Die mexikaanse papawer (Argemone mexicana), of geelblombloudissel, groei verwoed in landerye, maar is eintlik ’n waardevolle medisinale plant. Dit het vanaf Mexiko en ander tropiese gebiede in die Amerikas na Afrika oorgewaai. Vandag groei die Mexikaanse papawer in feitlik elke Afrikaland.

Die Indiaanse stamme van Mexiko en Suid-Amerika het eerste die waarde van die papawerplant raakgesien en dit gebruik om die liggaam en bloed te reinig. Die droë én vars plantdele word gebruik om medisyne van te maak. Dit help vir kwale in die niere, lewer, dikderm en die maag, en is waardevol as ’n antiseptiese middel en om wonde te genees. Die plant se klein swart saadjies word as lakseermiddel gebruik.

Volgens navorsing bevat die Mexikaanse papawer alkaloïedes, soortgelyk aan dit wat in opiumpapawers voorkom, vandaar die gewoonte om dit as ’n pynstiller te gebruik.

Porseleinblaar

Dié van ons wat in die tuin werk, weet jy moet gereeld onkruid uittrek. Een van dié onkruide is waarskynlik porseleinblaar (Portulaca oleracea). Min mense weet egter dat dit as ’n ongelooflik lekker groente in die kombuis berei kan word. Porseleinblaar kom van die Kaap tot diep in Afrika voor en word deur duisende mense as groente geëet.

Selfs Louis Leipoldt het oor dié onkruid geskryf en gesê porseleinblaar behoort in elke Suid-Afrikaanse kombuis te wees. Volgens hom moet die klein, sappige blaartjies saam met ’n bietjie fyn gemmer, peper, sout en foelie (mace) in ’n bietjie vet gebraai word. Dan gooi jy ’n bietjie knoffel en ’n glasie wyn ook by. Volgens Leipoldt is die resultaat “ongelooflik delikaat en heerlik”.

Praat van gesonde veldkos: Porseleinblaar se blaartjies en stingeltjies bevat meer omega 3-vetsure as enige ander blaargroentes, waaronder spinasie en kool – selfs meer as visolie. Die onkruid bevat ses keer meer vitamien E as spinasie, en bevat ook minerale soos kalsium, magnesium, kalium en fosfor. Vergeet die groentewinkel op die hoek. Jy het ’n groentewinkel in jou tuin as jy net mooi kyk.

Knopkruid

Dié plant word seker net as onkruid beskou omdat ons dit nie so goed ken nie. Knopkruid (Galinsoga parviflora) is veral gewild as voedsel in Zimbabwe, Malawi, Zambië, Tanzanië en Uganda en word “geoes” as die kleinboere hul landerye skoffel. Die jong blaartjies en stammetjies word gekook en geëet, maar die klein geel blommetjies word gewoonlik weggegooi.

Die onkruid word in verskeie lande as ’n spesery gebruik. Dit is veral gesog in Colombia, waar dit in groot hoeveelhede in ’n hoendergereg met die naam Ajiaco Bogotano gebruik word. Die jong blare, rou of gekook, is ryk aan kalsium. Navorsing toon daar is 284 mg kalsium per 100 g blare – twee keer meer as in pietersielie. Knopkruid is ook ryk aan vitamien A, B en C, magnesium, sink en kalium.

Perdeblom word met reg as die wonderkruid beskou. Foto’s: VERSKAF

Perdeblom

Die perdeblom (Taraxacum officinale) word as ’n wonderkruid beskryf. Heelwat gekookte eiers word gewoonlik in perdeblomslaai gebruik. Die blare kan rou of gaar geëet word en is propvol vitamien A, B, C en D. Dit bevat ook groot hoeveelhede natuurlike kalium, yster en proteïene. Die kruid smaak baie soos mosterdblare. Dit is beter om die jonger blare te gebruik, want dit is nie so bitter nie.

Die perdeblom word beskou as een van die beste medisinale kruie vir die lewer. As waterpil kan dit die liggaam reinig van gifstowwe. Dit is daarom ook uitstekend vir die behandeling van artritis en rumatiek. Die melkerige sap van die blare word gebruik om blase op die hande of voete gesond te maak – en dit raak ontslae van vratjies!

Knopkruid is ryk aan ’n verskeidenheid vitamiene en minerale.

