Die sekretarisvoël (Sagittarius serpentarius) is ’n ikoniese en baie bekende voël en benut verskeie habitatsoorte reg oor sy verspreidingsgebied in Afrika suid van die Sahara heen. Sekretarisvoëls kom in al nege provinsies in Suid-Afrika voor en verkies oop grasveld en bosveld en vermy landskappe wat ruig bebos is.

Hulle slaap gewoonlik op doringbome en bring die meerderheid van die dag op die grond deur terwyl hulle jag. Die oorsprong van die naam is ontleen van die kroon van lang slagvere wat herinner aan die penvere wat kantoorwerkers in vervloë dae agter hul ore gedra het.

Die sekretarisvoël word maklik geïdentifiseer – die lang en sterk bene word gebruik om prooi te jaag en aan te val, die grys en swart vere en penvere op die kop is alles kenmerkend. Volwassenes het rooi vel op hul gesigte en jong voëls geel vel. Hulle het growwe skubbe op hul bene om hulle teen slangbyt te beskerm.

Slegs die boonste helfte van die bene is geveer, wat ’n koddige voorkoms veroorsaak – byna asof hulle ’n broek dra. In vlug is die verlengde stertvere van volwasse voëls wat verby die pote strek ook uniek.

Op ’n afstand en in vlug kan hulle maklik met kraanvoëls verwar word. Die nek is nie besonder lank nie en daarom moet hulle vooroor buig om items van die grond af op te tel of om water te drink. Sekretarisvoëls benut ’n verskeidenheid prooisoorte.

Hulle kan op ’n dag meer as 30 kilometer beweeg op soek na prooi. Hulle trap op gevaarlike prooi, soos slange, om hulle katswink te slaan, waarna die slange agter die nek gebyt word.

Die vermoede bestaan dat hulle hoofsaaklik hul goeie sig gebruik om die presiese posisie van die slang se kop te bepaal. Hul buitengewoon lang bene stel hulle in staat hierdie unieke vorm van jag te vervolmaak. Die voëls stamp ook met hul groot pote op die grond om moontlike prooi uit hul skuilplekke te verwilder.

Hulle vreet slange en ander reptiele, paddas, skilpaaie, rotte en ander klein soogdiere en jong voëls. Sekretarisvoëls is territoriaal en benut ’n gebied van ongeveer 40 km2 tot 50 km2. Hulle bring die meeste van hul tyd op die grond deur, hoewel hulle uitstekende vlieërs is. ’n Lang aanloop is nodig voor hulle die grond in vlug verlaat.

Hulle vorm lewenslank pare, hoewel hulle buite die broeityd alleen kan voorkom. Die nes word laag in die vurk van ’n boom, gewoonlik ’n doringboom, gebou en hulle gebruik dieselfde nes jaar ná jaar. Die groot bondel stokke van die nes groei aansienlik oor die jare, byna soos die neste van die groot arende.

Die sekretarisvoël se status is onlangs as kwesbaar verklaar. In Suid-Afrika is groot kommer oor die bewaringstatus van dié voëls. Sensusopnames oor 20 jaar toon dat daar ’n beduidende afname in getalle is in gebiede waar die voëls voorheen voorgekom het. Dié dramatiese afname word waarskynlik meestal deur habitatverlies en fragmentering van hul habitatte veroorsaak.

Bosindringing speel ’n belangrike rol in dié verband. Ander bedreigings vir dié voëls sluit botsings met kragdrade en verstrengeling met plaasdrade in. Baie voëls, soos die sekretarisvoël, die bloukraanvoël en uile, vrek gereeld weens verstrengeling met plaasdrade. BirdLife Suid-Afrika het onlangs ’n projek begin om die omvang van die probleem te begryp en voorkomende maatreëls te ontwikkel.

Dit lyk asof dit veral die boonste draad van heinings is waarin die voëls verstrengel raak, maar meer navorsing word benodig om dit te bevestig.

Boere word gevra om gedetailleerde inligting van sulke gevalle van verstrengeling met drade by Ernst Retief by ernst.retief@birdlife.org.za aan te meld.

Jong sekretarisvoëls op die oop neste op doringbome is ook maklike prooi vir kraaie, neushoringvoëls, groot uile en ander roofvoëls. Dit is verbasend dat daar nog nie genoeg inligting beskikbaar is oor die getalle en bevolkingsneigings, asook die grootte van die territoriums van sekretarisvoëls nie.

Inligting word ook benodig oor die verspreiding en algemene bewegings van jong voëls wat pas die nes verlaat het. Sulke inligting word benodig om die bewaring van hierdie bedreigde voëls te probeer verseker. BirdLife Suid-Afrika het navorsing van stapel gestuur om hierdie kwessies te bestudeer.

Hierdie navorsing word geborg deur die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (ACSA) en Petra Diamante. Die navorsing ondersoek onder meer die bewegings van sekretarisvoëls met behulp van satelliet-opsporingstoestelle. Dit verskaf inligting oor die afstande wat daagliks afgelê word, die habitatte wat benut word en die grootte van terreine wat gebruik word.

Dr. Anton Odendal is die voorsitter van BirdLife Overberg. Hy woon op Hermanus.

NAVRAE: Die inligting word gereeld bygewerk en kan op Facebook gevolg word by https://www.facebook.com/secretarybirdconservation Skakels is ook op BirdLife Suid-Afrika se webwerf by www.birdlife.org.za beskikbaar, waar die bewegings van spesifieke voëls gevolg kan word.

’n Groot aantal voëlkykklubs is aktief in Suid Afrika. Kontak Shireen Gould by membership@birdlife.org.za vir die kontakbesonderhede van ’n klub in jou geweste.