Hiermee ’n kort weergawe van wat ons op Strydenburg ondervind weens die lang droogte.Die persoon buite die landbou het nie altyd die begrip nie of is oningelig oor die harde werklikhede van veral die ekstensiewe veeboer se situasie binne ’n rampdroogte.

Ek het in 2012-’13 omvattend begin voer. Al hoe meer. Die reën raak ál minder – min op ’n keer en verder uit mekaar. Die geldreserwes het verminder en die inkomste verklein, terwyl die uitgawes vermeerder het – tot op ’n punt van géén inkomste.

My en sommige ander boere se korttermynversekering het verval, en sommiges se langtermynversekering en mediese versekering ook. Jou risiko met alles is dus baie hoog. Voertuie kan nie meer gediens of na behore herstel word nie. Daar is geen sprake van vervang nie! Bank- en koöperasieskuld lê opgehoop of is oor die limiet. ’n Voertuig mag nie ernstig breek nie. Geen ongeluk, doktersrekening of ander rampe moet jou tref nie!

Party boere kan nie meer Eskom se betalings byhou nie, en kan ook nie sonpanele aankoop nie. Sonder krag wees beteken om sonder ’n yskas, vrieskas en kommunikasie (my selfoonversterker, landlyn en veiligheidsradio is byvoorbeeld regstreeks of onregstreeks van Eskomkrag afhanklik) te wees.

Jy ry net as dit moet en gebruik werkers net as dit moet. Net die uiters belangrike werk word gedoen. Die boer met die kleinste boerdery word die ergste geraak. Die meeste boere se vee is met van ’n derde tot die helfte minder. Party het min vee oor. Hoe koop jy weer vee aan binne die huidige situasie?

Al reën dit nou 300 mm, is daar nie geld, brandstof of kos nie. Baie van die hoëvoedingswaarde-plantegroei is morsdood. Die graspolle is meestal dood. By my is omtrent 90% van die Karoobossies dood. Van die orige 10% toon net 10% lewe – dus plantbedekking van 1%.

Van die struikgewasse en bome is ook dood. My tuin is morsdood. Die grondwater het ingegee. Hoe soek jy grondwater vir mens en dier sonder geld? Met ander woorde geen vrugte of groente kan vir eie gebruik verbou word nie. Alle vrugtebome is dood. ’n Leeftyd!

Ek het altyd baie oorskot gehad wat aan ander mense uitgedeel is. Binne die regte groeityd en met genoeg opvolgreën kan bossieveld vyf jaar tot tien jaar nodig hê om uit ’n nuwe ontkiemingsfase weer voldoende bedekking en kos te gee – mét goeie weidingsbestuur.

Sekere grasse se groeityd voor die winter is reeds verby. Ander kan met goeie opvolgreën genoeg bedekking gee op veral sandveldplase. Die res gaan lol. Met ander woorde nie alle plase gaan in hierdie stadium voldoende kos produseer voor die winter of “dooietyd” nie.

Die vee wat op plase oor is, se leeftyd is verkort. Harde kos veroorsaak hoër slytasie van tande. Pleks van sewe tot agt jaar is ooie se tandleeftyd sowat vier jaar. Die meeste vervangingsaanteel moes vir kontantvloei verkoop word. Ongeag of jy met klein- of grootvee boer, die kudde moet gouer vervang word.

Die droogte skep groot reproduksieprobleme. Indien voeding nie op standaard is nie, is vroulike diere se besettingsyfer laag. Dit het ’n kettingreaksie tot gevolg wat kontantvloei benadeel. Intussen verswak die infrastruktuur, soos heinings en geboue. Daar is nie meer geld vir instandhouding nie.

Alles wat hierbo genoem is, vloei deur na groter maatskaplik-ekonomiese probleme. Werksverliese op plase laat misdaad toeneem. Ekstensiewe boerdery, sonder nywerhede, is die kern van die gemeenskap se ekonomie.

Die diefstal van vee en strukture neem toe, asook inbrake. ’n Groot deel van my, ’n buurman en die meentgrond se heinings is byvoorbeeld deur van die townshipinwoners gesteel om te verkoop. Twee geboue in my veld se dakke is gesteel. Gemeenskapsgeboue op die dorp se dakke, vensters en deure word gesteel. Weereens, nie almal van ons het geld om kameras op te rig nie.

Die droogte skep dus ’n reuse- bose kringloop wat buite jou beheer is. Party mense sê: “Verkoop!” Aan wie? Teen watter prys? Waarmee betaal die koper? Hier is boere met twee plase, maar hulle kan self net op een boer en moet alles voer. Die implikasies van die droogte is dus baie groot. Dit reën nie kos of geld op die veld nie. Ons was dankbaar om sowat 14 sakke voer vanaf die staat te ontvang. Dit het hoop gegee . . .

Intussen was daar weer “goeie” nuus: Die Noord-Kaap gaan R300 miljoen vir droogtehulp ontvang. Nou blyk dit egter nie vir ons boere te wees nie. Die munisipaliteite gaan die geld ontvang om onder meer boorgate se sink. Dit bied géén oplossing vir Strydenburg nie.

Hulle moet die bedrag wat aan Strydenburg toegedeel word, baie meer sinvol gebruik. Bou ’n pyplyn van 50 km vanaf die Oranjerivier. Vestig met dieselfde geld ’n plaaslike voerbank en takel terselfdertyd die werkloosheidsprobleem daarmee. Skep plaaslik voerproduksie-, werk- en nywerheidsgeleenthede, en verskaf water aan die dorp – ’n dorp wat elke dag net sekere tye water het!

Afgesien van wanbestuur deur die munisipaliteit word van die boere se boorgate drooggepomp as gevolg van munisipale boorgate en stukkende toevoerpypleidings wat nie herstel word nie. Dit is ’n langtermynprobleem.

Ek sê dit reguit en eerlik: As dit nie vir Sy leiding en liefde in mense se omgee-harte was nie, sou ek en ’n paar ander boere nie meer regop geloop het nie. Die media, wat op verskeie wyses vir ons blootstelling bied, is vir ons plaaslike boere van net soveel ongelooflike waarde. Baie dankie aan julle, veral Media24 (Landbouweekblad, Volksblad, Die Burger, Huisgenoot).

Blootstelling was en is ’n groot bydraende faktor wat vir ons kos op die tafel, kos vir ons diere, herstel van voertuie en hóóp gebring het en steeds bring. Ons is boere, want dit is in ons bloed. Dis ’n roeping. Ons ken die goeie, ons ken trane, ons ken huil, en ons ken van mekaar help. Ons weet Sy liefde en genade is onbeskryflik groot.