Chris Burgess se redakteursbrief “Die lesse in ons stories” (LBW, 19 Julie 2019) het betrekking. Chris skryf: “Nadat ons mekaar lekker moedeloos gepraat het om die braaivleisvure, wonder ons hoekom ons sukkel om geleenthede raak te sien.” Hy haal ook dr. Wayne Dreyer aan: “As jy verander hoe jy na dinge kyk, verander die dinge waarna jy kyk!”

Nou verwys ek na uitgawe van 26 Julie – “Op Facebook” op bl. 10. Daarmee voorsien die tydskrif ’n spreekwoordelike braaivleisvuur vir mense om mekaar lekker moedeloos te praat en uitsigloos te stem.

“Op Facebook” in die uitgawe van 2 Augustus (bl. 11) het ook betrekking. Liewe genade! Kan ons mense nóg meer swartgallig word? Ek twyfel. “Op Facebook” gee feitlik nét swartgallige menings. Is daar dan werklik niks opbouends meer te sê nie?

* Brief per e-pos ontvang