Die stigting van die Vrystaatse jongooiklub is ’n uitvloeisel van die groeplede se hartstogtelike liefde vir skape, sê die twee stigters- lede, mnre. Theron Swanepoel en Eduard Prinsloo, onderskeidelik van die plase Mooihoek en Heuningkrans in die distrik Smithfield.

“Die Vrystaatse jongooiklub streef daarna om as groep uit te brei, byvoorbeeld deur die stigting van ’n kopersgroep, gesamentlike veilings en ondersoek van verskillende boerderyaspekte waarby ons as boere baat kan vind,” sê Prinsloo.

Die tien lede van die klub, asook ’n genooide teler, het einde verlede jaar hul eerste veldtoets vir tweetandooie van verskillende wolrasse suksesvol afgesluit. Elke boer het ses tweetandooie gekies vir die toets waartydens groei, wolwaarde en reproduksie gemeet is. Die diere is ook op ’n buitelugskou teen mekaar gemeet.

Die eerste inname van altesaam 66 Merino’s, Afrino’s, Dohne-Merino’s en Konsortium-Merino’s is sedert 12 Februarie 2020 in dieselfde veldtoestande op die plaas Endwell van Swanepoel en sy broer, Thian, langs hul familieplaas aangehou. Ná ’n kort aanpassing is die groep geskeer en gepaar. Met die afsluiting van die proef vroeg in Desember is die ooie se bouvorm en wol subjektief beoordeel voordat hulle weer geskeer is.

Die telers wat die groep van vyf ooie met die hoogste opbrengs (R8 268,73) ingeskryf het, was mnre. Theroux en Faan Kemp van die plaas Ruben in die distrik Smithfield. Van links is mnre. Faan Kemp, Theron Swanepoel, Theroux Kemp met sy seun, Janroux, Eduard Prinsloo en Dirco Bezuidenhout (sameroeper). Swanepoel en Prinsloo is die stigterslede van die klub.

Die ooie is in natuurlike toestande aangehou en ook natuurlik gepaar met twee spog-poenaramme van die genooide telers, die broers mnre. Kleintjie en Willem Retief van Retief-Geelbek. Hulle is onderskeidelik van die plase Gordonsfontein by Hanover en De Bad by De Aar. Die ooie het drie weke voor paring prikkelvoeding gekry.

Die Swanepoels het in hul rol as gasheer vir die eerste veldtoets hul Mooihoek-stoetery se beginsels toegepas: Noukeurige bestuur en goeie voeding. Die ooie moes ook in die veld lam om te bewys dat hulle hul lammers kan grootmaak.

Vanjaar se projek vind by Prinsloo plaas, waar die ooie ook in die veld lam, maar daarna op aangeplante winterweiding sal loop. Vanjaar het elke lid en die genooide teler tien ooie elk ingeskryf, dus altesaam 110 ooie. Die inname was op 17 Januarie en die toets sal waarskynlik weer in Desember ten einde loop.

’n Komitee besluit jaarliks op ’n jong, vooraanstaande, genooide teler. Die keuse het vanjaar op mnr. Reinhardt Kock van Preiss en Kock-Merino, Hanover, geval. Hy blink gereeld op veldskoue met sy diere uit.

Die ooie se vagte word geweeg. Van links is mnre. Theron Swanepoel, Kleintjie Retief (agter die vag), Jan Marais (OVK), Eduard Prinsloo en Theroux Kemp.

LEER BY MEKAAR

“Die groep bestaan uit ’n klomp jong, dinamiese ouens,” sê Swanepoel. “Dit, asook die feit dat daar geen riglyne gekoppel word aan die bestuurstyl wat jaarliks by die jong ooie toegepas word nie, maak die groep uniek. Elke gasheer kan dus vrylik sy bestuur toepas net soos in sy eie boerdery.”

Volgens Prinsloo is van die lesse hoe jou eie tipe skaap met die gasheer se bestuurstyl sal presteer en hoe ’n ander tipe ooi op jou plaas sal vorder.

