Dit is mistig en koud in die dorpie Borek, 120 km suid van Praag, Tsjeggië se hoofstad . . .

Die eeue oue vis-oesritueel is egter nie kosmetiese oëverblindery nie; dis ’n broodnodige insameling van vis met die oog op ’n honger Kersfeesmark. Visboerdery in damme is ’n tradisionele bedryf wat al sedert die tiende eeu in dié land en daardie deel van Europa voorkom.

Die vis is veral gewild as ’n tradisionele maaltyd vir Oukersaand. Oktober is oestyd ná ’n vyf- jaartydperk om die vis pangereed te kry. Kenners sê namate Kerstyd nader kom, word die prys van die vis ’n groot kwessie op straat. Dan kos ’n lewende karp maklik €4 (R66) per kg, waarvan net 40% benut kan word.

Die voeromsettingsverhouding van vleis en vis

Verreweg die meeste vis (oorwegend karp) word lewend op die plaaslike mark verkoop of uitgevoer. Sowat 46% word plaaslik lewend verkoop en sowat 42% word lewend uitgevoer. Om die smaak te verbeter, word die visse vir ’n maand of langer nadat hulle geoes is, in skoon water aangehou sonder dat hulle gevoed word.

Die verkope daarna moet aan streng higiëniese en veeartsenykundige vereistes voldoen.

“Eintlik gebruik ons nog maar dieselfde metodes om die vis te oes as eeue gelede. Die grootste verskil is dat die toerusting eers van hout gemaak was en nou met staal, plastiek en aluminium vervang is,” vertel mnr. Jiri Stanek, finansiële direkteur by Lesy a Rybniky, die bosbou-en-dammemaatskappy wat die visboerdery in Ceske Budejovic, die hoofstad van die provinsie Suid-Bohemië, bedryf.

Nadat die vis geoes is, word hulle vir ’n maand of langer sonder kos in klipdamme soos hierdie gehou sodat die smaak van die vis kan verbeter.

’N TONEEL REG UIT DIE MIDDELEEUE

Die oesproses lyk ook soos ’n toneelopvoering uit die Middeleeue met die swart geklede vissermanne in die mis en besoekers van oral wat die proses kom aanskou.

“Al die damme is met kanale aan mekaar verbind. Eers word die damvlak in die dam waar geoes gaan word, verlaag. Dit kan van ’n paar dae tot twee weke duur. Die visse kom almal bymekaar in die diepste deel van die dam. Dan word hulle met klapgeluide op die water aangekeer tot by die plek waar hulle uitgehaal gaan word en nette word in die water geplaas om te keer dat hulle ontsnap. Dié wat markgereed is, word in tenks geplaas en die res word teruggeplaas in die dam.”

Jiri sê in die Middeleeue was akwakultuur een van die winsgewendste boerderyvertakkings. Dit het altyd ’n tradisionele vorm van boerdery gebly totdat die wetenskap aan die begin van hierdie eeu ’n rol begin speel het. Aanvanklik is die klein vissies net in kleiner damme gehou, maar deesdae word hulle in spesiale tenks gehou.

Daar bly hulle vanaf die eierstadium vir een tot twee jaar totdat hulle sowat 8 cm lank is. Dan gaan hulle “kleuterskool” toe, wat eintlik maar net ’n groter dam is, waar hulle vir nog ’n jaar bly. Hulle weeg dan sowat 200 gram. Die volgende twee jaar bring hulle dan in groot damme deur, waar hulle groei tot ’n bemarkbare grootte van 2-3 kg.

Die hele proses duur sowat vyf jaar. Die belangrikste betrokkenheid van mense by die proses is om die hoeveelheid vis te verminder of te vermeerder na gelang van die drakrag van die damme en ook die plankton- en algegroei met kunsmis te stimuleer en die visse met koring, rog en tritikale (korog) te voer.

Jiri sê sowat 90% van die vis in hul damme is gewone karp. Die ander 10% sluit graskarp en silwerkarp in. Sy maatskappy oes jaarliks sowat 230 ton vis, waarvan 70% in die herfs (Oktober) uitgehaal word wanneer dit koeler is en die vraag styg met die oog op die Kersmark.

Nadat die karp uitgehaal is, word dit volgens verskillende groottes gesorteer.
Behalwe die net waarin die visse gevang word, word nog ’n net oor die dam gespan om te keer dat visse ontsnap.
Mnr. Jiri Stanek, finansiële direkteur by Lesy a Rybniky, die woude-en-dammemaatskappy wat die visboerdery in die stad Ceske Budejovice bedryf.

