In die jongste paar weke het verskeie mediaberigte verskyn waarin nieregeringsorganisasies uitgelig het hoe voedselpryse vir armer mense gestyg het. Die koste van ’n basiese mandjie voedsame kos raak vir baie gesinne ’n probleem. Daarmee saam is beroepe gedoen dat gekyk moet word na prysbeheer om voedsel bekostigbaar te hou.

Intussen het die mededigingskommissie aangekondig dat ’n perk geplaas word op die prys van knoffel en gemmer, wat niks anders is as prysbeheer nie.

Die landbou moet bedag wees op die neiging in die media, maar meer nog by die mededingingsowerhede wat begin het met die dun punt van die wig deur prysbeheer op knoffel en gemmer in te stel. Die debatte en optrede van die mededingingsowerhede moet in die kiem gesmoor word met die korrekte inligting. Die teruggryp na kommunistiese beleid moet gekeer word, want wêreldwyd is bewyse goed gedokumenteer dat prysbeheer tekorte vererger.

Daar moet liewer klem geplaas word op die onderliggende probleem om die aanbodkettings van voedsel goedkoper en mededingend te maak sodat kos so goedkoop as moontlik voorsien kan word.

Sowat 19 miljoen mense ontvang maatskaplike toelaes en tel sekerlik onder die armstes. ’n Siening wat al hoe meer veld wen, is dat ’n algemene inkomstetoelae aan werkloses en armes betaal moet word, want die informele werkloosheidsyfer is meer as 40%.

Die feit is dat die ANC-beleid koste verhoog in die ekonomie met onder meer minimum lone en die kragtariewe wat met meer as inflasie styg. Die verval van die infrastruktuur waarmee landbouprodukte na markte geneem moet word, verhoog ook koste. Dit alles beïnvloed die bekostigbaarheid van voedsel.

Internasionaal en faktore

Die Voedsel-en-landbou-organisasie (VLO) van die Verenigde Nasies publiseer maandeliks ’n internasionale indeks wat die pryse van landboukommoditeite wêreldwyd monitor. Grafiek 1 toon die VLO se voedselprysindeks en die verloop van pryse sedert 2016.

Die jongste indeks is vir Februarie 2021. Dit toon die skerpste toename in wêreldvoedselpryse sedert 2014. Dit styg al die afgelope nege maande deurlopend.

In die indeks het pryse van plantolies die meeste gestyg (in Suid-Afrika dus sonneblom en sojabone), gevolg deur graan en dan suiwel. Vleispryse het taamlik min gestyg, maar suikerpryse het van ’n baie lae vlak skerp gestyg. Die pryse word in Amerikaanse dollar gemeet.

Suid-Afrikaanse landboumarkte is baie oop. Dit is regstreeks aan die internasionale mark gekoppel deur invoer- en uitvoerpryse, en die wisselkoers van die rand.

Daar is verskeie redes vir die wêreldwye styging in landboukommoditeitspryse die afgelope jaar of twee, soos deur ontledings van die internasionale Rabobank uitgewys word. Rabobank se slotsom is dat pryse hoog gaan bly gedurende 2021. Dit kom nadat landboukommoditeitspryse reeds in 2020 met 50% gestyg het in dollarwaarde. Verdere navorsing dui daarop dat landboukommoditeitspryse tans in ’n sogenoemde supersiklus is en verder kan styg weens lae voorraad en vrees vir tekorte.

In verskeie lande het die stygende pryse daartoe aanleiding gegee dat regerings in die markte ingemeng het met nuwe beleidsmaatreëls. In baie invoerlande was daar gedurende die pandemie kommer dat voedselvoorsiening ontwrig sou word. Lande het daarom voorraad probeer opbou uit vrees vir tekorte. Daarteenoor het verskeie uitvoerlande uitvoerbelastings ingestel om uitvoer te ontmoedig en voorraad binnelands te hou.

In Suid-Afrika kla nieregeringsorganisasies al hoe meer oor die hoë en stygende pryse van voedsel. ’n Mens moet egter ’n wêreldwye tekort aan produkte onderskei van kostestygings op die binnelandse mark.

Rabobank identifiseer veral vier faktore wat ’n rol speel in die stygende neiging in landboukommoditeitspryse wêreldwyd.

