Op dae soos dié sal jy dankbaar wees dat daar nou ’n nuwe weergawe van die ou staatmaker Swanniebraai agter jou bakkie se sitplek is.

Met die ou Swannie wat uit 1959 dateer, was daar niks fout nie, buiten dat die vroeë modelle van gewone sagte- staal gemaak was en sommer gou deurgebrand het. Hierdie Swanniebraai het bestaan uit drie dunnerige plaatringe wat op mekaar gepas het om soos een van die snippermandjies in die plaaskantoor te lyk.

Die nuwe Swanniebraai Bundu is van vlekvrye staal gemaak. Pleks van drie ringe wat oor mekaar pas, vou die kante van die braaier met skarniere oop. Dit kan dus plat opvou en pas saam met ’n toeknyprooster in ’n netjiese seilsak. Vou sommer verlede week se koerant op en steek dit saam met ’n boksie vuurhoutjies in die sak, want die Swanniebraai werk op sy beste met lekker styf opgerolde bolle koerantpapier.

’n Mens steek die koerante aan die brand en sit jou toeknyprooster met wors of tjoppies dan op die vlamme. Dit laat die vet sommer dadelik uitbraai. Dit is juis die drup van die vet wat die vlamme aan die gang hou. Vir ’n meer tradisionele benadering kan ’n mens ook brikette of houtskool in die nuwe Swanniebraai gebruik.

PRYS: R1 295. 

NAVRAE: Web: www.takealot.com