In die hart van die Sandveld is ’n suksesvolle onderneming met enigiets buiten aartappels en sitrus ’n opdraande stryd. Mnr. Robert Paterson, wat eintlik dieper die binneland in boer en die Twaktuin-boerdery tussen Clanwilliam en Citrusdal besit, beoog om winsgewende avokado’s te vestig op grond waarvan die pH drasties reggestel is.

Met dekgewasse en ’n weeklikse pH- behandeling vestig Paterson gesonde grond met ’n organiese materiaalinhoud van 1% op sy plaas Wittedrift naby Redelinghuys. Die pH van die grond was 4,5 – en plek-plek selfs laer. Met die regte behandeling kon hy die pH verhoog tot tussen 6 en 7, naby die mikpunt van 7,5. Sodoende het hy stewiger groei en ‘n hoër uitpakpersentasie bewerkstellig. Só hoop hy om sy avokadoproduksie uit te brei (sien ook “Kan Wes-Kaap nuwe avomekka word?”, LBW, 3 November 2017).

Nadat Paterson Wittedrift in 2016 gekoop het, het hy 21 ha Mor-mandaryne, ’n sagte- skilsitrus, gevestig. Die boord het gesond begin, maar die groeitempo was nie na wens nie. Die bome het klein blaartjies gemaak, en die lengtegroei van die takke was vertraag. “Daar was ’n stukkie van 0,25 ha wat veral swaargekry en gelyk het of dit gaan vrek. Ons het die pH van die hele 21 ha voor planttyd volgens grondontledings met kalk reggestel. Ons was oortuig dit kon nie die pH wees nie.

“Ons het mnr. Jaco Visser van die oesbeskermingspesialis Viking gevra om raad te gee, en hy het me. Heather Raymond van Tsama Agriculture se hulp ingeroep. Blaarontledings het heelwat voedingstoftekorte getoon, maar die bemestingsprogram op Wittedrift was voldoende en op skedule. Ná veldtoetse en grondmonsters is die probleem gediagnoseer as ’n lae pH, en die weeklikse pH-behandelings het begin,” sê Paterson.

Van links is mnre. Jared Murphy, plaasbestuurder van Wittedrift, Robert Paterson, eienaar van die Twaktuin-boerdery, en Jaco Visser van Viking.

OPBRENGS OP BELEGGING

Daar word weekliks 2 liter CalSap per hektaar op Wittedrift toegedien (sien ook die kassie “Só werk vloeibare kalsium”). CalSap is ’n vloeibare, alkaliese kalsiumbron met ’n pH van 12,5. Volgens Raymond, wat die produk uit Australië invoer, sal die produk die pH van neutrale water in ’n 1:1000-oplossing tot 9,5 verhoog. Hierdie toediening kos sowat R3 500 per hektaar per jaar.

Die oprigting van skadunet kos ongeveer R250 000 per hektaar. “As ons keer dat ’n oes weens windskade verlore gaan, betaal die nette, wat hoofsaaklik vir windbeskerming aangebring word, binne een produksiejaar vir hulself. As ons die uitpakpersentasie van die sitrus met 10% kan verbeter danksy minder windskade, betaal die nette binne twee jaar vir hulself.

“Indien dieselfde redenasie gebruik word vir die weeklikse behandeling van die pH, is laasgenoemde baie lonender as skadunette. As ons die bome ’n jaar vroeër in drag kan kry omdat voedingstowwe beter benut word, betaal die intensiewe bestuur van die pH in ’n enkele jaar vir tien jaar se toediening. As ons die opbrengs met slegs 5% kan verbeter deur die pH beter te beheer en dus meer voedingstowwe in die boom kan kry, lewer hierdie belegging ’n 100% opbrengs op die belegging in ’n enkele produksiejaar,” sê Paterson.

