Sowat ’n week voor vanjaar se wenners in Graan SA se kompetisie vir Graanprodusent van die Jaar aangekondig is, was mnre. Johan en Dirkie van As van die plase Kinko-Opstal en Kinko by Swellendam ietwat onseker oor hul kans om te wen. Hulle het immers met formidabele boere, wat baie groter as hulle boer en toegang tot genoeg besproeiingswater het, meegeding.

“Ons kan net opkyk vir water. Ons moet bid vir elke druppel wat val,” het Dirkie toe opgemerk. Johan en Dirkie besef die waarde van skaal by graanverbouing in die Wes-Kaap en skroom nie om grond by te koop of te huur nie. Sodra die kontrakte geteken is, begin hulle dadelik die grond benut volgens die standaarde wat hulle aan hul eie grond stel.

Al het die huurgrond gehelp dat die boerdery sedert 2007 met 70% groei, verg dit harde werk om grond waarvan hulle die geskiedenis nie ken nie op te bou. Dit gee hulle groot bevrediging om die transformasie van huurplase te sien. Huurgrond het boonop gehelp om die skaal van hul boerdery te vergroot en kapitaal te bekom om gesogte plase wat naby hulle in die mark kom, te koop.

Johan sê die belangrikste van kontanthuur is om te sorg dat die kontrak reg is. “Jy moet ’n klousule in die kontrak hê wat jou die reg tot eerste weiering gee om te koop of te huur. Dan het jy darem ’n voet in die deur.”

Mnre. Dirkie, AJ en Johan van As. FOTO: AMELIA GENIS

LUSERN IS KONING

Reënvalsyfers oor baie jare toon dat die hoogste reënval in Oktober of November kan wees. “Ons ma sê altyd ons bly in ’n deur-die-jaar-reëngebied. Dis hoekom ons wêreld so ideaal is vir lusernweiding,” sê Johan. Johan en Dirkie sê die doel met hul wisselboustelsel is weiding en hooi in goeie jare. “Ons is eintlik mos maar veeboere wat saai vir ons skape.”

Dis duidelik dat lusern ’n belangrike rol in hul boerdery en wisselboubesluite speel. Dirkie sê hul buurman sê altyd mooi lusern gee mooi graan. “Lusern is die beste gewas om grond op te bou.” Hulle beskou lusern as permanente weiding, maar plant ook hawer vir weiding en kuilvoer op hul grond met ’n lae potensiaal.

Johan sê hulle volg ’n 12-jaarrotasie met kontantgewasse vir sewe tot nege jaar en drie tot vier jaar lusern. Dirkie sê in die laaste lusernjaar bekamp hulle grasonkruide, doen ’n diep bewerking op die lande en stel die grond reg. “Dan trek ons weg met koring.” In hul hoëpotensiaalkampe sal hulle ’n wisselboustelsel van koring-koring-gars-kanola-koring-gars-kanola en koring met lusern onder gesaai volg.

Spesifieke kampe kan ook “wys” dat hulle liewer ’n stelsel van koring-gars-gars-kanola-koring-koring-gars-kanola en koring met lusern onder gesaai moet toepas. In die kampe met ’n mediumpoten- siaal sal hulle vyf jaar lusern en vyf jaar kontantgewasse verbou. Al is die opbrengspotensiaal van hul laepotensiaalkampe ’n derde tot die helfte laer as die hoëpotensiaalkampe, doen hulle hul bes om die kampe se potensiaal te verbeter.

RISIKO VERLAAG

Hulle het verskillende maniere om risiko te verminder en die moontlikheid van onnodige foute uit te skakel. Hulle besoek die webwerf www.tankmix.com om te sien watter spoorelemente en onkruid- en swamdoders saam gespuit kan word. Dirkie sê hulle plant die langgroei-koringkultivars, soos SST 087, SST 0117 en SST 047 in die hoëpoten- siaalgrond en in die droër gebiede ’n korter groeier, soos SST 056.

“By die gars het ons nie ’n wye kultivarkeuse nie, maar ons probeer om logistieke redes een kultivar op ons grond aan die een kant van die dorp te plant en die ander kultivar aan die ander kant. Daar kan gou ’n fout kom en dit help met die deurmekaarraak tydens plant- en oestyd.”

