Hy het die woord “geen” gebruik en nie eens probeer sê dat sulke voorvalle “raar” of “min” is nie. Ek het al verskeie kere die stelling gemaak dat ons President nie vertrou kan word nie, dog hy het my nog nooit gedwing om te sê dat hy ’n opperste leuenaar is nie.

Ek sê dit nou onomwonde. Maar anders as verskeie van sy ministers, lieg die President nie bloot om oorlewing nie. Nee, hy soek beleggings vir Suid-Afrika, en hierdie leuen word vir sakedoeleindes die wêreld ingestuur. Ramaphosa sal weldra besef dat sy ontkenning van plaasmoorde op veral wit boere sy beeld by die VN en in Suid-Afrika groot skade berokken.

Boonop gee hy terselfdertyd by implikasie te kenne dat die misdaadstatistieke, of watter statistieke ook al, in Suid-Afrika ongeloofwaardig of nutteloos is. Die ergste is egter dat die buitewêreld nou meer ingelig is oor Suid-Afrika as wat die President is.

Hierdie uitlating van Ramaphosa is erger as staatskaping, met die verskil dat dit nie nodig is om dit na ’n kommissie van ondersoek te verwys nie. Dit laat Helen Zille se twiet oor kolonialisme na ’n grappie klink. Die President se uitlatings het gelukkig die skille van verskeie mense se oë laat afval.

Ernst Roets van AfriForum is anderdag nog as ’n verwaande klein rammetjie-uitnek afgemaak toe hy die waarheid oor plaasmoorde vertel het. Dan Kriek van Agri SA, wat Roets hewig gekritiseer het, meen darem ook nou dat die waarheid erken moet word.

Selfs Theo Venter, die politieke ontleder wat pres. Donald Trump om elke draai verfoei, meen dat Ramaphosa ’n fout gemaak het en dit moet erken. Ter versagting “raai” Venter darem in Rama- phosa se guns dat laasgenoemde eintklik sus of so bedoel het.

Die slagoffers van plaasaanvalle en ooggetuies van sulke misdade moes dus ook vir die polisie, asook in die howe, gelieg het toe hulle getuig het. Ek verwag verskeie verduidelikings oor wat Ramaphosa eintlik gesê het en wat hy daarmee bedoel het. Om een leuen die waarheid te maak, verg egter heelwat bykomende leuens. Daar wag werk op Ramaphosa.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.