Vraag

Ek besit ’n plaas naby Swartwater in Limpopo en het elke jaar probleme met elandsboontjie. Die plaas was baie erg oorbewei toe ek dit drie jaar gelede gekoop het, maar dit het intussen taamlik herstel. Ek het al verskeie verskillende soorte gif, soos Roundup en Impala, gebruik om die probleem te probeer hokslaan, maar tot dusver het niks gewerk nie. Wat staan my te doen?

Raad

Elandsboontjie (Elephantorrhiza elephantina) is bogronds ’n klein struikie, maar ondergronds het dit dik en lang stingels wat tot 8 m lank kan raak. Dit is met ander woorde as’t ware ’n ondergrondse boom. Die klein blaartjies bemoeilik die opname van onkruiddoders wat toegedien word, en die groot verdunningsfaktor wat die wortels bydra, maak beheer met onkruiddoders baie moeilik.

Elandsboontjie is ’n inheemse plantsoort en geen onkruiddoders is spesifiek vir die bekamping daarvan geregistreer nie. Die plant is onsmaaklik vir diere en kan klaarblyklik by tye selfs toksies wees.