woolworths en die afgelope 12-14 jaar “Certified Natural”-lamsvleis aan Checkers. Ekself hou daarvan om organiese produkte te koop. Ek wil graag terugvoer oor die volgende sake hê:

In LBW van 4-11 Januarie is daar weer ’n volle artikel (“Wêreld neem kennis van SA olyfolie”) oor Suid-Afrika se olyfboere en die eerbewyse wat hulle ontvang. As ek egter my supermark binnestap, is daar slegs ingevoerde olyfolie op die rak. Ek wil graag, seker soos baie ander, suiwer Suid-Afrikaanse olyfolie koop. Kan die boer nie sorg dat sy produk ook aan ons beskikbaar raak nie?

Of ek nou “medium/large” of “xlarge” eiers koop, almal is ewe groot. Ek het een van die groot verskaffers geskakel en die antwoord aan my was dat die eiers geweeg en die grootte daarvolgens bepaal word. Ek het toe toetse gedoen en eiers op ’n elektroniese skaal geweeg. My gevolgtrekking is dat eiers slegs verpak word, nie geklas word nie.

Kan u vir my sê waar ek ordentlike Suid-Afrikaanse knoffel, dit wil sê knoffel wat in die land verbou is, kan koop? Ek soek nie die smaaklose knoffel wat in groot maat ingevoer word en bruin vlekke het nie. Dit wil vir my voorkom of “kwaliteit” met “kwantiteit” vervang is (feed the people).

Dankie, Landbouweekblad, vir 70 jaar se leesstof. Naas my Bybel bly dit die belangrikste boek om te lees.

Hierdie brief is geskryf deur Neels Grobbelaar van De Aar.

Karien Bezuidenhout, bestuurder van SA Olive, antwoord: Al Suid-Afrika se groot supermarkte (Checkers, Pick n Pay, Spar en Woolworths) hou plaaslik geproduseerde olyfolie aan. As iemand egter steeds sukkel om Suid-Afrikaanse ekstrasuiwer olyfolie in die hande te kry, kan hulle gerus op ons webwerf (www.saolive.co.za) die lys van CTC-skemadeelnemers kry en sommer regstreeks met die produsente gesels.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.