Ja, 3 000 mm! Min dinge is egter so lekker as om foto’s van spesifieke kraters op die maan te neem. Om die hele maan in te kry, moet jy ’n bietjie kan uitzoem. Die nuwe Nikon Coolpix P1000 doen presies dit.

Hoewel die sensor heelwat kleiner is as dié van jou SLR, is die fotogehalte minstens so goed of selfs beter as dié van jou selfoon met sy Duitse kameralens. Teen 3 000 mm is die atmosfeer jou grootste vyand as jy iets wat byvoorbeeld ’n kilometer ver is, wil afneem.

Stof en wasigheid het ’n groter impak op die gehalte van jou foto as die lens. Die kamera is veral geskik vir die afneem van voëls, wild en selfs sport. Die outomatiese fokusstelsel kan wel nie by die spoed van moderne DSLR-kameras kers vashou nie, maar vir die meeste van ons gaan dit nie te veel saak maak nie.

Voorbeelde van goeie motorsport- en selfs rugbyfoto’s met dié kamera is reeds die internet vol. Met ’n wye hoek van 24 mm kan jy dit sommer ook vir vakansiefoto’s gebruik, of om Boeta se rugbyspan en al twaalf hulpafrigters af te neem as hulle die beker huis toe bring.

Op 24 mm is die lens redelik vinnig met ’n F-stop van 2.8, maar op 3 000 mm is dit aansienlik stadiger teen F8. Die kamera se goeie ingeboude stabiliseringstelsel stel ’n mens in staat om selfs ten volle ingezoem teen ’n redelik lae sluiterspoed goeie foto’s te neem. Boonop kan die ISO tot op 6400 gestel word.

Die kamera werk egter op sy beste in goeie lig, en kenners beveel aan dat ’n mens die ISO onder 800 hou vir optimale resultate. Die Coolpix P1000 is nie ’n liggewig nie. Dit is omtrent so groot soos ’n middelslag DSLR met ’n 300 mm-zoemlens. Dit is ’n klein boete om te betaal vir ’n kamera wat met een lens die werk van ’n hele sak vol SLR-lense doen.

 

Prys:R18 795.

NAVRAE: ORMS Direct, tel. 021 465 3573.


© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.