Die gesprek oor die belangrikheid van onkruidsaadbestuur as strategie vir suksesvolle onkruidbekamping het in ’n vorige rubriek (“Saadbeheer sleutel tot onkruidbekamping”, LBW, 10 Mei 2019) begin. Daarin is die eienskappe en belangrikheid van onkruidsaad beklemtoon. Die uitgangspunt van die rubriek was dat onkruidbekamping weens die aard van onkruidsaad nie seisoensgebonde is nie, maar ’n langtermynproses wat die langlewendheid van onkruidsaad in ag moet neem.

Onkruidsaadproduksie kan basies op twee maniere ingekort word. Eerstens word plante lank voor die blomstadium doodgemaak, en tweedens word saad vernietig nadat dit gevorm het en voordat dit gestort word. Eersgenoemde is die doelwit van enige onkruidbestuurprogram, en al word die doodmaak van plante merendeels voorop gestel, is voorkoming van saadproduksie die ekstra, toevallige voordeel.

Die tweede opsie, die vernietiging van saad, is iets waarop al dertig jaar klem gelê word in Australië. Groot sukses met langtermynonkruidbestuur word daarmee aangemeld. Waarom is die bestuur van die onkruidsaadbank dan so belangrik?

Die saadbank van grond is die reserwe of bron van toekomstige onkruidplante. Dit bestaan uit vars saad wat op die grondoppervlak gestort is, asook saad wat verspreid in die grondprofiel teenwoordig is. Om praktiese redes word vegetatiewe voortplantingsorgane soos bolle, knolle en risome (ondergrondse stingels) ook hierby ingesluit, aangesien verskeie belangrike onkruidsoorte afhankliker hiervan is vir hul voortplanting as van saad.

Navorsing deur O.C. Burnside et al. (Agronomy Journal 78: 451-454, 1986) het bevind dat die saadbank van breëblaar- en grasonkruid oor ’n vyfjaartydperk tot 5% van hul oorspronklike vlak verlaag het omdat plante vyf jaar agtereenvolgens verhoed is om saad te produseer. In die enkele jaar daarna, die sesde jaar, is onkruid nie bekamp nie en plante is toegelaat om saad te produseer. Die saadbank is in daardie enkele jaar aangevul tot 90% van die oorspronklike vlak.

Voorkoming van onkruidsaadproduksie

Die onkruidsaadbank is die teenoorgestelde van ’n spaarrekening by die bank. “Deposito’s” in die vorm van saad wat nuut bykom, moet minimaal gehou word, terwyl “onttrekkings” maksimaal gemaak moet word. Dit maak dus sin om die draer van saad, die plant, te verhinder om produktief te raak deur saad te produseer. Daarom word in onkruidbestuur daarna gestreef om onkruid in die “kiem te smoor”, wat figuurlik beteken om onkruidsaad se ontkieming te voorkom.

Dit is makliker gesê as gedaan, want die enigste manier om onkruidsaad se ontkieming te voorkom, is om dit in grond te begrawe op dieptes waar toestande ongunstig vir ontkieming is. ’n Skottelskaarploeg het die beste kans om onkruidsaad op dieptes te plaas van waar saailinge moeilik of glad nie die grondoppervlak kan haal nie.

Onkruid met groot sade (groter energie) het die beste kans om van diep af op te kom, terwyl klein sade (minste energie) die beste op of naby die grondoppervlak sal ontkiem. Herhaalde bewerking kan natuurlik weer sade, wat vroeër ingeploeg is, na die oppervlak bring waar dit in die geval van sekere onkruidsoorte selfs ná dekades van begrawing kan ontkiem.

Geenbewerkingstelsels bied vanselfsprekend nie die voordeel van die begrawing van saad nie. In minimumbewerkingspraktyke is daar die neiging vir onkruid met klein sade, wat tipies vlak ontkiem, om mettertyd die onkruidspektrum te oorheers. ’n Voorbeeld van só ’n situasie is die onrusbarende afmetings wat Conyza-spesies (skraalhanssoorte) deesdae in veral geenbewerkingstelsels bereik.

Daar bestaan geen onkruiddoders wat die ontkieming van onkruidsaad voorkom nie. Daar is wel verskeie onkruiddoders wat op onkruid inwerk nadat saad ontkiem het en voordat dit bogronds verskyn. Hierdie manier van werking sluit in die asetanilied-groep van onkruiddoders. Dit is spesialisgrasdoders, met die bekendstes alachlor, acetochlor en metolachlor. Die hoofdoel van sulke vooropkoms-toegediende onkruiddoders is om te voorkom dat onkruid saam met die gewas opkom. Vir die meeste eenjarige gewasse is dit uiters belangrik om so min moontlik onkruid gedurende die eerste drie tot vier weke van ontwikkeling teenwoordig te hê. Dit is in dié stadium dat ’n eenjarige gewas die gevoeligste is vir onkruidkompetisie, veral in gevalle waar ’n strestoestand soos gebrek aan grondvog of voedingselemente intree.

Beste beKAMPING

Dit is goeie praktyk om vroeg, selfs voor die vestiging van die gewas, ’n vermindering van onkruidsaad in die saadbank te bewerkstellig deur die gebruik van voorplanttoegediende onkruiddoders. In daardie stadium (voor die vestiging van die gewas) kan selfs sekere onkruiddoders waarteen die gewas nie bestand is nie, gebruik word, byvoorbeeld glifosaat, 2,4-D of parakwat. Indien tyd en groeitoestande dit toelaat, kan so ’n behandeling op ’n volgende vlaag onkruid herhaal word om sodoende die saadbank verder uit te put.

