In net tien jaar sedert mnr. Nick Serfontein sy volle aandag aan sy gediversifiseerde landbouonderneming begin gee het, het dit ontwikkel tot ’n onderneming wat die hele waardeketting besit – van plaas tot vurk.

Terselfdertyd word Sernick se program vir opkomende boere deur die Jobs Fund as een van sy vlagskipprojekte beskou. Serfontein vertel waarom die toekoms van landbou in die ontginning van die waardeketting lê en waarom landbou ’n groot rol speel in nasiebou in die land.

Jy is eintlik ’n ingenieur, maar jy boer nou al dekades lank uiters suksesvol. Het die twee beroepe enigiets met mekaar te doen? Het jou opleiding as ingenieur of selfs jou ingenieurstemperament jou boerdery gebaat?

Ek is waarskynlik meer ’n boer as ’n ingenieur omdat ek net ná skool wou boer. Gelukkig het my ouers my oorreed dat daar geen toekoms in die landbou was nie en gevolglik het ek ingenieurswese gaan studeer. Hul standpunt was waarskynlik gegrond op hul persoonlike situasie op daardie stadium, want die klein, gemengde boerdery was nie suksesvol nie.

As ek so terugdink aan daardie tye, dan was my pa ook nie ’n baie goeie boer nie. Elke mens het ’n bietjie geluk nodig in die lewe. My eerste bietjie geluk was dat ek relatief arm grootgeword het. Ek het op skool byvoorbeeld slegs een keer nuwe klere ontvang. My oorlede broer was drie jaar ouer as ek, en ek het altyd sy ou klere gedra. My tweede bietjie geluk was dat ek ingenieurswese as ’n loopbaan gekies het. En my derde bietjie geluk was dat ek in Mafikeng in die voormalige Bophuthatswana beland het. Mafikeng was vir my goed.

Ek het ’n baie suksesvolle praktyk daar ontwikkel wat my finansieel in staat gestel het om 250 ha grond en 30 Bonsmaraverse in 1983 te kon koop. Dit was die begin van my droom. My ingenieursopleiding het my gebaat, maar dit was my ondervinding wat ek as praktiserende ingenieur opgedoen het, wat my baie gehelp het. Ingenieurs oor die algemeen is baie gestruktureerd en beplanningsgeoriënteerd.

So ook het ek my ondervinding van projekbestuur baie suksesvol toegepas in die boerdery. Onthou ek was vir 21 jaar ’n deeltydse boer en ek kon slegs ongeveer 20% van my tyd aan die ontwikkeling van die boerdery bestee. Uit die aard van die saak was daar nadele aan verbonde, maar die voordeel hiervan was dat ek met ’n ander oog na die boerdery kon kyk.

Jy het ’n entrepreneursingesteldheid. Wat het die deurslag vir jou sukses as entrepreneur gegee?

Ek is ’n dromer en glo alles in die lewe begin met ’n droom, ’n visie van die toekoms. Wanneer jy ’n droom kan SIEN, dan kan jy hom kry. Nog ’n element is dat ek vinnige besluite neem waarvan baie gut feel is. Wanneer ’n mens moet wag tot jy 100% inligting het, sal jy nooit ’n besluit neem nie. Vir my is 60% inligting genoeg om ’n besluit te neem.

Nick Serfontein
Serfontein se Bonsmarastoetery en beesboerdery is sy passie.

Enige besluit is steeds beter as geen besluit nie, want ’n verkeerde besluit kan jy regmaak, maar geen besluit kan jy nie regmaak nie. Die derde element is dat ek enige projek waarop ek besluit, deeglik beplan en met passie en dringendheid uitvoer; maar net tot ’n punt.

Wanneer die projek staan, dan moet ek hom oorgee aan iemand wat die stelsels en prosesse kan insit, want ek raak verveeld met detail. My seun wat vandag uitvoerende hoof van die groep is, is gelukkig so ’n persoon, en daarom komplementeer ons mekaar.

Waarom het jy as boer besluit om betrokke te raak by die hele waardeketting. Hoe werk dié proses vir die groep en waarin lê julle grootste sukses?

In moderne boerdery raak die gaping tussen insetkoste en kommoditeitspryse aanhoudend groter. Die meeste insetkoste soos voertuie, werktuie, brandstof, kunsmis en medisyne is gekoppel aan die dollar. Hoe verskans jy jou daarteen? Jy kan groter en groter word. Dit is hoekom plase groter word en boere minder.

