’n Akwaponika-aanleg, wat moontlik 2 000 kg vis en 26 000 kg groente jaarliks kan produseer, is op Vanderbijlpark geopen. Die aanleg en projek is ’n inisiatief wat gesamentlik deur Air Products Suid-Afrika en Inmed Suid-Afrika, ’n nie-winsorganisasie wat op kinders fokus, aangepak word.

Die aanleg sal aan die leerders van die Hoër Tegniese Skool Carel de Wet die kans bied om kos te produseer. Luidens ’n verklaring bied die skool landbou as ’n vak aan. Die skool se eie landbougrond word ook gebruik om kinders – meestal vanuit ’n ekonomies benadeelde agtergrond – te leer hoe om voedsel op ’n volhoubare en omgewingsvriendelike wyse te produseer.

“Daar is baie potensiaal vir akwaponika in hierdie land. Dié projek sal ons kinders leer hoe dit werk, hoe om hul eie voedsel te kweek en ook hoe om voedsel op groot skaal as kommersiële onderneming vir die skool te produseer,” sê mnr. Gawie Richter, skoolhoof.

Wat is akwaponika?
Akwaponika is 'n intensiewe voedselproduksietegniek wat akwakultuur (visboerdery) en hidroponika (om plante te kweek sonder grond) kombineer. Dit is 'n geslote stelsel waardeur die voedingstowwe vanuit vistenke gruisgroeibeddings voed. Dit dien ook as ’n filter vir die viswater wat dan skoongemaak, geoksideer en terug in die tenke gepomp word.

Die vistenke en gruisplantareas “voer” mekaar op dié sikliese en sinergistiese wyse. Die tegniek verskaf voortdurende plant- en proteïenproduksie, wat baie min invloed op die omgewing het.

“Die eenvoudige eb-en-vloed-stelsel verwyder die behoefte aan duur filters en oksidasiestelsels,” verduidelik dr. Linda Pfeiffer, hoof uitvoerende beampte en voorsitter van Inmed. “Die Inmed-akwaponikastelsel is volgens 'n modulêre ontwerp gebou wat aangepas kan word om in die beskikbare spasie te pas: Van individuele gesinseenhede tot kommersiële stelsels van verskeie groottes.”

Die stelsel
Die stelsel is die grootste wat Inmed nog in die land aangepak het. Dit het ’n ingeboude kweekhuis wat sal verseker dat vis- en groenteproduksie regdeur die koue seisoene kan voortgaan. Pfeiffer sê dit dra by tot die volhoubare produksie.

Dit is die eerste projek wat die twee instellings saam aanpak. Mnr. Josua le Roux, hoofbestuurder van sentrale ondersteuning by Air Products Suid-Afrika, sê hulle het by die projek betrokke geraak omdat die ontwikkeling van volhoubare voedselstelsels ’n groter en ernstiger uitdaging word.

Hy sê die stelsel fokus daarop om tegnologie na die grondvlak te bring en hulle is baie opgewonde om deel daarvan te wees. “Projekte wat op kinders se gesondheid en ontwikkeling focus, lê ons baie na aan die hart. Ons hoop dat dié projek 'n hele nuwe generasie boere sal inspireer en oplei.”