Ploegaksies ter voorbereiding van die saadbedding bied ’n meganiese beheermetode wat pleks van voorplant-onkruiddoders gebruik kan word, of dit kan met die genoemde onkruiddoders gekombineer word. Onkruid wat aan voorplant- en vooropkomsbekampingsmetodes ontsnap het, sal noodwendig met na-opkoms-toegediende onkruiddoders bestry moet word, veral nadat die gewas te groot geword het vir meganiese skoffelaksies om veilig gedoen te word.

In geenbewerkingstelsels is daar groot en in baie gevalle algehele afhanklikheid van onkruiddoders. Doeltreffende onkruidbekamping word ál moeiliker hoe ouer (en groter) die gewas asook die onkruid word. ’n Gewas met ’n digte blaredak kan spuitdruppels onderskep en sodoende onkruid afskerm, terwyl groter onkruidplante moeiliker beheer word as jong (klein) plante.

Onkruid- en onkruidsaadbeheer word verder gekompliseer deur onkruidsoorte wat die eienskap het dat sade oor die hele groeiseisoen ontkiem. Voorbeelde is Digitaria-spesies (vingergrassoorte), Conyza-spesies (skraalhanssoorte), Ipomoea purpurea (purperwinde) en Commelina benghalensis (wandelende jood). Sulke onkruidsoorte maak dit veral ’n groot probleem om te voorkom dat saad geproduseer word wat die saadbank aanvul en toekomstige ontkieming verseker.

Die vrug van Datura ferox (grootstinkblaar) met sade gereed vir storting. Die eienskap van besonder lang saaddormansie by dié spesie veroorsaak dat sade etlike dekades lank lewenskragtig in die grond kan bly.
Twee werktuie wat suksesvol in Australië vir onkruidbekamping ingespan word. Die Integrated Harrington Seed Destructor (links) word onder die siwwe van die stroper gemonteer en vernietig 93-99% van die onkruidsaad. Die Seed Terminator (regs) werk op die hamermeul- beginsel om onkruidsaad in kaf te vernietig. Die suksessyfer hiervan is glo meer as 90%.

LEER BY AUSTRALIË

Australië is heelwat verder as Suid-Afrika gevorder wat die bestuur van onkruidweerstandigheid teen onkruiddoders betref. Dié land het sowat dertig jaar gelede begin met ’n unieke klem op onkruidbestuur, die beginsel van harvest weed seed control (HWSC). Met dié tegnologie, wat op ’n kombinasie van tegnieke berus, word daar gekonsentreer op onkruidsaadbestuur as belangrike taktiek binne die beste strategie vir suksesvolle onkruidbekamping, en meer spesifiek die voorkoming van weerstand by onkruid teen onkruiddoders.

Navorsing oor HWSC in Australië het bewys dat die toevoeging van vars saad tot die saadbank in ’n bepaalde seisoen beduidend verlaag kan word, en daardeur is saadontkieming in die daaropvolgende seisoen betekenisvol beperk (Walsh et al., 2014, Weed Science 31: 341-347).

Daar is bevind dat ’n kombinasie van die opvang van onkruidsaad met kafkarretjies (chaff carts) agter die stroper, brand van plantmateriaal in windrye, en vernietiging van saad deur fynmaling in die geïntegreerde Harrington-saadvernietiger ’n gemiddelde afname van 60% in die ontkieming van raaigras (Lolium spp.) in die daaropvolgende seisoen bewerkstellig het.

Hierdie sukses was te danke aan die vernietiging van onkruidsaad deur óf brand óf fynmaling tydens die oes van die gewas in die voorafgaande seisoen. Só is 70-80% van raaigrassaadproduksie gekeer om die saadbank aan te vul in die stadium waartydens die gewas geoes is. Die verskillende prosesse wat deel uitmaak van die HWSC-beginsel, is: brand, baal, voer, fynmaal en kompostering van die kafmateriaal wat onkruidsaad bevat.

Vir die vernietiging van onkruidsaad tydens die oesproses is twee werktuie deesdae beskikbaar. Die een is die Integrated Harrington Seed Destructor (iHSD) wat onder die siwwe van die stroper gemonteer word en 93-99% van die onkruidsaad vernietig. Dit plaas óf die materiaal terug op die land, óf dit kan in kaf-karretjies opgevang en vir veevoer of kompos gebruik word. Die ander een is die Seed Terminator, ’n werktuig wat op die hamermeulbeginsel werk om onkruidsaad in kaf te vernietig. Die suksessyfer hiervan is klaarblyklik meer as 90%.

Ek is nie bewus van die toepassing van HWSC-tegnologie in Suid-Afrika nie. Die koste sal sekerlik ’n demper daarop plaas. Weet ons egter wat die prys is wat produsente “betaal” vir onkruid in die gewas en vir onkruidbekamping? Meer nog, wat die prys is wat betaal word met onkruidweerstandigheid teen onkruiddoders? Geen omvattende studie of opname oor die sosiaal-ekonomiese impak van onkruid is tot dusver in Suid-Afrika gedoen nie. 

Dr. Charlie Reinhardt is verbonde aan die Villa Academy en is buitengewone professor in onkruidwetenskap aan die Universiteit van Pretoria en die Universiteit Stellenbosch.

Navrae: dr.charlie.reinhardt@gmail.com; 083 442 3427.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.