Die maatskappy ecoRobotix spesialiseer in landboutoerusting wat met min energie werk, en grond- en watergesondheid in stand help hou.

Ecorobotix sê met hierdie nuwe robot kan ’n boer sulke slim onkruidbestryding toepas dat tot 20 keer minder onkruiddoder nodig is.

Boonop is daar geen menslike drywer nodig nie; die robot beweeg outomaties op sy eie tussen die gewasrye, is met ’n sonpaneel en battery toegerus, en kan tot 12 uur per dag só werk. Die herlaai van batterye is dus nie nodig nie. Met ’n gewig van net 130 kg beweeg die robot baie ligter oor ’n land as ’n trekker of spuit, wat verdigting inperk.

Dit is só toegerus dat dit gewasrye volg, en onkruid en hierdie plante se posisie sowel in as tussen die rye identifiseer. Twee robot-arms dien dan ’n mikro-dosis onkruiddoder toe, met presisie van minder as 2 cm. Die robot pas sy spoed aan na gelang van die onkruiddigtheid.

Die gemiddelde spoed in proewe was 0,4 meter per sekonde, en die gemiddelde oppervlak wat per dag gedek word 3 ha. Dit kan vir plantrye van 35 cm tot 70 cm gestel word. Die maatskappy sê die robot is ideaal vir lande met ’n lae onkruiddigtheid.

Die firma beveel aan dat ’n land eers konvensioneel en oorhoofs met onkruiddoder bespuit word, en die robot dan ingespan word om konvensionele opvolgbespuitings te vervang. Dit is met twee 15 liter-tenks vir twee verskillende middels toegerus, en proewe het gewys die robot is meer as 95% doeltreffend in die bestryding van onkruid. ecoRobotics beoog om dit teen volgende jaar op die mark te hê.

• Kyk by https://goo.gl/nTJWWm vir ’n video van hoe die robot werk. • Bron: www.ecorobotics.com

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.