Die produksiefaktore wat in die 1980’s op die landbou van toepassing was, verskil drasties van dié waarmee ons as boere vandag te kampe het. Toe was dit net grond, kapitaal, mannekrag en water, of só is ons geleer. Intussen was daar die inligtingsrevolusie, en inligting, tegnologie en entrepreneurskap het toenemend relevant geraak.

In die afgelope paar jaar het die Suid-Afrikaanse landbou die geboorte gesien van nog ’n produksiefaktor, naamlik veiligheid, of dan die afwesigheid daarvan. Die oorsake en verskillende manifestasies daarvan behoort die bedryf ernstig te laat besin oor die toenemende rol wat dit gaan speel en wat ons daaraan gaan of kan doen.

Die vraag wat boere eerste moet vra, is wat hul eie aandeel, indien enige, tot die heersende situasie is. Sien hulle dit in hierdie lig, of is hulle in ’n staat van ontkenning? Dit is gewoonlik op hierdie punt waar mense mekaar verloor. ’n Magdom verskillende menings en oortuigings oor die saak maak dit vir mense moeilik om objektief antwoorde te kry en ’n gesamentlike visie te ontwikkel.

Wanneer boere egter self landswette oortree vir selfsugtige korttermyndoelwitte ten koste van ander en die plattelandse gemeenskappe, is dit ’n ander saak. Wat soos ’n paal bo water staan, is dat boere nie finansieel sal oorleef indien hulle nie daarin kan slaag om die waardeketting van die bedryf te beveilig nie. Vir voorbeelde van hoe voedselsekerheid inmekaargestort het, kan mense maar net na die noorde kyk.

Die geraamtes van die landboubedryf lê oral op die vasteland gesaai. Misdaad daar is in die meeste gevalle deur ideologiese sienings en politieke beleid aangevuur, maar uiteindelik beteken dit dat ’n waardeketting wat oor geslagte heen deur hardwerkende mense opgebou is, vernietig of weggeneem word.

Jy sien vandag in Suid-Afrika oral die aanpassings wat gemaak moet word ten opsigte van veiligheid bloot om aan te hou boer. In baie gevalle kan daar nie meer winsgewend geboer word in sekere dele of met sekere produkte nie. Grond word dus só vir die produktiewe landbou verloor, tesame met duisende werkgeleenthede.

Die gevolg is dan natuurlik die totale ineenstorting van plattelandse gemeenskappe. Waar boere medebouers was aan die drome van ’n land en sy mense, raak hulle nou weer trekboere, soos hul voorouers. Hulle trek na die eerste plek wat vir hulle die geleentheid gee om oor te begin.

Wat hulle dan in so ’n geval gedwing word om agter te laat, is ’n plek waar geeneen ’n bestaan uit die landbou kan maak nie. ’n Plek waar mense baklei oor die krummels van verspeelde geleenthede en die land op sy knieë bring.

Soos navorsing reeds langer as tien jaar gelede bevind het, glo boere die plek waar hulle is, is nie die plek waar hulle wil wees nie. Hulle glo hulle wil graag êrens anders wees. Hulle belê dus nie genoeg tyd en geld in hul eie gemeenskappe nie, wat dan tot verval en ’n gevoel van hopeloosheid lei.

Die landbou sal dit as ’n bedryf moet duidelik maak aan die regering en sy leiers dat die tyd vir voetesleep en ontkennings oor dinge soos plaasmoorde verby is. Die Nasionale Ontwikkelingsplan is dood gebore as veiligheid op die platteland nie as ’n voorrangsaak bestuur word nie. Pas ál die landswette toe en gee boere die beskerming wat die Grondwet waarborg. Dit sluit ’n groot genoeg, toegewyde en goed opgeleide polisiemag op die platteland in.

Ja, ons is stukkend ná elke plaasaanval en -moord, maar wat het ons self nou werklik al gedoen om blywende oplossings te vind? As boere grond soek om op te boer, dan koop of huur hulle dit. As hulle kapitaal soek, gaan praat hulle mooi by die bank vir ’n lening. As hulle werkers soek, vat hulle die eerste en goedkoopste een beskikbaar, en as hulle water soek, gaan hulle op hul knieë om te bid vir reën.

Hoe nou gemaak met veiligheid? Oorlede Anton Rupert het gesê: “Jy kan nie veilig gaan slaap as jou buurman honger is nie.”

Boere is daagliks slagoffers van misdaad. Waar gaan ons begin? Ons kan by onsself begin en regmaak wat verkeerd is. Dit kos niks. Ons kan dan verder gaan en self die landswette eerbiedig. Ja, ook die arbeids- en immigrasiewette, al stem ons nie altyd daarmee saam nie. Boere moet hulself beveilig.

Ons sal egter ook by die ontwikkeling van plaaslike gemeenskappe betrokke moet raak en hulle help beveilig. Indien nie, sal ons ook die geraamte van die Suid-Afrikaanse landbou in die son sien lê en verbleik. Ons moet die probleem by sy oorsprong pak. Dit is om werklik te help bou aan plattelandse gemeenskappe.

Voorbeelde van hoe om dit te doen, is reeds daar. Begin by ’n gesonde en gelukkige familie as die hoeksteen van die samelewing. Dit is al hoe die kringloop van misdaad en geweld verbreek gaan word. Dit gaan egter baie lank duur om die samelewing weer heel te kry, maar ons sal moet begin. Die polisiemag het nie die vermoëns om so ’n ingewikkelde en veeleisende taak alleen aan te pak nie.

Hier sal ons as ’n bedryf moet gaan sit en saam met alle belanghebbendes aan volhoubare oplossings moet werk. Die tyd daarvoor raak egter min. As produksiefaktor gaan veiligheid ons vasbeslotenheid, vindingrykheid en betrokkenheid op die proef stel, asook ons geloof en patriotisme.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.