Gansevoet

Gansevoet (Chenopodium album) het sommer ’n klomp name in Afrikaans: muurhondebossie, gansevoet, koringbossie en misbredie. Die Engelse praat van lamb’s quarters, rounded-leaved fat-hen, wheat bush en goosefoot.

Omdat dit ’n plant is wat buitengewoon baie voedingswaarde het, word dit in verskeie Afrika- en Asiese lande as groentegewas verbou. Dit word soos spinasie gekook. Op die Suid-Afrikaanse platteland word die plant in bredies en sop gebruik, terwyl dit in Indië gewild is in kerriegeregte en gevulde platbrode. Die blare kan ook fyngesny en by slaai of ’n gereg gevoeg word vir ’n bietjie groenigheid. Die klein, swart saadjies is propvol voedingswaarde en bevat baie proteïene, vitamien A, kalsium, fosfor en kalium.

Gansevoet is gedurende die Tweede Wêreldoorlog dikwels geëet toe hongersnood Europeërs in die gesig gestaar het. Die jong blomknoppe word in baie gemeenskappe as plaasvervanger vir broccoli gebruik, en die jong stammetjies as aspersies. Die onkruid se eetbare dele bevat meer yster en proteïene as kool of spinasie en meer vitamien B1 en kalsium as rou koolblare. Net 100 g blare bevat 16% vesel, 133% van ’n mens se daaglikse benodigde dosis vitamien C, 232% vitamien A en 31% kalsium.

Die Mexikaanse papawer is onder meer ’n goeie antiseptiese middel.

Smalweëblaar of rippelgras

Hierdie onkruid (Plantago major) word soms “die wit man se voetspoor” genoem, want oral waar die Europese setlaars in Suider-Afrika getrek het, het hulle die grond omgedolwe en het dié onkruid sy opwagting gemaak. Die plantjie het baie name in Afrikaans: klein tongblaar, oorpynhoutjie, oorpynwortel, smalblaar-plantago, weëblaar en smalweëblaar.

Die indringeronkruid kom oorspronklik van Europa, Noord-Afrika en Wes- en Suid-Asië, en groei veral waar die grond versteur word vir landboudoeleindes. Dit kom ook in Australië, Noord-Amerika en Japan voor.

Hoewel die blare en saad eetbaar is, word die plantdele wêreldwyd hoofsaaklik vir medisinale doeleindes gebruik. Die blare bevat tannien, kieselsuur en slymgom. Die plant se medisinale mengsels word dus as antibakteriese middel en uriendrywer gebruik.

Die slymgom, wat in die saad voorkom, swel op in die maag en werk dan soos ’n lakseermiddel of om parasiete dood te maak. Uitwendig word ’n mengsel gebruik om velontstekings, kwaadaardige velkanker, snye en insekbyte te behandel. Dit is egter beslis nie ’n lekker-smaak medisyne nie, want die plant is baie bitter. 

Mieliebaard se superkragte

Ek koop onlangs ’n ou boek vir R35 wat oor medisinale plante handel en lees iets wat ek wraggies nie geweet het nie: Daardie groen baard wat so welig op ’n mieliekop sit, is ’n gesiene bestanddeel in plantmedisyne. Die skrywer, ene Maria Treben van Oostenryk, sê nie veel oor die mieliebaard nie, behalwe dat dit ’n “natuurlike, doeltreffende en vinnige manier is om van oortollige vet ontslae te raak”.

Nou wil ek meer weet en kry op die internet sommer ’n hele paar nuwe gedagtes oor mieliebaard: Die Indiaanse stamme van Amerika en die Chinese gebruik mieliebaard al honderde jare as medisyne teen malaria, urienwegontsteking en prostaat- en hartprobleme. Een navorser noem dat mieliebaard flavonoïede antioksidante bevat en ’n uiters goeie anti-inflammatoriese werking het.

Terug by Maria Treben en haar boek, gee sy die resep vir mieliebaardtee: “Gebruik een opgehoopte teelepel fyngekapte, jong mieliebaard en bedek met kookwater vir 30 sekondes. Dreineer die tee en drink minstens vier koppies per dag. Onthou om dit nie te vinnig te drink nie.” Kan jy nou meer – ’n nuwe boeretroos teen oortollige vet, malaria en ontsteking!

Jurie van der Walt is ’n oud-joernalis wat tans ’n heuningbosteeprojek in die Langkloof bedryf. Hy stel belang in hoe inheemse Afrika-gewasse in kombuise kan herleef.