TEGNOLOGIE VERHOOG PRODUKSIE

Die grootse visboerderye word in Suid-Bohemië bedryf, waar sowat 70% van Tsjeggië se visdamme voorkom. Die damgroottes wissel van 140 ha tot 7 428 ha. In die 10de en 11de eeu was die produksie maar 10-12 kg per ha. Daar is mettertyd al hoe meer damme gebou.

In die begin van die 17de eeu was daar al damme van 180 000 ha, maar die jaarlikse produksie was net 5 000 ton. Namate ander landboubedrywe ontwikkel het, is baie van die damme drooggelê en in ander boerderye omskep, maar terselfdertyd is produksie deur tegnologie verhoog.

Volgens die Tsjeggiese visboerevereniging is daar damme van 52 000 ha beskikbaar. Sowat 42 000 ha daarvan word reeds vir visproduksie benut. Die gemiddelde produksie per ha is sowat 450 kg, maar dit wissel baie na gelang van damgroottes. In kleiner damme is dit 200-300 kg/ha per jaar en in groter damme styg dit tot 400-600 kg/ha per jaar.

Die totale produksie per jaar wissel van 20 000 ton tot 21 000 ton. Daarvan is 88% karp. Sowat die helfte van die vis word plaaslik verbruik.

Hoewel die meeste vis tydens Kersfees en Paastyd verkoop word, word bykans 10% deesdae in ’n verwerkte vorm bemark, onder meer bevrore filette, ingemaakte karp en gemaalde karp vir viskoekies en -vingers. Daar is 14 verwerkingsaanlegte en sowat 25 ander wat net oor Desember bedryf word om in die groter vraag te help voorsien.

Klein vissies word weer teruggeplaas in die dam om uit te groei tot hulle gereed is vir ’n Kersmaal.

Grootste uitvoerder van karp

Tsjeggië is die grootste uitvoerder van karp in Europa. Sowat 40% tot 50% van die uitvoer gaan na Duitsland en 20% na Slowakye. Volgens ’n verslag van die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbouorganisasie (VLO) oor die bedryf is hierdie varswater-akwakultuur ’n integrale deel van Tsjeggië se landbou.

Die visdamme speel ’n belangrike rol in landskap- en water- bronbestuur, soos om waterbronne te bewaar, vloede teen te werk en biodiversiteit te beskerm. Dit is ook ’n belangrike bron van inkomste. Sowat 2 600 mense verdien ’n vaste inkomste daaruit, terwyl talle deeltydse werkers in oestyd in diens geneem word.

Daar is 70 visboerderye wat meer as 5 ton vis per jaar lewer en nog sowat 300 kleiner boerderye. Die meeste boere skakel by die Tsjeggiese visboerevereniging in. Afgesien van die natuurlike voedsel, soos plankton en alge, in die water word graanprodukte, soos koring en rog, ook as aanvullende voeding vir die vis gebruik.

Vroeër is kraalmis in die water gegooi om plantegroei te stimuleer, maar dié gebruik is gestaak weens algebesoedeling. Net klein hoeveelhede organiese misstowwe word nog toegelaat. In hooggeleë dele word daar ook in ’n mindere mate met forel geboer. Sommige visboerderye sluit ook kurpers en baber (wels catfish) in (sowat 10-30 ton per jaar).

In die meer onlangse tyd het die produksie van ornamentele vis, soos koi-karp, goudvisse en akwariumvisspesies, ook ’n toenemend belangrike rol in visboerdery begin speel. Daar word bereken dat Tsjeggië nou die wêreld se vierde grootste uitvoerder van varswaterakwariumvis is.

’n Fakulteit vir visserye en die beskerming van waterbronne is in 2009 by die Universiteit van Suid-Bohemië in Ceské Budejovice gestig. Die navorsing sluit onder meer genetika, reproduksie, teling en visvoeding in. Dr. Vojtech Kaspar, vise-dekaan vir buitelandse betrekkinge, sê ’n nuwe ontwikkeling wat pas by die universiteit gedoen is, is omega 3-karp.

Die vis word gevoer met ’n dieet van omega 3- verrykte plantolies en word dan teen ’n 20% premie verkoop vanweë die gesondheidsvoordele as die vis geëet word. Die proses is gepatenteer en kommersiële lisensies word benodig om omega 3-karp te produseer.

Buiten die kommersiële visboerderye speel hengel as ’n ontspanningsbedrywigheid ook ’n belangrike rol in die land. Daar is twee hengelverenigings wat altesaam 350 000 lede het. Hierdie hengelaars vang saam 4 000 ton vis per jaar in damme wat vir ontspanningsdoeleindes oopgestel is.

© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.