Die Amerikaanse dollar is in ’n verswakkende neiging, wat beteken kommoditeitspryse styg om Amerikaanse boere se inkomste te stabiliseer. Die keersy is dat die wisselkoers van die rand die afgelope klomp maande verstewig het vanweë internasionale faktore, aangehelp deur die swak binnelandse Suid-Afrikaanse beleid. Die verwagting is dat die Amerikaanse dollar vanjaar nog taamlik sywaarts gaan bly beweeg, maar daar is kommer oor die triljoene dollars wat die Biden-administrasie in die mark inpomp, wat ook aandeelpryse opjaag.

Grootskaalse spekulasie. In Amerika het nie-landbouspekulante groot koopposisies in landboutermynkontrakte op die Chicago-graanbeurs geneem met die verwagting dat die voorraad van landbouprodukte gaan daal. Die besonder lae rentekoerse in Amerika (1-2%) laat beleggers en spekulante na alternatiewe kyk. Die probleem is natuurlik as hulle hul posisies moet ontruim, kan pryse wisselvallig word.

Slegte produksietoestande in belangrike wêrelduitvoerlande van landbouprodukte, kan uitvoervoorrade verminder. Die uiters koue winter in Amerika het die koringoes geknou. Brasilië en Argentinië ervaar droë weer vanweë die La Niña-weerverskynsel, in teenstelling met die bonormale reënval in Suid-Afrika en Australië.

Die Afrika-varkpes in China het gelei tot die grootskaalse uitslagting van sy varkkuddes. Dit het die vraag na invoer en vleispryse wêreldwyd laat styg. China het begin met die herbou van kuddes, maar eerder met baie groot kommersiële eenhede as kleinskaalse boere. Dit het die invoervraag na voergraan skerp laat styg. Intussen is Suid-Afrika se mielies en ander landbouprodukte op uitvoerprysvlakke.

Plaaslike prysstygings

Die stygende wêreldpryse van graan, oliesade en suiker werk regstreeks deur na stygende pryse op die plaaslike mark. Die jongste syfer vir voedselinflasie was 5-6% op ’n jaargrondslag, terwyl die algemene inflasiekoers net bokant 3% is.

Grafiek 2 toon die stygende neigings van voedselinflasie die afgelope tyd teenoor die algemene inflasiekoers. Die voedselpryse wat volgens Statistieke SA die meeste gestyg het, is graanprodukte, wat 5,1% duurder as ’n jaar gelede is (as ’n mens in ag neem dat wêreldpryse van koring en mielies baie skerper gestyg het), vleispryse, wat met 7,2% gestyg het vanweë die kuddeboufase van bees- en skaapboere, en die pryse van plantolies, wat sowat 10,5% hoër is (dit word weerspieël in die skerp stygings in sojaboon- en sonneblompryse).

Ondanks alles het binnelandse voedselpryse baie stadiger gestyg as internasionale voedselpryse, soos gemeet deur die VLO se voedselprysindeks.

Hou ook in gedagte dat die aandeel van die primêre produsent in die finale voedselprys in die meeste gevalle laer as 50% is. Dit is die geval met die meeste verwerkte produkte. Met brood is die produsente-aandeel minder as 20%.

Die aandeel van die primêre produsent in die winkelrakprys van ’n aantal belangrike produkte word in die tabel getoon, soos bereken deur die Nasionale Landboubemarkingsraad. Dit sal dus nie help om kostestygings te wil beheer op plaashekprysvlak nie, want kostestygings buite die plaashek is deel van die kwessie.

Die feit is die primêre landbouprodukte (grondstof) is nie die grootste aandrywer van die winkelrakprys nie. Die koste van arbeid (stygende minimum lone), elektrisiteit (baie vinniger stygings as inflasie), verpakkingskoste, vervoerkoste wat in Suid-Afrika begin problematies raak, en die marges van verwerkers en handelaars kom alles by die basiese prys.

Hoewel die internasionale pryse van verskeie basiese landbouprodukte skerp gestyg het, het dit nie ten volle deurgewerk na die plaaslike pryse nie. Dan is die veronderstelling dat die voorpraters van prysbeheer eintlik moet konsentreer op die beheer van marges buite die plaashek, wat baie moeiliker gaan wees as om te probeer om prysbeheer op landbouprodukte in te stel.

Daar is voldoende voorbeelde van lande wat prysbeheer op landbou- en voedselprodukte ingestel het. Dit het tot erger tekorte en honger aanleiding gegee het. Dit is ’n verkeerde beleidsbenadering.