Die kommissie het die samesmelting van die belange van Visser Pecans, Golden Peanut and Tree Nut SA en GPC Pecans SA onvoorwaardelik goedgekeur.

In ’n verklaring sê die kommissie dat Visser as produsent van grondbone en pekanneute, en Golden Peanut en GPC Pecans as primêre verwerkers daarvan in die aanplantingsgebiede nie tot samespanning sal lei of die mededingendheid van die pekanneut- en grondboonmark sal versteur nie.

Die transaksie van etlike honderduisend miljoene rand, wat die oorname van die belange van Golden Peanut, asook die verkryging van GPC Pecans beteken, volg bykans drie jaar ná die opening van ’n ultramoderne grondboonverwerkingsaanleg op Hartswater wat die grondboonproduksie in die Noord-Kaap, Noordwes en Vrystaat ’n aansienlike hupstoot gegee het.

Golden Peanut and Tree Nuts van Atlanta, Georgia, het sewe jaar gelede sy beduidende belegging in die Suid-Afrikaanse mark begin deur onder meer beter kultivars en werktuie in te voer.

Visser, uitvoerende hoof van die nuwe onderneming, sê die grondboonfiliaal sal van die nuwe seisoen as SA Groundnut sake doen en die pekanneutfiliaal as SA Pecans.

“Die aanvanklike reëling met my Amerikaanse vennote was om ons samewerking elke vyf jaar te weer te onderhandel,” sê hy. “Ek het my voorneme om die belange oor te neem reeds in Oktober 2019 aangedui. Die Amerikaners het toe reeds die meeste voordeel van hul belegging benut.”

’n Langtermyn-saadkontrak is deel van die transaksie waarvolgens die nuutste kultivars aan plaaslike produsente beskikbaar gestel sal word.

Volgens Visser bring die samesmelting ’n kleiner maatskappystruktuur mee wat die oorhoofse bedryfskoste drasties sal verlaag.

Een van die voordele van die Amerikaanse belegging was die vestiging van hoë tegnologie teen lae bedryfskoste op Hartswater wat die afgelope vier jaar aan die hoogste internasionale voedselveiligheidsgradering voldoen het.

Bykans 40% van land se grondboonproduksie van 30 000 ton tot 35 000 ton per jaar word in dié aanleg verwerk word. Die aanleg het ’n gebruiksduur van 20 tot 35 jaar.

Visser is optimisties dat die plaaslike grondboonoes oor die volgende paar jaar tot meer as 100 000 ton kan toeneem.