Die aantal kommersiële boere het gedaal vanaf 120 000 in 1960 tot 35 000 in 2016. Dit is ’n vermindering van 1 500 boere elke jaar. Dit het niks met politiek te doen nie, maar alles met die werklikhede van moderne boerdery. Jy kan meer produseer op dieselfde stuk grond met moderne tegnologie. Jy kan diversifiseer en baie boere doen dit uiters doeltreffend. Of jy kan waarde toevoeg. By Sernick doen ons iets van alles, maar die klem lê op waardetoevoeging.

Die toekoms van die landbou lê by die waardeketting, want jy moet so naby as moontlik by die eindverbruiker uitkom en verkieslik by die eindverbruiker self, want dit is waar die winste lê. Dit is nie maklik nie, want elke skakel in die ketting lyk anders en verg ander stelsels, prosesse en mense. Ek het baie skoolgeld betaal, maar wanneer ’n mens dit regkry, is dit baie bevredigend. Een van die grootste voordele is die enorme geleenthede wat so ’n waardeketting skep.

Is dit nie beter om net te konsentreer op één ding nie – as jy goeie beeste teel, moet jy noodwendig nou ook jou eie slaghuis oopmaak?

’n Bottel wyn is ’n goeie voorbeeld om die vraag te beantwoord. Dit kos R50 by die winkel. Die waarde van die wyn in die bottel is slegs R1 oftewel 2% werd. Dit is die dilemma van boerdery. As jy nie die wyn in ’n mooi bottel sit nie, ’n mooi etiket opsit en bemark nie, is die R1 dit wat die boer kry. As jy in die waardeketting inkom, groei en diversifiseer, dan kan jy relevant bly. Sonder dit is dit baie waarskynlik dat jy binnekort irrelevant gaan word.

Jy glo die stoetveebedryf het ’n verantwoordelikheid teenoor Suid-Afrika se kommersiële beesvleisprodusente. Hoe lyk daardie verantwoordelikheid?

Die uiterlike voorkoms van diere het oor jare belangriker geword as die winsgewende eienskappe van diere. Mooi is en was nog altyd mooi, maar stoetboere moet diere teel en beskikbaar stel aan die kommersiële sektor met slegs een mikpunt en dit is om meer wins te maak.

Gevolglik is dit noodsaaklik dat die stoetteler deeglik bewus moet wees van wat die kommersiële teler soek en sy diere en omstandighede ken. Die variasie tuusen bulle is groot en daar is horses for courses. Die stoetboer behoort dus die kommersiële teler by te staan in sy keuse van bulle met eerlikheid en integriteit, twee eienskappe wat ononderhandelbaar is vir sukses.

Voerkrale in Suid-Afrika is marginaal en riskant wanneer dit nie wetenskaplik bedryf word nie. Wat doen julle anders as ander voerkrale om sukses te behaal?

Volgens navorsing wat ek gedoen het, maak voerkrale 30% van die tyd verliese en gevolglik het ek besluit om elke moontlike strategie te gebruik om inkomste te verhoog en kostes te beperk.

Maatreëls wat ingestel is, sluit in: Die aankoop van gesonde speenkalwers van goeie gehalte van oorwegend telers wat Sernickbulle gebruik en waarvan groei en voeromsetting bekend is; Die uitfasering van aankope van telers wie se speenkalwers swak presteer en bonormale vrektes het; Die backgrounding van kalwers in drie fases naamlik die aanpassingsfase van vyf dae in 5 ha-kampe, die veldfase van 25 dae in 30-40 ha-kampe, en dan die laaste fase van 14 dae in 5 ha-kampe waar die speenkalf 2% van sy liggaamsgewig se voerkraalrantsoen en hooi kry voordat hy voerkraal toe gaan; Deur te sorg dat die beeste altyd vars voer vreet en gevolglik drie maal per dag gevoer word; Navorsing wat ons gedoen het om die optimum slagtyd van verskillende rasse of tipes te bepaal word gebruik om die finansiële voordeel daarvan te kry; Kalwers wat nie op backgrounding presteer nie, sal ook nie in die voerkraal presteer nie en ongeveer 10% word uitgeskot voordat hulle voerkraal toe gaan.

Dink jy daar is enigsins nog potensiaal in Suid-Afrika se vleisbedryf wat ontgin kan word?

Internasionaal lê Suid-Afrika in die 22ste posisie wat vleisbeesgetalle betref. Wat produksie betref, lê ons elfde. Dit beteken Suid-Afrika het ’n ongelooflik dinamiese vleisbeesbedryf ten spyte daarvan dat 40% van ons beeste in die kommunale gebiede is waar die produksie baie laag is.

Tog glo ek daar is nog baie potensiaal in Suid-Afrika se vleisbeesbedryf. Indien die produksie in die kommunale gebiede verdubbel kan word (wat ek glo moontlik is), beteken dit 300 000 ton meer vleis. Verder gaan voerdoeltreffendheid al hoe belangriker word.

