Landbouweekblad se 100 jaar-uitgawe is die lekkerste leesstof van die jaar. Dit wek baie herinneringe. Die foto van afslaer-legende Namakwa Dreyer, wat ons gereeld as perde-aankondiger op die Dewetsdorpskou gebruik het, herinner aan die storie wat Chris Loock van Middelburg vertel.

Hy en Namakwa was op ’n keer saam Krugerwildtuin toe. Chris sê dit was ’n vreeslike gesukkel, want waar hulle ook al stilgehou het, het Namakwa ’n paar boere geken. Dan moes daar eers gegroet en gesels word.

Op pad om wit leeus te gaan kyk, skree Namakwa: “Stop, stop”, want hy herken ’n boer van Vrede se bakkie. Net daar word stilgehou en gesels. Die wit leeus is vergete, want, sê Namakwa: “Wit leeus kan jy enige tyd sien, maar jy kry nie elke dag vir so en so van Vrede in die wildtuin nie.”

Johan van Wyk en Hennie Basson se stories laat my terugdink aan my eie landbouskoudae daar op Dewetsdorp as sekretaris van die landbougenootskap. Twee volle dae is daar jaarliks geskou met Saalperde, melk- en vleisbeeste, skape en ’n trompoppievertoning. Voor die skou is daar ’n bylae in Volksblad gepubliseer. Dit was maar altyd ’n stryd om genoeg berigte vir die twee bladsye bymekaar te kry.

Een jaar het ons besluit om ’n berig oor ’n plaaslike Saalperdafrigter te skryf en ’n foto van sy kampioenperd in te sluit. Die perd wou nie met die fotograaf saamspeel en sy ore mooi regop hou nie, ten spyte van die grooms wat raas en ’n beesvel rondsleep, en ’n Jack Russell wat blaf. Toe gaan haal die afrigter sy kommando-.303. Ons verligting was groot toe hy net ’n skoot met loskruit aftrek!

Heléne Booyens verdien ’n medalje vir die manier waarop sy dit reggekry het om 100 jaar se stories in net 228 bladsye vas te vang. Dit is natuurlik nie moontlik om alles wat in 100 jaar in die landbou gebeur het, in een uitgawe in te druk nie. Dinge soos die stryd om die wolpoelskema wat ek dink Jan Bezuidenhout goed sal kan vertel, en die hele Sampi-Salu-geveg, die Atlantis-dieselenjinprojek en, les bes, hoe prof. Eckard Kassier dit kort-kort reggekry het om boere baie kwaad te maak, verdien dalk ook aandag.

Dalk moet Landbouweekblad daaraan dink om ’n Eeu op die platteland Volume 2 uit te gee. Geluk met ’n puik publikasie!

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.