Die staatsbegroting wat op 21 Februarie in die Parlement ter tafel gelê is, gaan koste reg deur die ekonomie laat styg en beslis ook landbouproduksie duurder maak. Daarmee saam is die staatskas onder druk en word minder belasting ingevorder as waarvoor daar verlede jaar begroot is.

Die gevolg is dat streekkantore van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) landwyd probeer om nog belasting uit veral besighede en boerderye te tap. Die manier wat hy gebruik, is om hom op die groter belastingbetalers toe te spits en hul belastingopgawes te oudit en alle bewyse van aftrekkings na te gaan.

Dié taktiek word veral met boerderye op die platteland gevolg. As jy belastingopgawes en BTW-opgawes volgens die letter van die wet nagaan, is daar natuurlik indieningsdispute by die meeste en word daar sommer boetes en rente in ’n oogwink gehef. Daar is ook steeds klagtes dat hy sloer met terugbetalings van BTW en inkomstebelasting.

Skynbaar word terugbetalings nie meer outomaties gedoen nie. Jy as ’n belastingbetalende entiteit moet glo vra dat die SAID jou terugbetaal. Dit is toenemend belangrik dat boere hul belastingbeplanning en -opgawes in orde kry, want ten spyte van die lippetaal dat ekonomiese groei en belegging aangemoedig moet word en dat sake vir kleinsake makliker gemaak gaan word, blyk die teendeel in die praktyk waar te wees.

Verwag ook dat boere as grondeienaars die skyf gaan word, want met al die dreigemente van grondonteiening is boere toenemend in die kollig van ANC-kaders in hul daaglikse werk. Die stelling is al in die verlede gemaak dat byvoorbeeld kapitaalwinsbelasting ’n groot bedreiging vir die voortbestaan van familiebesighede inhou as die sakestruktuur en testament van die familie nie baie deeglik gedoen is nie.

Ek vind ook toenemend dat boere deur finansiële adviseurs onder druk geplaas word om groot versekeringskontrakte uit te neem om voorsiening te maak vir boedel- en kapitaalwinsbelasting. Dit is na my mening ’n kortpad wat vol duwweltjies kan wees. Die regte prosedure is om eers ’n ordentlike langtermyn-familiebesigheidsplan op te stel waarin uitbreidings in die besigheid, wie waar betrokke wil wees en by watter vertakkings hulle in die toekoms betrokke wil raak, deeglik uiteengesit word.

Ons vind dikwels dat seuns en dogters ná ’n aanvanklike loopbaan in die stad by die boerdery betrokke wil raak. Hierdie sake moet eers uitgepluis word. Dan moet die besigheidstruktuur daarby aanpas word. Daarna kan die finansiële beplanning en aftreevoorsiening gedoen word.

In ander lande, soos Kanada, koop die kinders stelselmatig aandele in die boerdery van hul ouers, wat beteken hulle betree die besigheid in fases. Dit dien ook as aftreefonds vir die ouers.

BOEDELBELASTING EN VEE

Boedelbelasting is verhoog. Waar die belasbare waarde (ná aftrekkings) minder as R30 miljoen is, is die koers ’n vaste 20%. Op boedels van meer as R30 miljoen is die koers 25%. Dit verg nie veel vir ’n boerdery (byvoorbeeld ’n saaiplaas van 1 000 hektaar waar die grond op die man se naam is), om om die R30 miljoel-kerf verby te steek nie.

Onthou, die belasting is op die markwaarde betaalbaar. Die hoeveelheid skuld teen die boedel is nie ter sprake nie. Daar is sekere kortings wat ’n mens kan aftrek, maar in die algemeen kan dit erfgename lelik knou, want die boedelbelasting moet betaal word voor skuld gedelg kan word.

Ek dink jy moet twee keer dink voor jy ’n besigheid en besigheidsbates in jou eie naam registreer indien jy bates het wat groei. Dit is weereens belangrik om ’n langertermynplan te hê ingevolge waarvan erfgename of nuwe toetreders geleidelik begin “oorneem”.

Die ander aspek wat in die afgelope jaar bygekom het, is dat los bates, soos vee, teen markwaarde in die boedel ingebring word en nie teen standaardwaarde nie.

Die standaardwaarde op ’n bees is iets soos R60. As jy ’n speenkalf het, kom dit teen markwaarde in jou boedel, wat die bedrag dan maklik na R9 000 tot R10 000 per bees laat styg. Dit verhoog die belasbare bedrag in die boedel sommer baie vinnig na ’n aardige som. Baie boere het ook deesdae aandele in skaars wild, waar die som ook vinnig die hoogte in skiet.

KAPITAALWINSBELASTING

Ek meen die impak van kapitaalwinsbelasting met die verkoop van bates word erg onderskat. Onthou, jou basiskoste is die aankoopprys of die prys toe die bate in jou finansiële state opgeneem is. Kapitaalwinsbelasting bestaan seker nou al 20-25 jaar lank.