Ongeveer 75% van alle diere wat in Suid-Afrika geslag word, gaan deur voerkrale en ’n 1,5 kg-verbetering in voerdoeltreffendheid kan R3 miljard meer wins vir die bedryf beteken. Ons huidige navorsingsprojekte in die voerkraal kan ook baie bydra om potensiaal te ontgin.

Sernick se intensiewe navorsing bevoordeel uiteindelik die hele vleisbeesbe- dryf. Wat was tot dusver jul grootste deurbraak?

Waarskynlik die optimum slagtyd van verskillende rasse in die voerkraal. Die Bonsmara moet byvoorbeeld ná 120 dae in die voerkraal geslag word na gelang van die voerprys, terwyl die Simmentaler op 180 dae geslag moet word. Tans doen ons ’n reeks ander proewe wat almal ekonomiese waarde het, byvoorbeeld: Die invloed van groeibevorderaars op voerkraal-winsgewendheid, karkaswaarde, die gehalte van die vleis en verbruikers se voorkeure.

Evaluasie van verbruikers se voorkeur vir verskillende metodes en tydperke van biefstuk-veroudering. Die uitwerking van dieetolies in die rantsoen op voerkraal-prestasie en die vetsuursamestelling van die vleis. ’n Herhaling van die winsmaksimerende voerperiode vir verskillende beesrasse, in verskillende prysscenario’s en verskillende voerkraal-ingangsgewigte.

Die uitwerking van verskillende backgrounding-tydperke en verskillende ingangsgewigte op die voerkraal se winsgewendheid. Driefasepresisievoeding se formulering en aanbeveling vir intensiewe skaapboerdery met ’n versnelde tussenlamperiode. ’n Premie- en agterskotprogram vir produsente se kalwers.

’n Eie graderingstelsel. Eie naspeurbaarheidstelsel ’n Uiteensetting van die Sernick Jobs Fund-projek en die totale ekonomiese uitwerking daarvan.

Jy het baie gedoen vir die beeld van boere met die ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa. Die adviespaneel het ’n paar kwessies gehad. Is daar nou iets – met die “wysheid” van nabetragting – wat jy anders sou aanpak?

Die tyd op die adviespaneel was vir my ’n uiters traumatiese ervaring. Uit die aard van die saak het dit my wyser gemaak, wat my waarskynlik vandag anders sal laat optree. Die chaotiese proses wat gevolg is, het my enorm gefrustreer. Die potensiaal was daar om by die einde te kon uitkom as ’n span met verskille, maar die manier hoe die paneel bestuur is, het die skip laat sink.

Verder was die totale wanbegrip oor die realiteite van landbou uiters frustrerend. Tog was die eindproduk, naamlik die paneel se verslag en die aanvullende verslag van my en Dan (Kriek, voormalige voorsitter van Agri SA), die beste waarop ons kon hoop. Die president het by drie geleenthede in die openbaar gesê dat my en Dan se verslag oorweeg gaan word, want daar is goeie voorstelle in.

Jul program vir opkomende boere behaal groot sukses. Sou jy dit as ’n bloudruk wou voorstel vir ander vertakkings?

Dit word beskou as een van die Jobs Fund se vlagskipprojekte waarop ek baie trots is. In my brief aan pres. Ramaphosa het ek gesê grondhervorming is elementêr, en dit is so omdat ons projek die regte elemente aanpak.

Ons kies die mense met potensiaal en passie, hulle het toegang tot grond, ons lei hulle op, ons help hulle met beeste en infrastruktuur, ons mentor hulle aanhoudend, en ons monitor hulle. Die belangrikste is dat dit volhoubaar is en werk skep. Ja, dit kan dus as bloudruk dien.

Watter ontwikkelingsprogram of -stelsel gebruik jy om jou eie personeel op te lei en te bemagtig?

Ons het ’n kultuur van opleiding en dit is ’n voortdurende proses. Opleiding is die eerste stap tot bemagtiging. Die moeilikste is om middelvlakbestuurders te laat besef dat hulle hul mense die geleentheid moet gee om verantwoordelikheid te aanvaar en foute te maak. Leierskap speel hier ’n deurslaggewende rol. Ek glo in die gesegde: “Kultuur eet strategie vir brekfis.” Daarom begin ons in Januarie met ’n vier maande lange leierskapkursus soortgelyk aan die Graanakademie vir 20 van ons bestuurders. Ek gaan dit ook bywoon.

Die platteland verarm ál meer. Wat kan boere doen om uit te reik na die gemeenskap en hierdie agteruitgang te stuit?

