Mnr. Freddie Wasserfall, voorsitter van SA Stamboek, sê niemand betwyfel die bevoegdheid van plaaslike navorsers nie. “Die probleem is dat die navorsing primêr geskied met geld wat deur die staat bewillig word.”

Wasserfall het op Stamboek se jaarvergadering in Bloemfontein gesê die twee groot groepe in landbounavorsing is die Landbounavorsingsraad (LNR) en die tersiêre instellings met nagraadse landbouafdelings. “Die oplossing is internasionale modelle. Het dit nie tyd geword dat die LNR gereduseer word tot ’n klein, bevoegde raad wat take en projekte aan tersiêre instellings toeken nie, met die nodige geld?”

Wasserfall het aan die einde van sy ampstermyn die vordering van Stamboek uitgewys, onder meer ’n volledige oudit deur die internasionale komitee vir diere-aantekening (ICAR) op die organisasie se werksaamhede, wat Stamboek geslaag het. “SA Stamboek is die enigste diere-aantekeningsorganisasie wat die ICAR-stempel van gehalte op al sy dienste kan aanbring, nie net plaaslik nie, maar in die hele Suidelike Halfrond.”

Genomiese toetsing

Stamboek is ook besig om goeie vordering te maak met genomiese toetsing en kan spog dat die organisasie oor genomiese teeltwaardes vir drie van sy rasse het. Verskeie rasse is in die proses om hulle hierby te voeg, het hy gesê.

Die Amerikaanse Beefmaster-telersgenootskap het ná ’n besoek aan Stamboek besluit om gesamentlike genetiese teeltwaardes vir Amerika en Suid-Afrika uit te reik. Die nodige protokolle word nou opgestel wat al Amerika se 4 000 en Stamboek se 1 500 genomiese ontledings sal ondervang.

Stamboek het die afgelope jaar begin om fase D-toetse te doen vir telers wat by ander registrerende owerhede betrokke is, maar nie die vermoë het om die toetse te doen nie. Met die afhandeling van die toetse word die data oorgedra na die betrokke registrerende owerheid.

Wasserfall het Stamboek se bemarking onder kleinveerasse in die afgelope termyn verduidelik om wanopvattings die nek in te slaan dat die organisasie hom net op grootvee toespits.

Horse Champ, ’n nuwe skouprogram vir perde, is ook die afgelope jaar bekend gestel.

Hy het die gebrek aan samewerking uit die kantoor van die registrateur van diereverbetering betreur. “Besluite uit sy kantoor is nie konsekwent nie, navrae word nie altyd beantwoord nie, die nodige inligting word weerhou sodat die invoer van genetiese materiaal nie gemonitor kan word nie en die bepalings van die wet word geminag.”