Dink net met hoeveel het jou plaasgrond, dorpswoonstel of aandele se waarde gegroei. Indien erfgename besluit om die boerdery te staak en die grond te verkoop, word die groei met 18% belas. Dit word deel van jou belasbare inkomste (dit geld vir private persone en spesiale trusts, terwyl maatskappye se koers 22,4% is en dié vir ander trusts 36%).

Weereens is die skuld nie ter sake nie. En as die kapitaalwinsbedrag by jou belasbare inkomste gevoeg word, stoot dit jou belastingkoers baie vinnig na die maksimum op. Die uitwerking van kapitaalwins- en boedelbelasting gaan in die komende jare tot gevolg hê dat bates nie meer verkoop kan word nie of in jou eie naam gaan wees as jy sterf (sonder om ’n groot deel aan die staat af te staan).

Baie minder plaasgrond gaan vorentoe op die mark kom. Jy gaan doodgewoon net te veel aan die staat afstaan in die vorm van belastings. Dit is reeds die geval in Amerika. Saaiboere daar besit sowat een derde van hul boerderygrond. Die res is huurgrond van eienaars wat al ’n geslag of drie nie meer boer nie, maar nie kans sien om die belasting met die verkoop van die grond aan die staat te betaal nie.

Daarom vind jy ook toenemend dat boere in Amerika, Kanada en Australië van kontrakteurs gebruik maak en nie meer bates, soos masjinerie, self hoef te besit nie. Jy moet net die gebruiksreg kan kry.

SKENKINGSBELASTING

Indien jy jou bates aan jou erfgename of iemand anders wil skenk, is dit ook nie so eenvoudig nie. Belasting op skenkings word gehef teen ’n vaste koers van 20% van die waarde van die eiendom wat geskenk word. Indien die skenking egter bo R30 miljoen is, is ’n vaste koers van 25% ter sprake is.

Daar is wel toegewings, soos dat jy jaarliks kleiner bedrae kan skenk (dit kan werk as jy dit oor ’n lang tyd doen). Dit is maar klein en los nie regtig die probleem op nie.

MARGINALE BELASTINGKOERS

Die marginale belastingkoers is ook verhoog. Indien jou belasbare inkomste as ’n individu R1,5 miljoen is, gaan jy R532 041 belasting betaal tot op R1,5 miljoen, en vir elke rand daarna gaan die staat 45c van jou vat! Jou toelaatbare aftrekkings raak ook al hoe minder.

Dit klink na groot bedrae, maar vir ’n boer of ’n ander ondernemer wat risiko’s loop en sy alie af werk, is dit baie ontmoedigend. Jy is ook ’n voorlopige belastingbetaler en moet in werklikheid jou belasting vir elke belastingjaar vooruit betaal. Dit kan jou kontantvloei erg omkrap. As jy nie betyds betaal nie, is boetes en rente jou voorland.

BTW, BRANDSTOFHEFFING

Die BTW-koers styg van 1 April vanaf 14% tot 15%. Enige mens of besigheid wat belasbare dienste of produkte van meer as R1 miljoen per jaar lewer, moet vir BTW-opgawes registreer. Indien die waarde van die dienste of produkte R50 000 tot R1 miljoen per jaar is, kan jy aansoek doen om vrywillig te registreer.

Daar is sekere produkte wat ’n nulkoers het (veral voedselprodukte in die kleinhandel), maar ook landbouprodukte wat kwytgeskeld is. In laasgenoemde geval moet jy die mense aan wie jy voorsien, se BTW-registrasies op lêer hê by jou, anders is dit “onwettig” as jy nie BTW hef nie. Daar is groot teenkanting teen die BTW-verhoging, maar die feit is arm mense kry ’n hele lys basiese voedselprodukte BTW-vry.

Die grootste voordeel is dat alle inkomste wat verdien word en waar inkomstebelasting ontduik word, in ’n stadium bestee moet word. Só betaal almal op ’n gelyke voet belasting. Dan is daar die styging van 52c/liter in die brandstofheffing. Sowat die helfte van die brandstofprys bestaan uit heffings en belastings.

Skynbaar verhoog die dieselkorting darem ook vir die boere wat dit gebruik. Ten slotte, die feit is dat die belastinglas drasties toeneem, veral op die entrepreneuriese deel van die bevolking. Jy dink jy gaan woeker, bates opbou en dit teen ’n wins verkoop, maar dan vat die staat ’n groot hap. As jy dit skenk, is dit ook so.

En as jy “ryk” doodgaan, gaan nog ’n deel na die staat. Natuurlik is daar planne binne die wet om jou las te verminder, maar dan moet jy bereid wees om eerstens ’n baie goeie besigheidstruktuur daar te stel (wat tyd kos). Tweedens moet dit geskoei wees op jou familiebesigheidsplan op langer termyn en moet dit ten doel hê om familiebates teen die staat te beskerm.

Dan is ’n goeie ouditeur onontbeerlik. Dit is kortsigtig om hierop te wil bespaar en dan vang Jan Taks jou later en stroop die boedel sodat die staat jou harde werk kan verkwis