Ek het my veld oor die jare onderbenut en “gespaar”, en vandag sit ek met ’n tamboekieprobleem. Die tamboekiegras is besig om my weiveld oor te neem. My buurman, daarenteen, wat omtrent die hele jaar lank vee in die kamp laat loop, het geen probleem nie. Ja, onderbenutting kan net so nadelig wees.

Die Departement van Landbou het destyds op die Athole-proefplaas (oos van Ermelo) ’n proefperseel van 1 ha afgeskort en dit onttrek van beweiding en nooit gebrand nie. Die perseel is in vaste grasveld, en na ongeveer 35 jaar van geen brande of beweiding nie, het die spesiesamestelling totaal verander na onbruikbare kruide en bosse.

Om oor- en onderbenutting van veld te voorkom, moet ’n wetenskaplik gebaseerde veldbestuurstelsel, wat deur ’n veldbestuurspesialis voorgeskryf is, gevolg word. Hy sal ook help met die beplanning van die plaas. Die kampe op die plaas word in drie tot vier blokke ingedeel.

’n Blok met sy kampe moet elke twee tot vier jaar vir die volle groeityd met rus gelaat en glad nie bewei word nie. ’n Kamp mag nooit twee jaar na mekaar op dieselfde tyd bewei word nie.

In suurveldgebiede sal brande deel vorm van die veldbestuurstelsel. Hierdie veldbestuurstelsel het hoër veldproduksie tot gevolg wat die drakrag met 20% tot 30% kan verhoog, en gevolglik moet meer diere aangehou word om dit te benut. Die veldbenutting moet minstens 90% wees om die diere te dwing om minder selektief te wei.

Die veldbestuurstelsel berus op kort weiperiodes en lang rusperiodes. Lang rustye dra tot beter wortelreserwes, groeikragtiger plante en beter spesiesamestelling by. Indien die regte veldbestuurstelsel gevolg word, sal die veld nie oor- of onderbenut word nie. 

Wyle dr. Coetzee was ’n kleinveespesialis.