Amelia Genis se artikel “Voedselstelsel: Meer plaaslik, meer demokraties” (LBW, 18 Junie 2020) noem dat sowat 20 miljoen Suid-Afrikaners teen middel April nie genoeg kos gehad het nie en dat 750 000 gereeld kospakkies gekry het.

In die artikel word ook korter voedselkettings en ’n ekonomie van solidariteit bepleit met netwerke van woonbuurte wat regstreeks met kleinboere skakel om produksie te bekom, samewerking tussen plaaslike kostuine, die plaaslike voorbereiding van kos om surplusse te gebruik, en ’n soort netwerk van verkryging en verspreiding op plaaslike vlak. Vele tuisnywerhede kan daaruit voortspruit.

Klein besighede het amper almal verdwyn, maar kan weer tot stand gebring word in so ’n ekonomie, skryf sy. Dit skakel in by prof. Johan Willemse se ontleding in dieselfde uitgawe (“Prysbeheer op voedsel en boere se aandeel”). Hy beklemtoon dat boere soveel moontlik aan die ketting moet deelneem om met die skakels langs ’n winsie te skep.

Die artikel “Padstal gebore uit droogtenood” (LBW, 14 Mei 2020) oor mnr. Nico Greeff van Vredendal is ’n praktiese voorbeeld hiervan. Op ’n leë stuk grond van sy buurman en met ou besproeingspype het hy verlede jaar R200 000 se groente geoes. Die rak agter hom op die foto wys ook ander produkte. Dis van die boord na die bord sonder tussengangers.

Om hongersnood in Suid-Afrika te takel, kan landboukoöperasies dit oorweeg om saam met hul ander uitreikaksies en opheffingspogings tuinbouklubs van stapel te stuur. Kundigheid kan uitgeruil, saad en kunsmis verkoop, entrepreneurskap bevorder, en honger en armoede verlig word. Die koöperasies kan rakspasie beskikbaar stel vir sulke “groentebanke” en tuisnywerhede.

Ons Roodepoortse statutêre forum vir ouer persone moedig senior burgers en tehuise vir bejaardes aan om hul eie groente te kweek en sal graag by die “groentebanke” inskakel om groente te koop en surplusgroente te verkoop. Ons wil dit ook by skole bevorder om vitamientekorte wat leervermoëns strem, teen te werk.