Die Van As-broers se skaapvertakking bou voort op die Kinko-Merinostoetery wat hul pa in 1965 begin het.

EINTLIK SKAAPBOERE

Al het sommige boere in hul omgewing van hul vee ontslae geraak, verkies hulle om met skape en graan te diversifiseer. Hulle stem saam met die buurman wat sê sy skaapvertakking betaal sy rekeninge. Dirkie sê die skaapvertakking sorg vir kontantvloei. “Kontantvloei is mos die belangrikste. As jy dit nie bestuur nie, kan jy in die moeilikheid kom. Ons glo dié wêreld is goed vir skaap- én saaiboerdery.”

Hy gee toe dat dit maklik kan wees om die skape te verkoop en net te saai. “Jy kan minder werkers aanhou en as jy reg gemeganiseer het, kan jy lekker boer. “Skaapboerdery verg baie aandag en werk en jy moet ingerig wees daarvoor, maar soos die wol- en vleisprys nou is, vaar jy mos goed.”

Hulle is versigtig. “Baie mense glo daar kan nie meer ’n swak jaar kom nie. Maar as so ’n jaar kom en daar is nie ’n opbrengs nie en die graanprys is laag, is dit twaalf maande voor jy weer gaan oes. Dis hoekom ons ’n gemengde boerdery het en hoekom ons besigheid so lekker werk.”

MERINO’S EN KRUISLAMMERS

Hul pa, Albertus, het die Kinko-Merinostoetery in 1965 gestig. Johan sê hy het ramme en ooie by die Minnaars en Rendo Pienaar van onderskeidelik Graaff-Reinet en Nieu-Bethesda gaan koop. Die stoetdiere en die eerste kudde van rasegte Merino-ooie maak 55% van die totale getal ooie uit. Hulle het ’n tweede kudde waarin hulle Merino-ooie en Dormerramme paar vir kruislamproduksie.

Hulle het tot 2010 hul eie produksieveiling gehou, maar dit het te veel tyd en energie geverg. Deesdae verkoop hulle jaarliks ses tot tien ramme op die nasionale veiling op Graaff-Reinet. “So bly ons in kontak met die bedryf en die res van die bedryf sien wat jy koop, en jy kry blootstelling,” sê Johan.

Ooie in die stoetery en eerste kudde lam een keer per jaar en die tweede kudde is op ’n agtmaandestelsel. Aangesien hulle groot kuddes het, kan hulle streng selekteer met behulp van die stelsels wat hulle gebruik om diere te evalueer.

’n Diverse boerdery dra by tot hul sukses. As breëblaar-koolgewas speel kanola ’n belangrike rol om grasonkruid te bekamp en die grond vir koring voor te berei.

FINANSIËLE DISSIPLINE EN RAAD VAN KENNERS

Dirkie is verantwoordelik vir die graanvertakking en Johan hanteer die boerdery se administrasie. Dirkie sê die geheim van hul sukses is die finansiële dissipline en goeie rekordhouding in hul besigheid. Hulle is ook nie bang om die raad van kenners op verskillende gebiede in te win nie. “Jy kan mos nie ’n goeie boer én ’n kundige op alle gebiede wees nie. Gielie Liebenberg van BKB het altyd gesê, maak jou sterk met die sterkes.”

Hulle glo ook om nie tussen landboudienstemaatskappye rond te spring nie. “Baie boere sê hulle stap self deur hul graan. Ons kyk ook self, maar ek en Dirkie kan nie al ons hektare deurstap nie. Ons maak dus staat op die hulp wat ons van die kenners van landboumaatskappye kry, ook by veebemarking en klassering,” sê Johan. “Dis moeilik vir my om vir vyf dae te staan en na ooie se uiers en bekke te kyk.”

Oestyd sit hulle wel elkeen in sy eie stroper, want dis wanneer ’n graanboer die beste sien waar probleemkolle is en kan “hoor wat die kamp sê”, sê hulle. Hul boerdery- en boekjaar skop af met beplanning deur mnr. André Fourie, landbou-adviseur van Anker Agri. “Ons is van sy oudste kliënte. Hy help ons om die beplanning vir die boerderyjaar op te stel.

