Die OBK het Afpo, 'n konsortium vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB), in 2015 gefinansier om 'n beherende belang in Afgri se pluimvee-afdeling te koop. Afpo het 'n belang van 54% gekry, werknemers en bestuur 10% en die OBK 36% namens kliënte – 12% elk namens onderskeidelik die Staatsdienspensioenfonds (GEPF), die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) en die Vergoedingsfonds.

Die onderneming, met bedrywighede in Bela-Bela, Limpopo, en Delmas, Mpumalanga, het daarna as Daybreak Farms handel gedryf het.

Mnr. Deon Botha, hoof van korporatiewe sake by die OBK, sê Daybreak het onder sy vorige bestuur onderpresteer en nie finansiële ooreenkomste met die OBK nagekom nie.

Om die waarde van sy kliënte se belegging te beskerm, het die OBK nou beheer oor Daybreak Farms gekry en ook die bestuur verander.

Die transaksie vir beheer, wat onlangs voorwaardelik deur die Mededingingstribunaal goedgekeur is, is 'n gevolg van die OBK wat sy ooreengekome sekerheid uitgeoefen het. Dit het die oorname van SEB-aandele ingesluit.

Botha sê die OBK se omkeerstrategie word gevolg en het reeds vrugte afgewerp.

“Die huidige bestuur van Daybreak sal die onderneming bly bestuur en ons is tevrede met die werk wat hy doen om sy sake om te keer.”

Werkverliese weens die OBK-oorname word nie voorsien nie.


Rooskleurige toekoms

Botha sê as 'n langtermynbelegger is die OBK optimisties oor die pluimveebedryf se toekoms – Suid-Afrikaners eet jaarliks meer hoendervleis as alle ander soorte vleisprodukte tesame.

Die huidige moeilike toestande in die bedryf het egter talle kleiner pluimvee-ondernemings hul deure laat sluit. “Ons meen daar gaan konsolidasie wees, wat tot beter pryse en doeltreffendheid danksy skaalekonomie sal lei.”

Dié gunstige verwagtinge kan egter tot niet gemaak word as invoer uit Brasilië, die Europese Unie en Amerika styg.

Botha het verwys na die taakspan wat die Departement van Handel en Nywerheid aangestel het om aandag aan die bedryf se probleme te gee. Die taakspan het volgens hom 'n stel verlangde opdragte na verskeie ministers gestuur. Die OBK meen as dié maatreëls ingestel word, kan dit beter prestasie in die bedryf teweegbring.

Botha het ook verwys na die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se pogings om die bedryf te help om nuwe markte buite Suid-Afrika te ontgin.

Mnr. Kholofelo Maponya, leier van Afpo en tot middel verlede jaar uitvoerende hoof van Daybreak, het by navraag gesê hy wil nie nou kommentaar lewer nie, buiten om te sê hy probeer om meer duidelikheid oor die gebeure te kry. Hy win ook regsadvies in.