Eerstens, ’n kort inleiding. Op 28 November 1991 het ek die voorreg gehad om ’n genooide spreker te wees op ’n prysuitdelingseremonie by Taurus Koöp. – ’n stoetplaas buite Bloemfontein in die eertydse Oranje-Vrystaat – om plaaswerkers wat as insemineerders opgelei is, te motiveer.

Dankie aan Peter Hamilton, my gasheer, ’n boer wat na my mening insig gehad het en daardie tyd progressiewe en liberale denke omarm het. Ek het ’n nagraadse kwalifikasie in maatskaplike beleid en skryf ook vanuit die uitkykpunt van ’n swart man wat in my jeugjare op ’n plaas met ’n wit eienaar grootgeword het.

Nou, die onomkeerbare werklikheid en die bitter pil. As ’n maatskaplike én verhewe universele konstruk is grondonteiening sonder vergoeding ’n harde werklikheid. Die kwessie kan nie onbepaald onder die mat ingevee word nie, hetsy vir eko- nomiese, politieke of persoonlike oorwegings.

Dit is die wil van die mense, en hulle, nie die politici nie, is ongeduldig. Transformasie, gesien as traumaties en destabiliserend deur diegene wat dit teenstaan, vereis ’n verandering in denke, ruimte en tyd. Dus behoort die vraag nie te wees of grondonteiening sonder vergoeding ooit sal plaasvind nie, maar eerder wanneer dit sal plaasvind.

Ten spyte van die gebrek aan beplanning en toewyding om dit toe te pas, moes dit al gister plaasgevind het. Hoe dit ook al sy, die menigte grondloses het gepraat, en hul stem is ’n tsoenami wat nooit teruggerol kan word nie. Dit is ’n voortsnellende trein wat kan ontspoor, of op ’n lang, reguit en nou, maar egalige koers, kan bly – soos ’n Japannese supersneltrein.

My raad aan die huidige geslag wit boere is gegrond op die eerbare, humanistiese idee van kommunalisme. Dit behoort nie vir hulle vreemd te wees nie omdat dit bloot inkorporasie is – die presiese konsep wat hulle oor die jare so geesdriftig omhels het en wat gelei het tot kragtige entiteite, soos Senwes, Sanlam, die Land Bank en Santam.

Wanneer hulle wettig gedefinieerde stukke grond aan hul plaaswerkers toewys – nie huurgrond of iets anders nie – sal hulle hul werkers bemagtig om eienaarskap en titelaktes te bekom, terwyl grond behoort aan almal wat dit bewerk. Grond, soos ’n ekonoom tereg betoog, is die primêre bron van rykdom.

Die vyand van sommige mense is die diepgewortelde en ondeurdagte apartheidbeginsel dat die grondlose plaaswerkers en -bewoners tydelike besoekers is wat self “besit” word en op die ingewing van die oomblik afgesit kan word.

Daarom moedig ek die staat aan, ceteris paribus, om erkenning te verleen aan die wit boere met versiendheid wat jare gelede in verskillende vorme en gedaantes met bogenoemde konsep begin eksperimenteer het en suksesvol was en om hulle met aansporings te beloon.

Die alternatief is te aaklig om aan te dink – nie slegs vir die meeste boere en werkers nie, maar vir almal van ons as die Suid-Afrikaanse nasie wat drie maaltye per dag as vanselfsprekend aanvaar.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.