Die boek, Soil preparation for sustainable wine and table grape vineyards, deur proff. Johan van Zyl en Eduard Hoffman van die department grondkunde in die fakulteit landbouwetenskappe van Universiteit Stellenbosch is daarop gemik om te wys dat grondvoorbereiding vir langtermyngewasse meer as net diepbewerking behels.

Die boek bespreek ook ander metodes om grond te verander, soos op-erd, dreinering, terasse op skuins grond, die herwinning van brakgrond en plantgate.

By die bekendstelling op die Kronenburg-landgoed buite die Paarl het Van Zyl en Hoffman gesê hulle het probeer om die boek prakties te maak deur dit met foto’s toe te lig en te toon hoe hul aanbevelings deur navorsing gerugsteun word.

Aangesien grondvoorbereiding deesdae nie meer met hande-arbeid gedoen word nie, sluit die boek ook ’n hoofstuk in oor die keuse van werktuie. Die boek gee waardevolle inligting oor grondverbeteringsmiddele wat dikwels nodig is om grond voor te berei, soos kalk, organiese materiaal, fosfaat en gips.

’n Klem op goeie wortelontwikkeling en -verspreiding loop soos ’n rooi draad deur die boek, want dis immers ’n vereiste vir produktiewe en volhoubare wingerdprestasie.

Die boek word met finansi?le en ander ondersteuning van Villa Academy, Winetech en die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryfsorganisasie (Sati) uitgegee.

Dit vorm deel van Winetech se program om kennis oor te dra.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.