Die Landbounavorsingsraad se afdeling vir plantbeskerming gebruik bekostigbare diagnostiese toetsstelle van Viridi Elisa, waarmee hy produsente wil bemagtig om verliese wat deur plantvirusse veroorsaak word, te verminder.

Net soos mense deur virusse platgetrek word, of dit ’n ligte verkoue of ’n dodelike griep is, word plante ook geraak deur ’n verskeidenheid virusse wat die opbrengs van gewasse tot 100% kan verminder. Na raming kan plantvirusse wêreldwyd ’n verlies van tot $60 miljard (sowat R855 miljard) in die landbousektor veroorsaak.

Soos in die geval van enige ander virus, kan sulke plantvirusse nie met antibiotika behandel word nie. Plantvirusse word deur verskeie vektore oorgedra, waaronder swamme, nematodes en insekte. Hiervan is insekte die belangrikste draers. Virusse kan ook deur besmette plantmateriaal en saad, werktuie en die enting van besmette materiaal op gesonde bronne oorgedra word.

Simptome van virusse sluit in vergeling van blare wat as ’n mosaïekpatroon op blare voorkom. Die vergeling kan tot die are van die besmette plant beperk wees. Nekrose van plantweefsel is ook kenmerkend van ’n plantvirusbesmetting, dus kan ’n virusbesmetting maklik met chemiese skade of ’n voedingstekort verwar word.

Die inherente gevaar van plantvirusse is dat ’n enkele virus meer as een gewas kan aanval. ’n Voorbeeld hiervan is TSWV, wat kromneksiekte in Suid-Afrika veroorsaak. Hierdie virus affekteer meer as 400 plantspesies van 50 verskillende families en word deur blaaspootjies oorgedra.

Daar is geen kitsoplossing om van virusse ontslae te raak as dit reeds in ’n land gevestig is nie. Die besmette plante moet verwyder en vernietig word, wat tot grootskaalse verliese lei. Die teenwoordigheid van virusse in ’n land kan wel verminder word deur gesertifiseerde virusvrye saailinge en saad te plant. Virusse kan verder bestry word deur insekte te bestry, maar dit kan slegs gedoen word nadat die betrokke virus en vektor geïdentifiseer is.

Virusse kan morfologies met ’n elektronmikroskoop geïdentifiseer word. Dié praktyk word nie meer algemeen toegepas nie, omdat ’n mens nie met elektronmikroskope die oridentiteit van ’n virus kan bepaal nie. Virusse kan ook op grond van hul proteïen-omhulsel en genetiese eienskappe geïdentifiseer word.

Proteïengebaseerde tegnieke, soos Elisa (Enzyme-Linked ImmunoSorbent Assay) en ImmunoStrips word vanweë hul gebruikersvriendelikheid algemeen gebruik. Om die identiteit van ’n virus te bepaal, gegrond op die virus se genetiese eienskappe, vereis opgeleide personeel en ’n goed toegeruste laboratorium.

NAVRAE: Dr. Ronel Roberts, hoofnavorsingstegnikus by LNR-Plantbeskerming, tel. 012 808 8000, e-pos: ViljoenR@arc.agric.za