Die werksry aan die linkerkant is waar mnr. Jared Murphy rog as ’n dekgewas gesaai het. Regs is kanola. “Ons gaan nie die onkruid in die werksry bestry nie. Dit is deel van diverse dekgewasse.” Die rog sal onaangeraak gelaat word tot die volgende dekgewas in die herfs van 2020 gesaai word. Die kanola sal op die bankies opgekap word sodra dit begin blom omdat dit in daardie stadium die grootste biomassa bogronds bevat.
Me. Heather Raymond, eienaar van Tsama Agriculture wat CalSap uit Australië invoer, gee aan elk van haar klante hierdie pH-veldtoetsstel wat ’n boer in staat stel om die grond se pH baie akkuraat op verskillende vlakke en in verskillende grondsones te toets. Die tregtervormige, dieppers vlek in die gat wat Murphy gegrawe het, toon waar die drupper vroeër dieselfde dag besproei het. Die eenvormige, groen kleur van die res van die grondprofiel toon dat die pH- bestuur doeltreffend met besproeiing gedoen kan word.

RESULTATE BINNE TWEE WEKE

Volgens mnr. Jared Murphy, plaasbestuurder op Wittedrift, was die beterskap byna dadelik sigbaar. “Binne twee weke het ons pragtige nuwe uitloop in die sitrusbome begin sien. Jy kan steeds die 2016-’17-somer se blare op die bome sien, en hulle is nie eens die helfte so groot soos die blare van die 2017-’18-seisoen nie.

“Baie van die blare in die vorige produksiejaar was ook misvorm weens die voedingstoftekorte. Omdat ons die pH nou op 6 tot 7 in die wortelsone kan hou, is die voeding- stowwe in die grond baie meer opneembaar. Die boomwortels kan ook die voedingstowwe beter benut. Daar is dus minder vermorsing van voedingstowwe, en beter groei,” sê Murphy.

Die strategie om CalSap weekliks toe te dien, spruit nie net uit die feit dat die grond op Wittedrift van nature baie suur is nie. “Die toediening van sommige kunsmis, veral ammoniak-gebaseerde stikstof, versuur die grond deurgaans. Ons moet dus weekliks die pH van die grond bestuur om die optimale omgewing vir wortelontwikkeling en voedingstofopname te verseker. Ons het nou ’n gereedskapstuk waarmee ons die pH in die grond kan bestuur soos wat ons grondvog met besproeiing bestuur,” sê Paterson.

Op Wittedrift kry die sitrusbome die eerste jaar 100 kg stikstof, 30 kg fosfaat en 26 kg kalium per hektaar, en in die tweede jaar onderskeidelik 150 kg, 30 kg en 40 kg. Ongeveer twee derdes van hierdie kunsmis word net voor die somer eenmalig as stadig vrystellende kunsmis toegedien. Die res word deur die jaar deur die besproeiingstelsel toegedien. Raymond beklemtoon dat CalSap nie ’n plaasvervanger vir volle oppervlakte-kalktoediening is nie.

“CalSap word deur die besproeiingstelsel toegedien. In Robert se geval, waar drupbesproeiing gebruik word, sal die CalSap dus die pH net in die wortel- sone, waar die besproeiingswater bykom, kan reguleer. Om voloppervlakte-regstelling op lang termyn te doen, sal daar steeds kalktoedienings moet plaasvind.

“Die feit dat versuring weens kunsmistoediening deur CalSap voorkom word, sal daartoe lei dat kalktoedienings afneem en later selfs nie meer nodig sal wees nie. Die tradi- sionele pH-regstellings is steeds noodsaaklik.”

Teen R250 000 per hektaar om nette op te rig, moet die somme mooi gemaak word om te bepaal of dit die moeite werd sal wees. Paterson reken indien windskade met die nette beperk kan word, sal die nette reeds binne een of twee produksiejare lonend wees.
Met die aanplant van nuwe bome dien Paterson hoendermis toe om die organiese inhoud van die grond op te bou, asook gips en kalk om die pH reg te stel.

BOU DIE GROND

Die lae pH is egter nie Paterson se enigste bekommernis in die Sandveld nie. “Die grond hier is arm, met ’n organiese koolstofinhoud van minder as 0,3%. Ons mik daarna om ons grondorganiese koolstofinhoud tot 1% te verhoog, maar dit is makliker gesê as gedaan.”

Die droë, warm somers brand vinnig enige dooie organiese materiaal wat op die grond lê tot niet, en dan is die oostewind ook nie mak op Wittedrift nie. “Ons het tans ’n dubbele strategie om windbrekers tussen die jong bome te vestig en terselfdertyd die grondorganiese inhoud op te bou,” sê Murphy.

