O Heer, U weet wie ek is, U ken my van lank voor geboorte reeds. Ek’s skaam om te erken, maar ek glo met hope menslike twyfel aan die komende reën. Die geis (spinkaan) se skree en die vetplante wat moet blom, lieg al té lank oor die naderende verlossing. Is maar ons ou mensgemaakte gelofies, maar ons bly mos maar mens.

Sien is mos glo vir ons klomp in ongeloof. Ons leef in ongeloof seker maar êrens tussen Thomas wat net mooi niks geglo het nie, en Simon Petrus wat geweet het van glo, maar tog getwyfel het. En tog weet ek diep binne U sal ons verras soos male sonder tal voorheen. Ons is seker maar net te erg mens, te feilbaar. Ons kan nie anders nie.

Ons gooi aanplak-smiles vir ’n armmanslieg van goedgaan. Ons lippe sê ons glo, maar ons hangende skouers en moeë oë verraai ons binneste. Ons sien die vaal, swart, dorre veld dag ná dag. Die diere se honger blêr ontsnap nooit meer ons ore nie. Wanhoopsklanke wat in stereo ons binne-in die siel stukkie vir stukkie net verder breek.

Ons breekpunt word dag vir dag uitgestel bloot uit U suiwer genade. Daardie genade wat ons nog laat voortbeur ten spyte van ons ongeloof. En tog is ons dankbaar sommer so deur die onbedoelde twyfel en ongeloof deur.

Ons is dankbaar vir gesonde kinders, vir ons vroue wat ons “nee, miskien volgende maand” so sonder slag of stoot stilswyend aanvaar. Onbeskryflik dankbaar vir al die mense wat ons aan U opdra, van wildvreemdes tot pelle die hele land oor. Kinderlik dankbaar vir die talle pakkies vol liefde en verrassings met persoonlike boodskappies binne-in weggesteek, vol meelewingsliefde en onderskraging.

Ons is dankbaar vir elke voerskenking. Ons weet nie wanneer dit weer gaan reën nie. Ook sal nie een van ons weet wat U raadsplan is nie, behalwe dat alles uiteindelik oraait sal wees.

So, liewe Heer, wanneer dit weer reën, laat ons dan weer ’n slag buitentoe huil sonder skaamte. Laai dan ons laaste bietjie windgat in ’n stukkende emmer vir ronddra. Laat ons dan weer mededeelsaamheid en dankbaarheid by die bakkievragte uitdeel met dieselfde ywer as die vragte genadeskenkings wat ons nou toeval.

Help ons intussen glo soos met kleintyd wanneer ouma Bybelstories lees. Wanneer ons salig aan die slaap kon raak, wel wetend dat môre voor gesorg is. Heer, tot die dag wat die eerste groot donderweerdruppels weer ons ganna en vyebos laat swel van belofte, tot die dag wat die honger blêr stil word, tot dan, o Heer, hou ons hand steeds vas, ons skouers fier en ons blik reguit. Laat ons weer kinderlik glo teen ongeloof en wanhoop in. Ons bly mos maar net mens. Amen.

Die skrywer is in 1971 op die plaas Soutpan, Calvinia, gebore en boer sedert 1993 op dié familieplaas, asook in die distrik Williston, waar hy en sy gesin woon. Albei distrikte loop al jare lank onder ’n knellende droogte deur.