Elkeen van ons kry ’n dokument met kamprotasies, plaaskaarte, ’n begroting, die verwagte krediet wat ons van die koöperasie sal verlang, huurkoop- en verbandpaaiemente. Dit sluit ook vertakkings- en ’n kontantvloeiontleding in.” Elke maand besoek ’n klerk van Bdk Ouditeure hulle om die belasting op toegevoegde waarde en bestuurstate te doen.

Hul bestuurstate is vir minder as 30 dae op datum. Hulle het die oggend van ons onderhoud alle werklike inkomste en uitgawes tot einde Augustus op die rekenaar ingelees en met hul begroting vergelyk, sê Johan. “Vanjaar was veevoeruitgawes bo die begrote bedrag, maar die wolprys het daarvoor vergoed.” Hul ouditeure besoek hulle twee keer per jaar om te sien wat op die plaas aangaan.

“Die volgende dag lê die bestuurstate en opsomming op ons rekenaars. As al dié goed reg is, is die bank ook tevrede.”

ToekomsMOONTLIKHEDE

Johan en Dirkie van As sê hulle hou hulle nie blind vir nuwe tegnologie en praktyke nie, maar is gewoonlik nie mense wat altyd die tegnologie of praktyke eerste gebruik nie. “Laat die ander mense maar die proewe doen. Ons kyk die kat uit die boom,” meen Dirkie. AJ, Johan se oudste seun wat in Oktober by die boerdery ingeval het, sê hulle dink hommeltuigtegnologie kan in die toekoms help om byvoorbeeld te kyk of die vee se krippe genoeg water het.

Die infrarooikamera wat daarmee saam gebruik kan word, kan help met veiligheid. Dirkie sê hulle stel ook belang in toerusting wat veehantering kan vergemaklik, soos die “geute” waarin die lammers opgelig word om verskillende take te verrig. Johan sê hulle is ontvanklik vir tegnologie en sal geld bestee wanneer dit vir die boerdery die moeite werd is. Hulle dink nie dekgewasse en beheerde spoorverkeer pas nou by hul boerdery in nie.

“Ons het gemengde gevoelens oor dekgewasse vir veeweiding omdat ons lusern het, maar ons neem alles waar wat om ons gebeur.” Johan sê as hulle beheerde spoorverkeer wil toepas, sal hulle die vee moet wegvat. “Ons wil nie só boer nie.” Hulle dink ook nie dit sal op hul skuins lande werk nie. “Ons keur nie die praktyke af nie, daar is net sommiges wat nie by ons prakties uitvoerbaar is nie.”

GOEIE OESTE IN DROOGTE MET BEWARINGSBOERDERY

Johan sê met hul goeie reënval- en oesrekords kon hulle onlangs bewys wat die waarde van bewaringsboerdery in ’n droë jaar is. Met die vorige groot droogte van 2001, toe hulle nog “konvensioneel op sy heel beste” gedoen het deur te ploeg, lande te brand en nie onkruiddoder te gebruik nie, het hulle van April tot September 201 mm reën gekry.

Hulle het toe net 50 kg kanola per hektaar geoes, 650 kg/ha gars en 430 kg/ha koring. Tydens verlede jaar se droogte het hulle van 1 April tot 30 September net 198 mm reën gekry. Tog het hulle 1,27 t/ha kanola geoes, 2,7 t/ha gars en 2,5 t/ha geoes. Johan sê hy dink nie daar is beter syfers om die waarde van bewaringsboerdery in droogte te demonstreer nie.

Hulle het redelik laat na alle beginsels en werktuie van bewaringsboerdery oorgeslaan en eers in 2012 ernstig begin om planters te koop. Hulle het wel lank vantevore opgehou om lande te brand en die strooi op die lande te bewaar. Dirkie sê hulle het eers hul geld gebruik om grond by te koop en kon nie al die regte werktuie ook bekostig nie.

© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.

Navrae: Mnre. Johan en Dirkie van As, e-pos: vanasbroersedmsbpk@kinko.co.za