Op ’n onlangse boeredag was ek bevoorreg genoeg om saam met ’n groot groep boere te sien wat tans in die bedryf aan die gang is.

Voor ons verder gesels oor die toekoms van die nimlike skaapkotelet, is daar ’n lansie te breek vir ons boeregemeenskap. In die eerste plek het Oranjerivier Voere hierdie dag laat loop soos stroop. Dit kos tyd, geld en bloedsweet agter die skerms om so dag so professioneel aan te bied.

Die tweede opmerking is die boere se gewilligheid om die dag by te woon. Agter op die wa, tussen boere van Bloemfontein, Luckhoff, Upington en Fraserburg, op pad na ’n praktiese demonstrasie besef ’n mens net weer dat boerdery hierdie manne (en dames) se passie is.

Ongeag al die swaarde wat oor hul koppe hang, is hulle steeds bereid om moeite te doen met die toekoms. Ysters!

So, wat is die toekoms van kerrie-afval, “Karoo-oesters” en braaivleis? My mond het oopgehang om te sien hoeveel tegnologiese ontwikkeling daar in die bedryf plaasvind. Konsepte wat ’n paar jaar terug as dagdromery beskou sou word, is nou moontlik.

Baie mense is onder die indruk dat dit net die ploeg-en-plant-manne is wat aan die voorpunt van tegnologie staan, maar die veebedryf het so stil-stil ontplof in ’n wêreld van data en moniteringstelsels wat jou kop laat tol.

Die klem van die dag was egter op die intensiewe model van skaapboerdery. Lamhokkies (waar elke ooi haar eie hokkie kry om in te lam), intensiewe voedingsprogramme, spuitprogramme om parasiete te bekamp en die intensiewe bestuur van die ooi se siklus om soveel moontlik lammers in so kort tyd moontlik te kry, was maar ’n paar geregte op die spyskaart.

Jy kan nie help om verstom te staan oor die resultate wat van die boere met hierdie intensiewe boerderye behaal nie. Jy kan ook nie help om opgewonde te raak oor hierdie tipe oplossings nie. Dit is tog immers die pad vorentoe om soveel moontlik vleis te produseer op die kleinste moontlike oppervlakte, terwyl jy soveel moontlik risiko’s, soos droogtes, roofdiere, diefstal en siektes en plae, uitskakel.

Op pad terug na die stad se gejaag besef ek dat ek nie meer ’n skaapboer is nie, maar ’n verbruiker. Nie dat dit iets is waarop ek trots is nie.

Ek sou baie eerder ’n skaapboer wou bly, maar skielik begin ek wonder oor hoe gesond die hormoonbehandeling van die ooie is, hoe gesond die intensiewe spuitprogramme is, hoe gesond die hormoonbehandeling in die voerkraal is en wat die uitwerking van groeistimulante in vleis op my as verbruiker en my kinders is.

Wanneer jy op die internet begin navorsing doen oor intensiewe boerdery en organiese boerdery, kry jy baie keer die twee begrippe weerskante van ’n “vs”. Dit is byna asof iemand besluit het dit is óf die een óf die ander, en basta!

Aan die een kant is daar intensiewe boerderye wat poog om soveel moontlik van sy produk daar te stel om voedselsekerheid te verseker. Daarom is dit aanvaarbaar dat hulle enige en alle hulpbronne kan gebruik, soos hormone en moontlik skadelike stowwe.

Aan die ander kant is daar organiese boerdery wat weer net konsentreer op 100% natuurlike produkte, al is dit in baie gevalle onprakties, om die verbruiker van ’n organiese produk te verseker – natuurlik teen ’n premie.

Ons sit dus met boere wat in ongunstige omstandighede die toekoms van hul bedryf moet verseker deur vernuwend te wees, sowel as verbruikers wat al hoe meer aandring op ’n gesonder, dog bekostigbare, produk van goeie gehalte en ’n groot, vet “vs” in die middel.

Die vraag is of daar nie dalk iewers in die middel ’n antwoord is nie. Naspeurbaarheid is die gonswoord in die voedselbedryf. Die verbruiker wil die “storie” agter die vleis weet. As daar twee produkte langs mekaar lê teen dieselfde prys en die een het iewers hormoonbehandeling gehad en die ander een nie, is dit tog voor die hand liggend watter een hulle gaan kies.

Navorsing oor ’n intensiewe model vir organiese vleisproduksie is skraps, heel moontlik omdat die indruk bestaan dat die twee onversoenbaar is. Tog is ek oortuig indien ons boere en kenners in die bedryf hul klem verskuif om te sien watter opsies daar is, sal ons binnekort met nuwe en kreatiewe idees sit wat moontlik ’n gesonder produk op ’n groter skaal tot gevolg kan hê.

Elke alternatief wat ’n hormoon, stimulant of vreemde stof uit die vleis haal, is ’n stappie in die regte rigting. Ek is oortuig dat die verbruiker gunstig op so ’n stap sal reageer.Dit alles dra by om die storie (naspeurbaarheid) agter die vleis van ’n riller tot ’n romantiese komedie te verander.

Daar sal altyd die mense wees wat meen dit is onmoontlik om meer organiese beginsels toe te pas in ’n intensiewe model. Gelukkig is “onmoontlik” iets wat ons boere in elk geval reeds elke dag in Suid-Afrika doen.