In elke tweede werksry het hy ná die eerste reën in 2018, net ná Paasnaweek, 30 kg rog per hektaar gesaai. Die rog sal onaangeraak in die werksrye bly staan om uit te droog en in die somer as ’n windbreker te dien. “In die afwisselende werksrye het ons ook 30 kg kanola per hektaar gesaai. Ons sal die kanola net tot in blomtyd laat gaan en dan die helfte van die bedding aan elke kant met die bossiekapper op die bankies onder die bome insny. Die doel is om organiese materiaal op die bankie te vestig. Ons hou die bankies met kontakdoders skoon van onkruid om mededinging met die bome te keer,” sê Murphy.

Paterson het kanola ook gekies omdat dit ’n diep penwortelstelsel het. “Die redenasie is dat dit voedingstowwe diep onder die grond hersirkuleer en nader aan die oppervlak bring in die vorm van organiese materiaal, wat ons op die bankies opkap.”

Hy het ook in die eerste 18 maande nadat die boord gevestig is, sorghum tussen die bome in die boomry gevestig. Die sorghum is drie maal deur die jaar afgesny, en die snysels is om die bome op die bankie gepak as ’n grondbedekking en om die organiese materiaal in die grond aan te vul.

“Die bome se wortels begin egter die spasie vul, en die sorghum sal met die bome begin meeding om water en voedingstowwe. Ons sal daarom nie weer saai nie.” Al die moeite wat gedoen word, is om gesonde grond en ’n beter habitat vir mikro- organismes te skep.

“Ek glo die pH van grond met ’n hoër organiese materiaalinhoud sal stabieler wees en die grond sal nie so vinnig en maklik versuur nie. Indien die grond wel effens suur is, sal ’n hoër organiese materiaalinhoud die beskikbaarheid van voedingstowwe verhoog.”

NAVRAE: Mnr. Robert Paterson: e-pos: robert@twaktuin.co.za; tel. 027 482 2763.
Só werk vloeibare kalsium

CalSap (reg.nr. B4543, Wet 36 van 1947) is ’n vloeibare, alkaliese kalsiumbron met ’n pH van 12,5, sê me. Heather Raymond van Tsama Agriculture. “CalSap word gemaak van kalsitiese kalk wat deur ’n fermentasieproses – esterifikasie – gaan en verwarming en verkoeling benodig. Die byvoeging van ’n energie- en koolstofbron – melasse – dryf die proses om ’n produk te vervaardig wat onder meer oplosbare kalsium (Ca++), hidroksielgroepe (OH-) en koolstof bevat.

“Hoewel die hidroksielione aan die koolstofmolekules bind, is die verbindings nie baie sterk nie en kan die neutraliseringsproses baie doeltreffend en onmiddellik plaasvind wanneer CalSap in aanraking met suur kom. Die melassegedeelte in die oplossing voed die grondmikrobes en verminder die risiko van loging deur die wortelsone.

“In suur grond is daar waterstofione (H+) wat aan gronddeeltjies bind. Hierdie waterstofione is die oorsaak van die versuring. Die waterstof kan van talle bronne afkomstig wees, onder meer ammoniak-stikstofkunsmis. Wanneer CalSap aan die grond toegedien word, ruil die kalsiumione met die waterstofione op die gronddeeltjies uit omdat die kalsium sterker magnetisme as die waterstof het. Die hidroksiede wat ook in die oplossings is, bind met die waterstof wat nou van die gronddeeltjie afgedruk is om water te vorm. Die koolstof, wat as deel van die melasse ook in die oplossing is, bly in die grond agter.

“Wanneer kalk aan die grond toegedien word, vind dieselfde proses plaas, maar net baie stadiger omdat kalk eers in die grond afgebreek moet word, wat slegs plaasvind wanneer dit met ’n suur in aanraking kom. Omdat CalSap baie oplosbaarder as gewone kalk is, werk dit baie vinniger en doeltreffender.”

Baie voedingstowwe wat in oplossing is, word deur die waterstof-ione vasgelê in grond met ’n baie lae pH. In sulke grond is aluminium- en mangaan-toksisiteit en kalsium- en magnesiumtekorte groot risiko’s, terwyl lae vlakke van noodsaaklike voedingstowwe, soos fosfor en molibdeen, ook ’n probleem kan veroorsaak.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.