Dit behoort teen dié tyd duidelik te wees dat daar vir Suid-Afrika geen beter alternatief as pres. Cyril Ramaphosa is nie. Ongelukkig erf hy nie net ’n magdom probleme nie, hy erf ook ’n korrupte bestel en dislojale mense wat daarop uit is om hom te ondermyn. Dan is daar ook die liggewigte wat nog geen konstruktiewe bydrae kon lewer nie, maar wat noodwendig moet lawaai en hulle sleg gedra om die media te haal.

Oor die grondkwessie is dit eienaardig dat daar nog geen intellektuele beredenering plaasgevind het oor wat die ekonomiese implikasies gaan wees indien die onteiening van produktiewe plase sonder vergoeding om een of ander rede misluk nie. Zimbabwe en Venezuela is goeie voorbeelde, en albei lande is struktueel en ekonomies geruïneer.

Ongelukkig sit Suid-Afrika met ’n baie ongesonde situasie, naamlik dat die regerende party soos en wanneer dit hom pas, sy gewig oral kan gebruik om sy sin te kry. Hy kan selfs die Grondwet verander om hom ten koste van Suid-Afrika polities te bevoordeel – ongeag die gevolge.

SINVOLLE PLAN

As die regering sy gewig ten goede wil gebruik, behoort hy terug te keer na die oorspronklike Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se landboubeleid, wat bepaal dat 30% van alle landbougrond in elk van die nege provinsies vir herverdeling geoormerk en van boere “gekoop” moet word.

Dit is ’n weldeurdagte plan ingevolge waarvan voorsiening gemaak is om sleutelkwessies, soos voedselsekerheid, werkskepping en ekonomiese groei, die hoof te bied. Om ’n weldeurdagte plan, waarby die huidige president, prof. Mohammad Karaan en oudmin. Trevor Manuel ’n groot rol gespeel het, opsy te skuif, was ’n katastrofiese fout.

Wat nou op die tafel lê, is die gevolg van politieke druk wat ten doel het om ’n goed geordende landbousektor onherroeplik vir politieke gewin te vernietig.

Zimbabwe en Venezuela, asook Kuba, is goeie voorbeelde van wat ’n regering nie behoort te doen nie. Hongersnood en werkloosheid (95%) vier hoogty daar, terwyl dié lande se ekonomie vernietig is. Blykbaar is ’n vernietigde landbousektor nie vir die regering ’n probleem nie. Al wat belangrik is, is om stemme te werf en beginnerboere sonder eiendomsreg op onekonomiese lappies grond aan hul eie lot oor te laat – ’n reddelose situasie.

Die nuwe minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, die georganiseerde landbou en die amptelike opposisie behoort hul gesonde verstand te gebruik, hande te vat en die NOP se landbouplan te omarm en gesamentlik te ondersteun. Daar is geen beter plan vir die land nie. Dit ondervang alle probleme.

Die landbou is vir enige land, veral vir Suid-Afrika wat bekend is as ’n waterarm land, ’n baie belangrike hulpbron wat goed bestuur moet word. Die land se lae reënval en ’n reënvalpatroon wat afneem van oos na wes, plaas ongelukkig groot druk op voedselsekerheid, wat noodsaaklik is vir ’n vinnig groeiende bevolking.

Die probleem is dat daar jaarliks nie veel meer as 2 miljoen ha mielies (stapelvoedsel) deur die kommersiële landbou aangeplant kan word nie. ’n Normale gemiddelde oes van 10 miljoen ton is reeds laer as die land se verbruik van 11,2 miljoen ton. Bogemiddelde oeste van 12-16 miljoen ton is net moontlik met bogemiddelde reënval.

Rekordmielieoeste teen lae pryse los ook nie die probleem op nie. Boere kan net kos vir die mark produseer indien hulle dit winsgewend kan doen. Met die styging in produksiekoste en krimpende winsgrense raak grondgrootte meer en meer deurslaggewend om genoeg kos bekostigbaar te produseer.

Ongelukkig volhard die regering met sy bisarre grondbeleid om produktiewe, ekonomiese eenhede te versnipper, waarna dit vir politieke gewin (getalle) as onekonomiese eenhede sonder titelaktes aan hoopvolle beginnerboere uitgedeel word. Al wat hierna gebeur, is dat dit wat produktiewe, ekonomiese eenhede was, onvermydelik in armlastige plakkerskampe verander.

Mense wat sê die landbou gebruik 60% van die land se water, is nie verkeerd nie. Blykbaar is daar ’n agenda. Om die een of ander duistere rede word die gunstige aspek daarvan, naamlik dat besproeiingsboere vir 25% van die land se voedselproduksie, honderdduisende werkgeleenthede en miljarde rande se buitelandse valuta verantwoordelik is, eenvoudig verswyg. Boere behoort geloof te word vir hul goeie werk.

Net soos huiseienaars vir hul huise en verbeterings betaal het, het boere vir hul plase betaal. Uit ’n regsoogpunt is daar geen verskil nie. Solidariteit se standpunt oor eiendomsreg is baie duidelik, en hy behoort ook vanuit die korporatiewe wêreld op groot finansiële hulp te reken om dié kwessie in die howe te beveg.

Die wenslikheid van herverdeling kan nie weggeredeneer word nie, maar wat wel bevraagteken kan word, is waarom die regering nie die 15 miljoen ha landbougrond wat reeds in staatsbesit is, herverdeel nie. Dit behoort ’n goeie proeflopie te wees vir dit wat gaan kom.

Mense wat beweer dat die waarde van verbeterings op ’n plaas die markwaarde van die plaas behoort te verteenwoordig, het ’n verskuilde agenda en is boonop nie skaam om hul onkunde aan die wêreld te wys nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.