Mnr. Johan Stumpf gaan die leisels as besturende direkteur van BKB oorneem by mnr. Wolf Edmayr wat op 31 Desember uittree, luidens ’n aankondiging deur BKB.

Stumpf is tans ’n lid van die uitvoerende bestuur van Mpact, ’n maatskappy wat op die JSE genoteer is. Hy het met BKB ooreengekom dat hy op 1 Februarie 2020 in sy nuwe pos begin werk.

Johan Stumpf, BKB
Mnr. Johan Stumpf. Foto: Verskaf

Mnr. Chris Louw, voorsitter van die BKB-direksie, sê hulle dadelik begin om ’n plaasvervanger vir Edmayr te werf nadat hy vroeër vanjaar sy uittrede aangekondig het. Hy sê ’n deeglike en deursigtige proses is gevolg met interne en eksterne kandidate.

Stumpf is verantwoordelik vir die papierverpakkingsbesigheid by Mpact. Hy was voorheen die besturende direkteur van die Klein-Karoo-groep, en het ook dié pos by die Sondagsriviersitrusmaatskappy beklee. Hy het ook verskeie bedryfsbestuursposte beklee, onder meer by die voormalige Suid-Afrikaanse Brouerye.

Edmayr is vroëer vanjaar verkies tot president van die Internasionale Woltekstielorganisasie. Hy is die eerste Suid-Afrikaner wat dié rol beklee.

Wolf Edmayr, BKB
Mnr. Wolf Edmayr. Foto: BKB


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.