Hierdie is ’n groot bekommernis. In my plaaslike gemeenskap sit ons met werkloosheid van 70% plus. ’n Groot persentasie van boere probeer iets doen, maar kry min erkenning en baie weet nie wat om te doen nie. Die ander bekommernis is die verval van die platteland as gevolg van ’n disfunksionele regering. Die grondpaneel se verslag praat van plaaslike owerhede wat grondhervorming moet laat gebeur. Dit is lagwekkend naïef.

Serfontein se Bonsmarastoetery het in 2019 uitsonderlik presteer met verskeie toekennings en ’n nuwe gemiddelde rekordprys van R105 000 vir 58 bulle op die jaarlikse veiling.
Mnr. Nick Serfontein, stigter van die Sernick-groep (middel), is Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar vir 2019. By hom staan mnr. Albert Coetzee van Rovic Leers en me. Liza Bohlmann, nasionale voorsitter van Landbouskrywers SA.

Dit gaan jare kos om plaaslike owerhede te laat werk. Ons kan die agteruitgang keer en betrokke raak en help met suksesvolle grondhervorming, maar dan moet ons besluite neem want daar is keuses soos: Ons kan sê Suid-Afrika is flenters; ek trek. Vir sulke mense het ek respek, want hulle neem ’n besluit en gaan aan.

Ons kan sê Suid-Afrika is flenters, maar ek gaan op die draad sit en kyk wat gebeur. Vir sulke mense het ek geen respek nie. Ons kan sê Suid-Afrika is flenters, maar ek wil deel van die oplossing wees. Vir sulke mense het ek enorme respek.

Wat beskou jy as die sterk punte of mededingende voordele van Suid-Afrikaanse landbou? Watter eienskappe dra ons deur moeilike tye?

Suid-Afrikaanse landbou het die heel beste boere in die ganse wêreld en hierdie feit word openlik erken in ander lande. Afgesien van reën, het ons hoop nodig in moeilike tye, want soos Brand Pretorius sê: “Hoop sien die onsigbare, hoor die onhoorbare en bereik die onmoontlike.”

Wat beskou jy as Suid-Afrikaanse boere se grootste probleme en hoe kan dit aangepak word?

Die landbou in Suid-Afrika is tans op ’n slegte plek. Vertroue is laag — hoofsaaklik as gevolg van die droogte, die politieke onsekerheid, beleidsonsekerheid, dreigemente oor onteiening sonder vergoeding, en dan ’n disfunksionele regering. Daar is heelwat kwessies, maar die grootste is waarskynlik om volhoubaar te kan boer.

Baie boerderye is nie volhoubaar nie omdat daar nie aanpassings gemaak word nie. Afgesien van boerdery-strategieë wat verander moet word, moet ons besef dat die landbou in Suid-Afrika kan net volhoubaar wees indien ons suksesvolle grondhervorming kan laat gebeur.

Die vraag is hoe en wie? Vir 25 jaar het die regering misluk en niks gaan binnekort verander nie, want die begrip van die landbou bestaan nie binne regeringskringe nie. Slegs ons kommersieële boere kan dit laat gebeur met die ondersteuning van alle sektore, insluitende die regering. Maar dan moet ons betrokke raak.

Hoe gaan kommersiële boerdery in Suid-Afrika oor 20 jaar van nou lyk?

In 1994 het ek die haat en woede beleef toe die AWB Bophuthatswana binnegeval het. Sedert verlede jaar tot nou, 25 jaar later, het ons weer ervaar hoe ’n land oorkook van haat en woede, van rassisme en radikalisme. Min het dus verander. Die landbou kan ’n groot rol speel in eenheid, nasiebou en wanneer ons grondhervorming regkry, kan dit dieselfde impak hê as om elke jaar die Wêreldbeker te wen.

Ek glo dat die beplande South African Agricultural Development Agency (die eenstopwinkel waarvan ek gepraat het in my brief aan Ramaphosa) met die ondersteuning van die private sektor, boere, landboubesighede, kommoditeitsorganisasies, kommersiële banke en regering die landbou-omgewing kan transformeer.

Ek het geen twyfel oor ’n blink toekoms in die landbou nie. Daar is tans gunstige veranderings op die politieke verhoog, asook erkenning van die belangrike rol van landbou. Ek voorsien ook dat groot kommersiële boere steeds minder gaan word, maar dat ons baie kleinboere gaan sien wat met die hulp van subsidies wel ’n bydrae gaan lewer.

Het jy ’n persoonlike leuse of motivering wat jou aanmoedig?

Eintlik het ek twee leuses: As jy dit kan droom, kan jy dit kry, en die ander is: Die ware betekenis van die lewe is om ’n boom te plant waaronder jy nie noodwendig gaan sit nie.