Hoekom word boerderygrond as noodsaakliker beskou as die groot hoeveelhede grond wat reeds in staatsbesit is en glad nie deur opkomende boere benut word nie? (Die meeste word deur wit boere gehuur en bewerk.)

Gaan eiendom in stede en dorpe ook onteien word, want dit is sekerlik op plase ontwikkel, met ander woorde op grond wat voorheen ’n plaas was? Gaan elke private huis in wit besit ’n paar vertrekke afstaan aan voorheen benadeeldes wat nou in shacks bly.

’n Vinnige oplossing vir behuising, elektrisiteit en riolering omdat dit reeds daar is? Gaan motorhandelaars sorg dat elke voorheen benadeelde ’n motor kry, want hulle moet tog kan kom en gaan soos hulle wil? Dit is mos hul grondwetlike reg. Wanneer gaan die Regering besef hy moet die betaal van kindertoelaes beëindig?

Dit stimuleer net groter armoede met meer druk op behuising, skole en mediese dienste. Of word afhanklikes doelbewus geskep om stemme te verseker om aan bewind te bly? Wanneer gaan die wettelose optogte, stakings en plundery end kry? Hoe kan jy alles verniet kry as jy vir niks gewerk het of wil werk nie?

Waar is die Oesskattingskommitee se oppervlakte- en oesskattings vir kommunale en staatsgrond? Of weet hy nie hoe om dit te onderskei nie? Syfers en nogmaals syfers moet daagliks aan die Regering en die publiek voorgehou word om die waarheid te ontbloot.

Hoekom is die meeste van ons landbou-organisasies so verskonend met hul onderhandelinge en polities korrekte, fyn bewoorde persverklarings? So “jammer ek leef”! Hoekom praat julle nou anders en sagter as om gister se braaivleisvuur? Hoekom word “voedselsekerheid” elke keer geopper as die gehoor uitgevrete ringkoppe is?

Hulle het nie die vaagste benul wat dit behels nie, want hulle koffers is vol.

VOEDSELSEKERHEID

Ons boere is vir voedselsekerheid verantwoordelik. Die mag lê in ons hande. Tog ploeter ons maar net voort om elke dag meer en meer te produseer en groter en groter te boer net om te oorleef. Dit vererger net die probleem. Die politici en Regering gebruik alles in hul vermoë om ons te vertrap.

Die insetverskaffers roem op hul besighede se gesondheid en enorme winste, maar diegene wat hul winste genereer, se skuld hoop net verder op. Gaan kyk maar na die volmag- en insolvente veilings. Oor die land heen, groot en klein bedrywe . . . My hart bloei vir dié wat hul besittings verloor; vir dié wat hul grond met bloed betaal en eintlik so onteien word.

As die saaiboere veral net kon saamstaan en nie net afskaal of minder plant nie (dit is onmoontlik met skuldverpligtinge), maar glad nie plant nie, ruk ons hierdie wegholperd in sy bek. Glad nie plant nie klink belaglik. Dit sal uiters moeilik wees, maar nie onmoontlik nie. Met fyn beplanning kan ons oorleef.

Die krediet-, inset- en huurkoopverskaffers kan nie alles van almal terugneem nie. (Dit sal ’n verwoestende uitwerking op alles en almal hê, maar dit is ter ondersteuning van dié wat verwoes is en nog verwoes gaan word.)

Hongersnood, gewelddadige opstande en algehele chaos in die ekonomie sal die land se voorland wees, maar dan sal die Regering besef ons is ernstig en kan nie rondgestoot en vermoor word nie. Ek het as jong man twee jaar van my lewe in die weermag opgeoffer vir niks.

Ek sal, voor dit te laat is, weer twee jaar opoffer vir my nageslag se toekoms. Grond sal altyd ’n kwessie in Suid-Afrika bly. Al word ’n kamma werkbare oplossing nou gevind, word dit ná ’n volgende verkiessing van die tafel gevee en sal alles weer van voor begin en die doelpale verder geskuif word. Gaan kyk, Afrika werk so.