Die klublede slaag daarin om in ’n gees van sosiale samesyn en samewerking die ekonomiese waarde van wolskape te vergelyk. Die rasse, soos Merino, Dohne-Merino en Afrino, word nie met mekaar vergelyk nie, maar die aspekte van wolproduksie en lamreproduksie word vergelyk sodat die lede ingeligte besluite kan neem oor watter ras die beste by hul omstandighede aanpas.

Wanneer die proef afgesluit word, is daar verskeie kategorieë waarin die lede ’n prys van die onderskeie borge kan wen sodat almal ’n gelyke kans het.

Prinsloo en Swanepoel is soos baie ander van die lede die vierde geslag wolboere op die plaas. In Prinsloo se geval is hul stoetery al in 1927 geregistreer met die eerste voorsaat, David, wat dit begin uitbou het. Die Swanepoels se skaapgeskiedenis het sowat 120 jaar gelede begin.

Mnr. Piet Venter beoordeel ’n vag om die geldwaarde daarvan te bepaal.

Die twee jong manne sê hul dryfveer vir die stigting van die klub was mnr. Dirco Bezuidenhout van BKB op Dewetsdorp. Toe hy op Dewetsdorp begin werk het, het hy besef dat die provinsie oor geen sodanige klub, waarvan daar verskeie in die Noord-Kaap is, beskik nie.

“Die klublede is baie geesdriftig. Die voordeligste aspek is die genetiese materiaal van die ramme van die genooide teler wat jaarliks in die proef gebruik word.

“Die uitgangspunt is om ’n balans te kry tussen die hoeveelheid wol en die aantal lammers wat jou ooie lewer. Die woltjek is ’n lekkerte, maar die koöperasierekening word betaal deur die aantal lammers wat jaarliks van die plaas af bemark word.”

Mnr. Piet Venter van BKB op Colesberg sê die ooie se wol het oor ’n tydperk van nege maande ’n besonderse lengte opgelewer en die gehalte daarvan was goed, ten spyte van die variasie in die skeersel. Hy het die wol geklassifiseer in verskillende handelstipes, kleur en die waarde wat dit op die dag van afsluiting sou behaal.

Lede van die Vrystaatse jongooiklub en borge bekyk die groepe ooie. Van links is mnre. Francois Venter, Jan Joubert (BKB), Eduard Prinsloo, Albertus Swanepoel, Pieter Brink, Pieter Kemp (borg), Jan Marais (CMW), Francois Swanepoel, Arno le Roux en PG le Roux.

Mnr. Diederik van Pletzen van die plaas Kranskop, Jamestown, het gehelp met die subjektiewe beoordeling van die ooie se bouvorm en wol. Vir hom is die suksesvolle oordra van kennis van die voorgeslagte afhanklik van die jonger geslag se geesdrif en bereidwilligheid om te leer.

“Die mentorskap kan net slaag as die pa-en-seun-verhouding goed is. Indien die jonger geslag belang stel, kan die ouer manne ook by hulle leer. Die jonger mense is dikwels meer blootgestel aan die hedendaagse tegnologievordering in die veebedryf. Wat my betref, is goeie verhoudings die sleutel.”

Van Pletzen was besonder beïndruk met die feit dat die verskillende wolrasse saam in een proef beoordeel is.

Mnr. Adam Swanepoel, pa van Theron en Thian, stem saam dat die energie en dryfkrag van sy seuns hul stoetery die afgelope tyd ’n groot hupstoot gegee het. “Jy word in die wolbedryf gebore,” sê hy. “Ons het letterlik in hierdie wolskuur grootgeword. Vandat die seuns met hul geleerde energie teruggekeer het plaas toe, het ons boerdery meer as verdubbel.”

Aspekte wat hy by sy seuns geleer het, is die benutting van syfers, beplanning en navorsing.

Ná die eerste ooiproef het van die lede reeds teelmateriaal begin uitruil. Die klub se planne vorder goed om die nut van die bedingingsmag van gesamentlike aankope tot almal se voordeel te gebruik.

