Laat ek begin deur die situasie in Suid-Soedan te skets, want dit sal Tobie Stear se landbouplanne en -waagmoed in perspektief stel: Suid-Soedan, in Oos-Afrika, is die wêreld se jongste staat nadat dit in 2011 van Soedan onafhanklik geword het. Ná jare van burgeroorlog (en gevegte wat steeds sporadies voorkom) is dit een van die mees onderontwikkelde lande ter wêreld.

Dié land sukkel met ’n vlugtelingprobleem en sowat ’n derde van die Suid-Soedanse bevolking word as vlugtelinge geklassifiseer. (Net Sirë en Afganistan het al ’n groter aantal vlugtelinge aan hul buurlande afgestaan.) Drie hulpverleningsorganisasies van die Verenigde Nasies het gewaarsku dat nagenoeg 7 miljoen mense in die land nie genoeg kos het om te eet nie.

Die dekade lange burgeroorlog het ook die landbousektor feitlik tot stilstand gebring. Omdat al Suid-Soedan se voedselvoorrade ingevoer moet word, is kos baie duur. ’n Onderwyser in die stad wat ’n hoender vir aandete wil koop, sal twee jaar moet spaar om dit te kan bekostig. Baie mense eet net een keer per dag.

Tog het die land die potensiaal om een van Afrika se landboureuse te word, en die inwoners kyk nou net vorentoe. Na raming is sowat 75% van Suid-Soedan se grondgebied geskik vir boerdery, met goeie waterbronne, reënval en vrugbare grond. Volgens die Wêreldbank word slegs 1% of 2% van die poten- siële landbougrond van sowat 650 000 ha tot 1,3 miljoen ha benut. Die landbou word tans hoofsaaklik deur bestaansboere bedryf. Hulle plant veral mielies, sorghum en giers (millet).

In Suid-Soedan moet ’n bakkie sy staal kan wys.

Kommersiële landbou ontbreek

Tobie werk vir die Israeliese maatskappy Global Group International, wat die hoofdoel het om kos te produseer vir ’n land waar daar geen kommersiële boere is nie en waar hongersnood groot is. Dit is vir die maatskappy ook belangrik om die plaaslike inwoners te leer hoe om reg en slim te boer. Global Group International het vier kommersiële plase, waarvan Tobie drie bestuur.

Die plaas Newlands is 51 ha groot en is net buite Juba. Hier word met piesangs (10 ha) en groente geboer. Van die groente is 16 ha onder drupbesproeiing en 25 ha word besproei deur spilpunte, wat onlangs in werking gestel is. Tobie woon op die plaas Jebe Ladu, wat 275 ha groot is en waar mielies, rys, sorghum en uie verbou word. Die gewasse word ook met drupbesproeiing en spilpunte natgelei. Die uie word op 62,5 ha aangeplant, met die doel om die meeste daarvan na hul suidelike buurland, Uganda, uit te voer.

Die derde plaas heet Bor, en hier bestuur Tobie 16 ha onder drupbesproeiing. Die vierde plaas, Torit, beslaan 6,6 ha onder oorhoofse besproeiing en 100 ha droëland. Op albei dié plase konsentreer hy op graangewasse. “Ons oes tans uie en probeer ook ander produkte op groot skaal vestig. Daar is geen geskiedenis of landbouprotokol vir enige gewas nie, en alles word met toetse en eksperimente herhaal en aangepas. Ons saad, werktuie en boerderymetodes pas ons maar aan soos nodig,” vertel Tobie.

Dit reën onophoudelik van Julie tot November, wanneer dit pal nat – baie nat – is. Die wintermaande is weer vreeslik droog en verskriklik warm. Dan waai ’n sterk en warm wind en alles wat nie natgelei word nie, skroei weg. Dagtemperature in die winter is maklik diep in die 40 °C en ’n mens moet baie water drink om aan die lewe te bly. Benewens die klimaat is logistiek, die taal en die kultuur vreemd en problematies. Boonop moet alle produksiemiddels van Suid-Afrika, Kenia of Israel af ingevoer word.

’n Trekker wat in “?’n bietjie modder” vasgeval het.
Tobie saam met sy mak skoenbekooievaar.

‘Wil jou ma bel om jou te KOM red’

Tobie beskryf Suid-Soedan as ’n baie mooi land, met pragtige natuurskoon en baie voëls en diere. “Hier is ongelooflike mooi plekke, maar soos enige ander Afrikaland, is plastiek, papier en menslike afval ’n vernietigende faktor. Ongelukkig het huishoudings hier geen riool, lopende water, elektrisiteit of vullisverwydering nie.

“Daar is geen nasionale netwerke vir krag of enige ander huishoudelike stelsels soos ons dit ken nie. Dit is seker die mins ontwikkelde land in Afrika en as jy met die vliegtuig Juba nader, dink jy dis die einde van die aarde. En as jy land, dan wéét jy dit is die einde van die aarde. “Nadat jy deur die mediese ondersoekpunte en doeane beweeg het, wil jy jou ma bel om jou te kom red,” vertel Tobie.

Hy sê daar is ook geen noemenswaardige winkels nie. “In die groot stede, soos Juba, is daar winkels, maar as jy na Woolworths soek, gaan jy dit nie kry nie. Jy vat maar wat vars en skoon lyk. Ek spot altyd en sê as daar ’n vlieg op die kos sit, is dit nog vars, want ’n brommer sit net op vrot kos. Weens die voedseltekorte word alles van Kenia, Uganda en natuurlik China af ingevoer. Omdat dit deur Kenia kom, kry ons soms Suid-Afrikaanse produkte – veral vrugte soos appels en lemoene.”

Suid-Afrikaners in DIE VREEMDE

Volgens Tobie is daar tans sowat vyftig Suid-Afrikaners by die Suid-Soedanse landboubedryf betrokke. “Ons is ’n klein groepie wat elke Vrydag by die Tulip Inn braai en ’n biertjie drink. Saterdae kom ons bymekaar vir rugby.”

Hy het veral lof vir die Suid-Afrikaanse ambassadeur, mnr. Gordon Yekelo, wat hy as ’n inspirerende man beskryf wat baie goeie ondersteuning bied. Die plaaslike mense is baie vriendelik. “Met wedersydse respek kan baie reggekry word. “Die mense hier beskou Suid-Afrika as Afrika se goudpot en dink ons is die beste. Saans is die land stil en almal is bang om te beweeg. Ná soveel jare van burgeroorlog hoop en bid almal vir vrede.”

Meer as duisend Suid-Afrikaners is tans by die landbou in 22 Afrikalande betrokke, volgens syfers van Agri SA. 

Jurie van der Walt, ’n oud-joernalis wat ’n heuningbosteeprojek in die Langkloof bedryf, het met ’n paar van hierdie boere gesels.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.