Tans koop die boerdery varkies aan om groot te maak tot die diere slaggereed is. Uiteindelik wil hy sy eie varke teel. Hy verbou sy eie mielies en sonneblomme om aangekoopte voer aan te vul. In Nederland moet jy as jy meer as vier varke besit, die diere ingevolge wetgewing op stal hou. Herenboeren het egter ’n spesiale ooreenkoms met die regering aangegaan sodat sy varke vry kan loop. “Daar is natuurlik skuiling teen die weer. Ons eksperimenteer ook met mobiele verblyf, sodat die diere maklik kan wei en elders op die plaas kan rondbeweeg,” sê Boudewijn.
Mnr. Geert van der Bruggen (regs) bestuur die Herenboerderij en word deur lede van die koöpe- rasie betaal. Hy word vir die produksie van ál die plaas se produkte betaal en doen alles — van grondvoorbereiding tot saai en oes. As tyd of kennis ontbreek, nader hy ’n kontrakteur of kenner om te help sodat die oes betyds gelewer kan word. Geert meen ’n gesonde oes moet met so min as moontlik produksiemiddele van buite geproduseer word. By hom staan Douwe en Boudewijn.
Hulle volg ’n volhoubare benadering sodat opeenvolgende gewasse die grond in ’n beter toestand moet los as waarin dit gevind is. Appels, pere en pruime is van die gewilde langtermyngewasse wat hulle verbou. Bone, blaarslaai en aartappels is immergewild, maar beet, wortels, aspersies en pampoene word ook gekweek.
Gesinne kan ook vrywillig help plant en oes. Dié ervaring maak stadsjapies bewus van waar hul kos vandaan kom. Raadslede tree op as middelmanne tussen die lede en die boer, sodat die onderskeie gesinne se uiteenlopende behoeftes oor voedselsoorte en produksieprosesse in ag geneem kan word. Op vasgestelde dae van die week kom haal gesinne hul produkte af by dié versamelpunt.
Aanvanklik het 50 gesinne elk €2 000 (sowat R32 000) in die projek belê. Hulle moes ekstra geld leen om die produksie behoorlik aan die gang te kry. Die lede deel die plaas se bedryfskoste. In ruil daarvoor kry hulle weekliks vyf soorte groente, asook 7,5 kg beesvleis, 10 kg varkvleis en 4 kg hoendervleis per jaar (die vleistoelaag beloop sowat die helfte van die gemiddelde vleisverbruik per kop per jaar in Nederland). Elke gesin betaal €500 per jaar (sowat R8 000), oftewel €10 (sowat R160) per week. Die bedrag word jaarliks aangepas nadat hulle die bedryfskoste bepaal het. Die prys is gelyk aan wat ’n gesin by ’n kleinhandelaar sou bestee.

NOG INLIGTING: www.herenboeren.nl


© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.