Navrae: Mnr. Dirco Bezuidenhout, e-pos: dirco.bezuidenhout@bkb.co.za; 082 448 6390.

EERSTE GROEP WENNERS

BUITELUGSKOU

  • Fynwol-groep. Kampioen, mnre. Albertus en Jacobus Swanepoel; naaswenner, mnr. Eduard Prinsloo; derde, mnr. Olof en me. Sarique Wilken.
  • Mediumwol-groep. Kampioen en naaswenner, mnre. Theron en Thian Swanepoel; derde, mnre. Kleintjie en Willem Retief.
  • Sterkwol-groep. Kampioen, mnr. Eduard Prinsloo; naaswenner en derde plek, mnre. PG en Arno le Roux.
  • Beste groep van ses ooie. Kampioen, mnr. Eduard Prinsloo; naaswenner, mnre. Albertus en Jacobus Swanepoel; derde, mnre. Theron en Thian Swanepoel.
  • Algeheel beste ooi van die buiteskou. Kampioen, mnr. Eduard Prinsloo; naaswenner, mnre. Theron en Thian Swanepoel; derde, mnre. Albertus en Jacobus Swanepoel.

BINNESKOU

  • Swaarste vag. Kampioen en derde plek, mnr. Eduard Prinsloo (4,763 kg en 4,57 kg); naaswenner, mnr. Zak van Zyl (4,614 kg).
  • Ooi met beste wolopbrengs. Kampioen en derde plek, mnr. Eduard Prinsloo (R566,73 en R504,20); naaswenner, mnre. Albertus en Jacobus Swanepoel (R525,39).
  • Groep van vyf ooie met hoogste wolopbrengs. Kampioen, mnr. Eduard Prinsloo (R2 091,20); naaswenner, mnre. Kleintjie en Willem Retief (R2 012,80); derde, mnre. Theron en Thian Swanepoel (R1 903,40).
  • Swaarste lam gespeen. Kampioen, mnr. Pieter Brink (41 kg); naaswenner, mnre. Albertus en Jacobus Swanepoel (38,2 kg); derde, mnre. Theron en Thian Swanepoel (37,8 kg).
  • Swaarste meerlinggroep gespeen. Kampioen, mnr. Olof en me. Sarique Wilken (61 kg); naaswenner, mnr. Francois Swanepoel (53,60 kg); derde, mnr. Eduard Prinsloo (51,53 kg).
  • Groep van vyf ooie met hoogste laminkomste. Kampioen, mnr. Olof en me. Sarique Wilken (R7 250,40); naaswenner, mnr. Pieter Brink (R6 733,60); derde, mnr. Francois Swanepoel (R6 650).
  • Beste gemete ooi met hoogste opbrengs. Kampioen, mnr. Olof en me. Sarique Wilken (R2 615,03); naaswenner, mnr. Eduard Prinsloo (R2 402,20); derde, mnr. Francois Swanepoel (R2 311,91).
  • Speengewig teenoor ooigewig. Kampioen, mnr. Olof en me. Sarique Wilken (91,7%); naaswenner, mnr. Eduard Prinsloo (85,9%); derde, mnre. Theroux en Faan Kemp (80%).
  • Groep van vyf ooie met die hoogste opbrengs. Kampioen, mnre. Theroux en Faan Kemp (R8 268,73); naaswenner, mnr. Pieter Brink (R8 205,73); derde, mnr. Francois Swanepoel (R7 753,17); vierde, mnr. Rudi van Zyl (R6 788,65); vyfde, mnre. Theron en Thian Swanepoel (R6 683,80); sesde, mnre. Albertus en Jacobus Swanepoel (R6 651,02); sewende, mnre. PG en Arno le Roux (R6 530,16); agtste, mnr. Zak van Zyl (R6 468,86); negende, mnr. Olof en me. Sarique Wilken (R5 472,37); tiende, mnr. Eduard Prinsloo (R5 344,00). Hulle is die tien lede van die klub.