Volgens resultate van ’n internasionale navorsingspan, gelei deur die Europese molekulêre biologiese laboratorium en die Universiteit van Tartu in Estland, ding bakterieë en swamme heeltyd met mekaar mee om voedingstowwe en produseer albei verskeie tipes antibiotika om die ander te troef.

Die span het die eerste wêreldwye studie oor bakterieë en swamme in grond uitgevoer en hul resultate in die vaktydskrif Nature gepubliseer. Die resultate kan die impak van klimaatsverandering op grond help bestudeer en die mens help om die natuurlike komponente in grond beter in die landbou te kan gebruik.

Navorsers het gevind dat slegs ’n half persent van die miljoene gene wat in die studie gevind is, soortgelyk is aan dié van maag- en oseaanmikrobiome. Daar is gevind dat die diversiteit van bakterieë in die grond laer is as daar meer swamme was.

Hulle het ook gevind daar is ’n belangrike skakel tussen die aantal antibioties weerstandige gene in bakterieë en die aantal swamme, veral dié, soos Penicillium, wat moontlik antibiotika kan vervaardig. Die patroon wys swamme vervaardig antibiotika tydens oorlogvoering met bakterieë.

Net bakterieë met die regte antibio- ties weerstandige gene kan oorleef. Die anta- gonisme tussen swamme en bakterieë beïnvloed die totale verskeidenheid van bakteriese gemeenskappe en bepaal ook die genetiese samestelling van genetiese weerstand. Die span het verskille in die verspreiding van bakterieë en swamme tussen streke waargeneem.

Bakterieë is wêreldwyd aangetref, met die hoogste genetiese verskeidenheid wat in gematigde sones met ’n matige klimaat gevind is. Bakterieë verkies dus warm en nat omgewings. Daarenteen verkies swamme gewoonlik die toendrastreke se koeler klimaat. Swamme is ook meer beperk tussen geografiese gebiede en bevolkings verskil tussen die vastelande.

Dit beteken die bydraes van bakterieë en swamme tot die voedingstofsiklus oor die wêreld heen verskil. Wêreldwye klimaatsverandering gaan dus die samestelling en funksies daarvan beïnvloed.

Die navorsing het ook getoon die verhouding tussen bakterieë, swamme en antibiotika verskil heeltemal tussen grond wat onaangeraak is deur mense, en areas waar die mens bedrywig is, soos plase en tuine.

Die verskuiwing in die natuurlike balans, wat waarskynlik oor die aarde se hele geskiedenis ontstaan het, toon die effek van menslike aktiwiteit op die grond se mikrobioom. Die gevolge daarvan is nog onbekend.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.