‘Ek het grootgeword met ’n skoutradisie in my huis,” skryf Kobus Gerber, skouvoorsitter van die Riversdalse landbougenootskap, in sy brief aan besoekers tydens dié genootskap se 150ste bestaansjaar.

“As plaaskind was skoutyd ’n geleentheid wat nie misgeloop word nie. Almal het maande voor die tyd bespiegel wie die mooiste en beste diere gaan vertoon en wie met die meeste pryse gaan wegstap. Grootpraat was deel van die gesprekke.

“Vanjaar is die Riversdal-skou al 150 jaar deel van Riversdal se gemeenskap en steeds ’n geleentheid waarna uitgesien en bespreek word.”

Schutte Müller van Herbertsdale vertoon Meisie (13 maande) van die Hoër Landbouskool Oakdale se melkkudde.
Hamman van Wyk, ’n leerling van die Landbougimna­sium Augsburg op Clanwilliam.
Shaun Bester vertoon ’n vleisskaap in die jeugskou se skoumanskapklas. Die jeugklasse het verder vleisbeeste, melkbeeste, wolskape, veselbokke en perde ingesluit.

Iets vir almal

“Die skou het vanjaar weer ’n verskeidenheid aktiwiteite gebied,” sê Kobus. “Ons poog om vir elkeen in die gemeenskap ’n item, aktiwiteit of geleentheid te skep waarby hy of sy betrokke kan wees.”

Naas die nasionale Merino Classic-kampioenskappe, die Suid-Kaapse Jersey-kampioenskappe, vleis- en dubbeldoelrasbeesskou en perdeklasse, was daar ’n pluimvee-afdeling, die jeugskou, die atletiekbyeenkoms, ’n vroue-oggend, ’n manne-ontbyt en ’n Boerboel-skou.

Meer as 300 stuks pluimvee – van sagteveer-bantams tot kwakereendjies en kalkoenrasse – was by die gewilde pluimvee-afdeling te sien, sê John Cronjé, die voorsitter van die afdeling. Vertoners en verkopers het tot van die Boland, Overberg, Klein-Karoo en selfs Middelburg (Oos-Kaap) gekom.

“Dit is die ideale gesinstydverdryf – almal kan skouhoenders help teel.”

Riaan en Chandre Ludeke met die senior kampioen-Boerboelreun, La Boela Boston.
Elevation Echo, die Boerboelskou se Hond van die Dag. Van links: Carle-Dean Venter (My Vet-groep), Yolandi Fourie (Jock Agri), Kenny van der Merwe (eienaar), Erika Goedhals (organiseerder) en Adre Steenkamp (hanteerder).

Eg SA honde

Die Boerboelskou, wat vanjaar vir die vyfde keer plaasgevind het, was ook ’n groot trekpleister. “Dit was ons grootste skou tot nog toe,” sê Erika Goedhals, die organiseerder. “Altesame 102 Boerboele is ingeskryf!

“Die Boerboelskou lok groot getalle toeskouers. Dis nie net ’n platform om mooi honde te vertoon en te vergelyk nie, maar ook om die publiek bewus te maak van dié eg Suid-Afrikaanse ras. Boerboele is sterk, vreeslose en lojale honde wat van hulle uitstekende waghonde, maar ook troeteldiere maak. Daar is seker maar min plase wat nie ’n Boerboel het nie!”

Die skou is slegs vir geregistreerde Boerboele en is onder beskerming van die Suid-Afrikaanse Boerboeltelersvereniging (SABBS) aangebied.

Gereldo Marcus van die Werk teen Vuur-span het verbygangers tot opstootkompetisies uitgedaag.
“Laat ek nou vir jou ’n mooi hoender wys!” Fanie le Roux van Riversdal en sy woelige Sumatra-hoenderhaan. “Ons moes ’n rooikathok stel om hom te vang en skou toe te bring.”
Hennie Fourie van Bloemfontein vertroetel ’n Miniatuurperdjie van Paddavlei.

Saamstaan

Wat veral vir Kobus uitstaan, is die diereklasse met vertoners van oor Suid-Afrika heen, die groot getalle jong mense en die vol sale van die damesoggend en manne-ontbyt. “Riversdal se gemeenskap is uniek en besonders. In die afgelope tien jaar as voorsitter van die skou, het ek ervaar hoe ’n kosbare tradisie van geslag tot geslag oorgedra word en hoe ’n gemeenskap kan saamstaan.” Vir meer oor die Riversdal-skou se uitslae, hou Landbouweekblad se skoublaaie dop.

Hoogtepunte

1856

Die landdros Maurice Garcia tree op as voorsitter van die eerste skouvergadering voor ’n stigtingskomitee van 25 lede. Garcia-pas (tussen Riversdal en Vanwyksdorp) is na hom genoem.

1868

Die eerste skou is op ’n plein in die dorp gehou, waar die Makadas-stoomlokomotief vandag staan. Op die terrein van die huidige stadsaal was destyds geboue wat deur boere gebruik is vir die verkoop van wol en volstruisvere.

1906

Die eerste raseg-geregistreerde Jerseykoei, Prinses May, word vertoon.

1920

Die skou word vir die eerste keer op die huidige terrein aangebied.

1947

Bier mag vir die eerste keer op die skouterrein verkoop word.

1950

Die begin van ’n moderne era en baie nuwe idees, soos ’n afvaardiging na die Minister van Landbou vir die bou van die Korenterivierdam.

1953

Die grootste skou tot op datum. Daar word besluit om rooi vir eerste prys te gebruik, blou vir tweede prys en geel vir derde prys. Die skou sluit af met ’n bankbalans van £807 (sowat R1 600). In 1868 was die skou se aanvangsbankbalans minder as R40.

1956

Daar word geskou met Merino-skape, Saalperde, Jerseybeeste, pluimvee, groente, graan, honde, donkies en muile.

1971

Die skade van 1969 se aardbewing word nog herstel.

1987

Weens Afrika-perdesiekte is daar geen perde op die skou nie. Pleks daarvan is boeresport en skoukaskenades aangebied.

1999

Die jeugskou word van stapel gestuur.

2004

Die eerste skoleatletiekbyeenkoms is ’n groot trekpleister.

2008

Die eerste jaar dat meer as 10 000 mense deur die hekke kom.